Ter viering van die Toyota Hilux se sukses in die Dakar-wedren, het Toyota in Julie 2019 die Hilux GR Sport, ‘n sportiewe model, by sy huidige Hilux-reeks gevoeg.

Die Hilux GR Sport is deur die Toyota Gazoo Racing ontwikkel. Gazoo Racing verteenwoordig Toyota se verenigde motorsportafdeling in verskillende dissiplines soos die Wêreld-uithouren-uitdaging (WEC), die Wêreldtydrenkampioenskap (WRC), NASCAR en die Dakar-uithouwedren. Die Hilux wat 2019 se Dakar gewen het, is in Suid-Afrika vervaardig.

Die belangrikste verandering aan die GR Sport is sy veerstelsel wat deur Gazoo Racing ingestel en verbeter is. Die skokbrekers is met ‘n enkelbuisontwerp met hersiene demping vervang en werk met verhoogde voorvering-demperverhoudings om ‘n meer sportiewe rit te bied sonder om rygerief prys te gee. Die lengte van die agterste bladvere is onveranderd gelaat om die bestaande loonvrag te handhaaf. Die ontwikkelingsopdrag het op beter verldryhantering en -stuur, verbeterde bakrolbeheer in veldrytoestande en ‘n skerper stuurgevoel op die pad te fokus.

In ooreenstemming met Gazoo Racing se kleure is die GR Sport net in drie kleure, naamlik wit, rooi en swart, beskikbaar; die enjinkap is swart ongeag die kleur.  Die vergrote heuningkoek-sierrooster doen weg met die Toyota-embleem; pleks daarvan is die TOYOTA-letters, soos op die Dakar-renvoertuig, aangebring. Die vertikale misligafwerking beskik or ‘n rooi of wit buitelyn, afhangende van die voertuig se kleur. Die swart klem word verder gevoer met die buitespieëls, die GR-gemerkte buisvormige kanttrappe, uitgeboude modderskerms en model-spesifieke allooiwiele met 265-65 R 17-bande.  Die kentekens op die agterklap is na geweerswart verander om by die res van die buitekant te pas. Daar is ook ‘n Toyota Gazoo Racing-kenteken op die agterklap.

Die GR Sport spog ook met ‘n unieke binneruim met rooi hoogtepunte wat sy sportiewe aard beklemtoon.  Daar is kontrasterende rooi stikwerk vir die swart leersitplekke en gebroduurde kentekens vir die kopstutte en matte.  Die aansitknoppie kry ‘n GR -kenteken terwyl elke GR Sport ‘n produksieplaat en ‘n plaat met sy reeksnommer aan die binnekant kry. Klavierskwart afwerking word vir die paneelbord en die deurpanele gebruik en ‘n helderrooi lyn op die paneelbord by die tema inskakel.  Die inligting-en-vermaakstelsel beskik oor ‘n skerm van agt duim wat gelyk met die paneelbord gemonteer word en draaikonoppe vir die radio se frekwensienistelling en volume het.  Daarby beskik die stelsel oor kortpadskakelaars vir sleutelfunksies asook ‘n raakvlak-koppelvlak, ingeboude satellietnavigasie en koppelvlakke vir DVD-, AUX, USB en Bluetooth. Daar is ‘n veelfuunksiestruurwiel wat met leer oorgetrek is en ‘n trukamera is standaardtoertusting. Die instrumenthuisie beskik oor wit instrumente met oranje naalde en ‘n tandratvormige motief. Tussen die spoedmeter en toereteller is daar ‘n TFT-uitleespaneel van 4,2 duim wat inligting soos brandstofverbruik, die afstand wat nog met die brandstof in die tenk afgelê kan word, die navigasieaanwysings en die kompas gee en die bestuurder kan deur middel van stuurwielkontroles toegang daartoe kry.

Die GR Sport deel sy turboaangejaagde 2,8 liter dieselenjin met sekere Raider-modelle; hierdie enjin lhet ‘n kraglewering van 130 kW teen 4 300 opm en ‘n wringkrag van 450 Nm tussen 1 600 en 2 400 opm. Daar is net een ratkas beskikbaar, naamlik ‘n outomatiese sesgangratkas met ‘n handratfunksie.  Vierwielaandrywing met ‘n lae-strekfunksie wat in die ry gekies kan word, is standaardtoerusting en die bestuurder het ‘n keuse tussen ‘n Power- en Eco-modus, wat die reaksie van die versneller en die ratwissellogika aanpas.

Die GR Sport sal net as ‘n dubbelkajuitweergawe beskikbaar wees en net 600 eenhede sal vervaardig word. Die prys, wat ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km en ‘n diensplan van 90 000 km vir nege dienste elke 10 000 km insluit, is R707 400. Die diensplan kan ook teen ekstra koste verleng word.

Die nuwe Hilux GR Sport gee erkenning aan hierdie tawwe Hilux-gebaseerde renvoertuig, wat die 2019 Dakar uithou-ren gewen het.

%d bloggers like this: