Breaking News

Haval stel sy nuwe H6 bekend

Kort op die hakke van die splinternuwe Joilon het Haval pas sy nuwe H6 in Suid-Afrika bekendgestel.

Die H6, wat op dieselfde onderstel van die Jolion gebou word, vervang die vorige H6 asook die H6C, en neem sy plek bokant die Jolion in Haval se Suid-Afrikaanse reeks in.  Hoewel dit reeds die derde geslag H6 is, is dit die tweede een wat in Suid-Afrika beskikbaar is aangesien die tweede geslag nooit in regterhandstuur vervaardig is nie. 

Die hele reeks word aangedryf deur ‘n tweeliter-turbo-petrol enjin met regstreekse inspuiting  wat gekoppel word aan ‘n sewegang- 7DCT-ratkas met ‘n ronde ratkieser met ratspane soos wat die Jolion met dieselfde ratkas gebruik. Die H6 se enjin lewer 150 kW teen 6 000-6 300 opm en wringkrag van 320 Nm teen 1 500-4 000 opm. Vir die eerste keer is die H6 ook met vierwielaandrywing beskikbaar, maar dit is ‘n permanente aandrywingstelsel sonder ‘n laestrek-ratkas.

Altesaam vier modelle met drie spesifikasievlakke sal beskikbaar wees. Die intreemodel is die Premium wat met onder meer die volgende kenmerke toegerus word: allooiwiele met 225/60 R 18-bande, ‘n elektroniese parkeerrem, sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie, ‘n 10,25 duim raakskerm met Android Auto en Apple Car Play, twee USB-kragpunte elk voor en agter, ‘n digitale instrumentepaneel, enkelsone-lugversorging, ‘n koordlose selfoonlaaier  en vier bestuursmodusse. 

Die middelste spesifikasievlak is die Luxury, wat met voor-en vierwielaandrywing beskikbaar is. Die vierwielaangedrewe model beskik oor ‘n bykomende veldry-bestuursmodus en die volgende bykomende kenmerke is standaardtoerusting: dakspore, ‘n panoramiese sondak, outomatiese dubbelsone-lugversorging en vensters wat met behulp van afstandbeheer toegemaak kan word. Die Super Luxury is net met vierwielaandrywing beskikbaar en beskik ook oor tien luidsprekers, ‘n kragpunt vir ‘n paneelbord-kamera, ‘n 12,3 duim raakskerm  en ‘n 12 volt-kragpunt in die bagasieruim.

Die H6-reeks word met verskeie veiligheidskenmerke toegerus, onder meer ses lugsakke, ‘n banddrukmonitor, vastrap- en stabiliteitsbeheer, wegtrek- en afdraandehulp, parkeersensors voor en ‘n trukamera. Die Premium se trukamera word in die Luxury en Super Luxury vervang deur ‘n 360 grade kamera; die Luxury se bykomende veiligheids-kenmerke sluit aanpasbare spoedbeheer met verkeers-knoophulp, padtekenherkenning, baanhouhulp en baandwaal-waarskuwing  in.  Die Super Luxury word ook toegerus met ‘n blindekol-monitor met dwarsverkeer-waarskuwing agter, asook ‘n uitleespaneel tussen die voorruit en die instrumentepaneel.

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 100 000 km en ‘n diensplan van vyf jaar of 60 000 km insluit, lyk só:

H6 Premium : R 419 900

H6 Luxury: R 454 900
H6 Luxury 4 WD: R 479 900

H6 Super Luxury 4 WD: R 514 900

 

%d bloggers like this: