Breaking News

Hibriede-kragbron voortaan standaardtoerusting vir Lexus UX

In 2019 is ie Lexus UX vir die eerste keer in Suid-Afrika bekendgestel; destyds met die keuse van ‘n petrol- en hiberiede-kragbron.

Lexus Suid-Afrika het egter pas bekendgemaak dat die petrol-modelle aan die reeks onttrek is en dat die UX voortaan net met ‘n hibriede-enjin beskikbaar sal wees. Die UX is die intreemodel van Lexus se sportnuts-voertuigreeks en sy naam is afgelei van Urban Crossover, aangesien dit as ‘n stedelike oorkruismotor beskou word. Die UX word die twee Lexus-modelreeks wat net met hibriede-krag beskikbaar is; die eerste een was die nuwe IS.

Die nuus dat die hibriede-kragbron voortaan standaardtoerusting vir die UX sal wees, beteken dat die UX 200  EX en F-Sport nie meer beskikbaar sal wees nie. Die reeks sal voortaan bestaan uit die UX 250h EX en SE , wat albei aangedryf word deur ‘n tweeliter-petrol enjin wat op sy eie  107 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 188 Nm teen 4 400 opm lewer. Die elektriese kragbron verhoog die algehele kraglewering tot 135 kW. Die gemiddelde brandstofverbruik van die UX 250h-modelle is 4,5 liter per 100 km. 

Albei modelle beskik oor drie bestuursmodusse , naamlik Normal, Eco, vir maksimum brandstof-doeltreffendheid en Sport, wat vir  vinniger versnellerreaksie en verhoogde kragstuurgevoel sorg. Altesaam agt lugsakke is standaard toetrusting, naamlik vir die bestuurder en voorste passasier, sitplek-lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier en gordyn-lugsakke van voor tot agter. Die hele reeks word toegerus met parkeersensors met ‘n trukamera, sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie, tweevoorste en twee  agterste USB-kragpunte, elektriese werking vir die agterklap en satelliet-navigasie, tesame met alledaagse kenmerke soos ‘n banddruk-monitor, spoedbeheer, outomatiese ruitveërs  en  elektries verstelbare, verhitbare  en wegvoubare buitespieëls. Die SE voeg ‘n aantal veiligheids-kenmerke by, soos aanpasbare spoedbeheer, voorbots-waarskuwing, ‘n blindekol-monitor, baandwaal-waarskuwing met baanhouhulp, ‘n panoramiese kamera en kopligte met outomatiese hoëstraalwerking in. Daarby is ‘n Mark Levinson-klankstelsel met dertien luidsprekers, ‘n verhitbare stuurwiel, ‘n geheuefunksie vir die elektries verstelbare bestuurdersitplek  en geventileerde voorsitplekke  standaardtoerusting  vir die SE. Albei modelle word met allooiwiele met 225/50 RF 18-bande toegerus.

Die pryse van die twee UX-modelle , wat ‘n waarborg en onderhoudsplan van sewe jaar of 105 000 km insluit, is R 719 600 vir die EX en R 795 800 vir die SE. Dit is effens minder as die vorige pryse van R 734 000 en R 811 700 van die vorige modelle.

%d bloggers like this: