Die vinnigste en kragtigste vierwiel-aangedrewe sportnuts voertuig tot nog toe is pas bekendgestel. Die Jeep Grand Cherokee -reeks is pas uitgebrei met die toevoeging van die verrigtingsmodel, die Trachkawk, wat spog met ‘n drukaagejaagde V8-enjin van 6,2 liter en toegerus is met ‘n agtgang- Torque Flite-ratkas wat aangepas is om dié enjin se wringkrag te hanteer. Die syfers van hierdie enjin spreek vanself; 522 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 875 Nm teen 4 800 opm. Volgens die vervaardiger kan die Trackhawk in 3,5 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel en ‘n topsnelheid van 290 km/h bereik.

Die ratkas is spesiaal vir die Trackhawk aangepas om reaksie op ratwisseling, werkverrigting en bestuurbaarheid te verbeter. Daarby is Jeep se Quadra Trac-vierwielaandrywingstelsel standaardtoerusting; dit sluit ‘n enkelgang-oordraratkas en ‘n elektroniese vastrapewenaar in. Daarby word die Trackhawk ook toegerus met wegtrekbeheer, wat sy werkverrigting optimaliseer deur die enjin, ratkas, veerstelsel en aandryfstelsel te koördineer en sorg dat die voertuig elke keer perfek wegtrek.

Die bestuurder kan uit vyf bestuursmodusse kies, naamlik Auto, Sport, Track, Snow en Tow, wat die bestuurder in staat stel om die voertuig na behoefte in te stel. Die verskillende bestuursmodusse beheer die aandryfstelsel, die ratkas, die ratspane, die veerstelsel en die kragstuur. Die Auto-modus is vir alledaagse gebruik en kan by enige omstandighede aangepas word. Die wringkragverspreiding is 60% vir die voorwiele en 40% vir die agterwiele. Met die Sport-modus reageer die ratkas 50% vinniger op ratwisselings, en die ratspane kan gebruik word. Die stabiliteitsbeheer, stuurstelsel en aandrywingstelsel word aangepas vir die meer geesdriftige bestuurder. Die veerstelsel word ook stywer gestel. Die Track-modus is vanselfsprekend gemik op die beste moontlike werkverrigting op die renbaan, die wringkragverspreiding is 30/70 en die reaksie van die ratkas is 68% vinniger in vergelyking met die Auto-modus. Daar is ook ‘n Custom-modus wat maak dat die motor ingestel kan word deur verskeie moontlikhede uit die voertuigstelselkombinasies te kies.

Die nuwe hoëverrigtingremme, wat deur Brembo vervaardig word, sluit die grootste remme in waarmee ‘n Jeep nog ooit toegerus is; dit sluit kenmerkende geel remknypers in. Dit maak dat die Trackhawk in slegs 35 van 100 km/h af tot stilstand kan kom. Die remstelsel, stabiliteitsbeheer, vastrapbeheer en sluitweerremme is uniek vir die Trackhawk ingestel.

Die Trackhawk se veerstelsel is een duim laer as modelle wat nie die SRT-kenteken dra nie; hy word van sy stalmaats onderskei deur middel van kleurgekodeerde uitgeboude wielboë en syskorte en ‘n uitgeboude enjinkap met twee luguitlate. Die sierrooster met sewe gate het aanpasbare bi-xenon- kopligte aan weerskante, wat omring word deur LED-ligte. Die kopligte het ‘n glansswart voorkoms om die Trackhawk van sy mindere stalmaats te onderskei en daar is geen voorste misligte nie. In die plek daarvan is twee uitlate wat lugvloei nog verder verbeter. Aan die agterkant is daar vier groot uitlaatpype wat met maksimum-versnelling vir ‘n onmiskenbare enjinklank sorg. Die Trackhawk spog met allooiwiele van twintig duim, met splinternuwe Pirelli 295/45ZR 20-bande. Die Trackhawk is in nege kleure beskikbaar.

Die binnekant is op die bestuurder gefokus, met ‘n digitale seweduim-instrumentepaneel. Daar is ‘n toereteller in die middel met die spoedmeter en ander belangrike meters onderskeidelik links en regs daarvan. Daar is Supercharged-kentekens op die voorste deure en ‘n Trackhawk-kenteken op die agterklap. Die Uconnect-raakskerm van 8,4 duim bevat inligting oor werkverrigting wat net vir die Trackhawk beskikbaar is, onder meer ‘n enjin-dinamomoeterskerm wat lesings oor kraglewering en wringkrag gee; die eienaar kan dit op ‘n USB-stokkie laai. Die driespeekstuurwiel het ‘n plat onderkant en bevat ratspane. Daar is Nappa-leersitplekke met stikwerk wat die Trackhawk-naam bevat, die voor- en agtersitplekke kan verhit word terwyl die voorstes ook geventileer is. Daar is leerstikwerk op die instrumentepaneel, deure, armleuning en konsole en ‘n panoramiese sondak is standaardtoerusting. Vir die agterste insittendes is daar ‘n vermaakstelsel met twee skerms wat Blu- Rays kan speel. Die Harman Kardon-klankstelsel lewer 825 watt en het negentien luidsprekers. Die Trackhawk beskik oor veiligheidskenmerke soos ‘n waarskuwing wanneer ‘n botsing kan plaasvind, blindekolmonitor asook ‘n sensor wat die bestuurder waarsku as iemand agter die voertuig verby beweeg, ‘n sensor wat waarsku wanneer ‘n botsing mag plaasvind en wat die erns van die botsing tot die minimum beperk, ‘n waarskuwing wanneer die bestuurder per abuis uit sy of haar baan op die oop pad beweeg, aanpasbare spoedbeheer en noodremhulp.

Die inligting-en-vermaakstelsel is ten volle versoenbaar met Apple Car Play en Android Auto, en gee die insittendes toegang tot Google Maps, wat navigasie met stembeheer insluit, Google Play en Google Search, wat met stembeheer werk.

Die prys van die Trackhawk is R 2 199 900.

%d bloggers like this: