Sedert GWM (Great Wall Motors) in 2007 tot die Suid-Afrikaanse mark toegetree het, is meer as 55 000 eenhede van dié maatskappy se voertuie verkoop.

Die meeste hiervan was bakkies en baie van hulle is nog op ons land se paaie. Nou het die maatskappy besluit om eienaars van voertuie wat nie meer onder waarborg is nie, by te staan. Wanneer jy jou GWM, wat in 2013 of vroeër vervaardig is en nie meer deur ‘n waarborg gedek word nie, by ‘n gemagtigde GWM-handelaar laar versien, kry jy 10% afslag op alle onderdele en arbeid. Dis egter nie al nie; met elke vierde diens is onderdele heeltemal gratis. Daar is ook ‘n afslag van 50% beskikbaar op onderdele vir herstelwerk.

Daar is nie veel voorwaardes hieraan verbonde nie; die voertuig se waarborg moet net nie meer geldig wees nie en agtereenvolgende dienste moes deur ‘n GWM-handelaar uitgevoer word. Hierdie aanbod is slegs geldig vir geskeduleerde dienste en  voertuie met verlengde diens- of onderhoudsplanne is uit die aard van die saak hierby uitgesluit.

Soos GWM, wat nou as Haval SA sake doen, verduidelik, is dit een manier om die Suid-Afrikaanse publiek te bedank vir die ondersteuning die afgelope dekade.

%d bloggers like this: