Met die vrystelling van die Haval H2 in Mei vanjaar, het die Suid-Afrikaanse motormedia dit as die beste Chinese voertuig wat tot dusver hier bekendgestel is, beskryf.

Nou is die reeks, wat ook uit die H1 en die H6-sportnutsvoertuie bestaan, uitgebrei met die bekendstelling van die H6 C-model. Die C in die H6 C se naam staan vir coupé, maar dit is nie die enigste verskil tussen hom en die H6, wat eers as ‘n GWM-model hier bekendgestel is en nou onder die Haval-naam bemark word, nie. Die H6 C het ook ‘n turbo-aangejaagde tweeliterenjin met vier silinders wat 140 Kw en ‘n wringkrag van 3120 Nm  tussen 2 000 en 3 600 opm opwek.

Daar is ‘n keuse tussen ‘n hand- en ‘n outomatiese ratkas, elk met ses gange. Die outomatiese weergawe beskik oor ‘n tikratfunksie en spane agter die stuurwiel.

Daar is drie spesifikasievlakke beskikbaar, naamlik die City, die Premium en die Luxury. Die City is die intreevlakmodel, maar is nogtans goed toegerus en het onder meer outomatiese ruitveërs en kopligte, ‘n ritrekenaar, ‘n tru-kamera, wegtrekbeheer teen steil opdraandes, enjinremming teen afdraendes en klimaatbeheer. Die Premium het alles wat die City-model het asook elektries-verstelbare bestuurdersitplek, vier bykomende lugsakke, ‘n banddrukmonitor en leerbekleedsel by. Die Luxury is, soos die naam aandui, die luukse model in die reeks. Behalwe die toerusting van die twee goedkoper modelle, het dit ook  negentien duim allooiwiele en ‘n panoramiese sondak.

Die pryse van die verskillende Haval modelle is soos volg:
H6 C 2,0 City-handrat R 329 900
H6 C 2,0 Premium-handrat: R 339 900
H6 C 2,0 T Luxury-handrat: R 359 900
H6 C 2,0 T City DCT (Outomaties): R 359 900
H6 C 2,0 T Premium DCT (Outomaties) R 369 900
H6 C 2,0 T Luxury DCT (Outomaties) R 389 900

Die hele reeks word gerugsteun deur ‘n waarborg van vyf jaar of 100 000 km en ‘n diensplan van vyf jaar of 60 000km.

Sien ook Haval SA gee Ondersteuning aan SA GWM-eienaars.