Deur die jare het Toyota al verskeie spesiale weergawes van sy topverkoperbakkie, die Hilux, op die mark gebring, onder meer die Legend 35, Legend 45 en die Dakar-weergawes. Sedert sy bekendstelling in 2016 het die nuwe geslag Hilux hom weereens as die leier in sy marksegment gevestig en om dit te kroon het Toyota SA besluit om weer ‘n spesiale weergawe met ‘n besondere nuwe vlak van afwerking aan die Suid-Afrikaanse Hilux-liefhebbers beskikbaar te stel.

Die Black-weergawe is net beskikbaar vir die 2,8 GD-6 Raider dubbelkajuitmodelle en soos in die gewone modelle is daar ‘n keuse van 4×2- of 4×4-modelle en hand- of outomatiese ratkas. Die Black-weergawes is net in wit, silwer en grys beskikbaar, maar hulle word onderskei van die ander Raider-modelle danksy die opvallende swart dak.

Daar is ook ‘n swart sierrooster en ‘n swart luguitlaat in die voorste stamper tussen die misligte. Die wielboë, buitespieëls en deurhandvatsels is dieselfde kleur as die bakwerk en unieke 18-duim allooiwiele met ‘n dubbele driespeekontwerp is standaardtoerusting. Die Black het ‘n swart rolstaaf en bakseiltjie.

Aan die binnekant is daar swart leersitplekke met silwer stikwerk, ‘n bestuurdersitplek wat met kraghulp en binnepanele met ‘n koolvesel-voorkoms. Die  Black-modelle is verder toegerus met dieselfde geriefs- en veiligheidskenmerke as die gewone Raider-modelle en hulle is meganies presies dieselfde.

Die turbo-aangejaagde 2,8 liter dieselenjin het ‘n kraglewering van 130 kW teen 4 300 opm. Die handrat-modelle het ‘n wringkrag van 420 Nm tussen 1 600 en 2 400 opm en die outomatiese modelle lewer 450 Nm tussen dieselfde omwentelinge.

Die pryse van die Black-modelle is soos volg:

2,8 GD-6 Raised Body 4×2: R 521 100
2,8 GD-6 Raised Body 4×2 Outomaties: R 538 900
2,8 GD-6 4×4: R 585 300
2,8 GD-6 4×4 Outomaties: R 604 300.

Die hele reeks word gerugsteun deur Toyota se fabriekswaarborg van drie jaar of 100 000km en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km.