Sedert hul bekendstelling verlede jaar het die Toyota Hilux en Fortuner hul onderskeie marksegmente oorheers, maar tog was daar ‘n paar gapings in beide reekse. Nou het Toyota Suid-Afrika besluit om daardie gapings in die mark te vul.

Die nuwe model in die Fortuner-reeks is op openbare aanvraag bygevoeg, naamlik ‘n 2,4 GD 6 4×4 wat standaard met ‘n outomatiese ratkas toegerus is. Dit beteken dat ‘n mens moeiteloos in die veld met hierdie voertuig kan ry, maar ook teen ‘n meer bekostigbare prys. Daarby is die veiligheidfspesifikasies van die 2,4 GD-6- en 2,7-modelle verbeter deurdat kant- en gordynlugsakke ook nou standaardtoerusting is. Die hele Fortuner-reeks word toegerus met stabiliteitsbeheer, wegtrekhulp teen steil opdraandes en sleepwaswaaibeheer.

Die 2,8 GD-6 en V6-modelle is reeds goed toegerus, maar die halogeenkopligte is met LED-ligte vervang. Die agterklap word ook nou voortaan elektries beheer en daar is ‘n 220 volt-kragpunt wat vir bybehore gebruik kan word.

Die Hilux-reeks is meer omvattend uitgebrei en al hoe meer modelle sal voortaan ook met outomatiese ratkaste beskikbaar wees.  Die Hilux was die eerste eentonbakkie wat met ‘n outomatiese ratkas beskikbaar was toe die De Luxe-weergawe van die tweede geslag in 1974 in Suid-Afrika op die mark gekom het, maar dié opsie is eers weer jare later beskikbaar gestel en dit het toenemend gewild geword.  Die enkelkajuitreeks word uitgebrei met die toevoeging van ‘n 2,4 GD-6 SRX met ‘n outomatiese ratkas en twee 2,8 GD-6 Raider-modelle, naamlik ‘n 4×2 en ‘n 4×4.

Die Xtracab is die model wat steeds twee sitplekke het, maar ‘n groter kajuit en twee deure wat agter geskarnier is en toegang tot die ekstra kajuitruimte vergemaklik. Hierdie reeks word uitgebrei met die toevoeging van twee modelle met ouotmatiese ratkaste, naamlik die 2,8 GD-6 Raider 4×2 en 4×4.  Daar is een nuwe dubbelkjuitmodel, naamlik die 2,4 GD-6 SRX 4×4 met ‘n outomatiese ratkas.

Die SRX- en Raider-modelle het hierbenewens ook ‘n paar bykomende kenmerke as standaardtoerusting. Die enkelkajuit- en Xtracab SRX- en enkelkajuit Raider-modelle kom voortaan met sleepwaswaaibeheer, stabiliteitsbeheer en wegtrekhulp. Daar is nuwe misligte vir die SRX-modelle. Die Raider-modelle se spesifikasievlak is ook verhoog. Nuwe 18 duim-allooiwiele is nou standaardtoerusting, tesame met nuwe LED-kopligte. In antwoord op eienaars se terugvoer is die doekstofmateriaal vir die deurbeslag en armleunings vervang met geharde opgestopte uretaanafwerking vervang terwyl die middelkonsoledeksel van die Raider-modelle nou in sagte leer afgewerk is. Die Raider-modelle kry ook die 220 volt-kragpunt.

Die twee dieselenjins wat vir hierdie modelreekse, asook die Fortuner, gebruik word, bly onveranderd. Die 2,4 GD-6-enjin lewer 110 kw teen 3 400 opm en 400 Nm teen tussen 1 600 en 2 000 opm. Die 2,8 GD-6 lewer 130 Nm teen 3 400, maar die wringkragsyfer van die handrat- en outomatiese modelle verskil; dit is onderskeidelik 420 Nm teen tussen 1 400 en 2 600 opm en 450 Nm teen tussen 1 600 en 2 400 opm.

Die Hilux- en Fortuner-reekse word gerugsteun deur ‘n waarborg van drie jaar of 100 000km en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km.

Die pryse van die nuwe toevoegings tot die verskillende modelreekse is soos volg:

Fortuner 2,4 GD-6 4×4 Outomaties: R 506 000

Hilux 2,4 GD-6 4×4 SRX Outomaties (enkelkajuit) :R 436 800
Hilux 2,8 GD-6 Raider Outomaties (enkelkajuit): R 435 700
Hilux 2,8 GD-6 4×4 Raider Outomaties (enkeljauit) :R 497 400
Hilux 2,8 GD-6 Raider Outomaties (Xtracab) :R 462 200
Hilux 2,8 GD-6 4×4 Raider Outomaties (Xtracab) :R 525 800
Hilux 2,4 GD-6 4×4 SRX Outomaties (dubbelkajuit) : R 495 700