Sedert sy bekendstelling in 2002 het die Hino 500-reeks groot sukses in die Suid-Afrikaanse mark vir swaar vragmotors behaal.

Hino is Toyota se vragmotorreeks en die 500 is die middelste modelreeks, tussen die middelslagreeks bekend as die 300 en die 700, wat die ekstra swaar reeks is en veral uit modelle met ‘n voorhaker en sleepwa bestaan. Nou het Hino besluit om die 500-reeks uit te brei met die bekendstelling van die Wide Cab-modelreeks, Die kleiner 500-modelle, naamlik die 1017FC (Freight Carrier), die 1324 4×4 FC en die 1324 FC en 1324 Tipper bly op die mark, maar hul spesifikasievlak sal vroeg aanstaande jaar verhoog word wanneer sentrale sluiting, lugversorging, ‘n radio net ‘n CD-speler en elektriese vernsters standaardtoerusting word.

Die Wide Cab-reeks bestaan uit drie modelreekse, die 1627, die 2829 en die 2836. Die modelbenamings is nie so moeilik om te verstaan nie; die eerste twee syfers is die vragmotor se loonvrag in metrieke ton en die laaste twee is die enjin se kraglewering in perdekrag gedeel deur tien. Die 1627 is net in 4×2-modelle beskikbaar, maar daar is ‘n keuse van twee asafstande en ‘n hand- of outomatiese ratkas. Die handratkas het ses gange terwyl die outomatiese Allison-ratkas met ses gange ‘n unieke kenmerk in sy marksegment is. Dié 1627 se enjin se verplasingsinhoud is 7 684 cc en lewer 191 kW teen 2 500 opm en wringkrag van 794 Nm teen 1 500 opm.

Die 2829 is as ‘n 6×2 beskikbaar met ‘n keuse van twee asafstande en weer eens is ‘n hand- of outomatiese ratkas beskikbaar. Hierdie modelreeks se enjin is dieselfde grootte as dié van die 1627, maar lewer 206 kW teen 2 500 opm en wringkrag van 883 Nm teen 1 500 opm. Die kragtigste modelle in  die Wide Cab-reeks is die 2836. Anders as die ander twee, is die 2836-modelle toegerus met ‘n handratkas met nege gange. Die verplasingsinhoud van die 2836 se enjin is 10 250 cc; hy lewer 257 kW teen 2 100 opm en wringkrag van 1 275 Nm teen 1 500 opm. Die FC-modelle word toegerus met ‘n brandstoftenk van 390 liter, maar dié van die modelle met wipbakke hou slegs 220 liter brandstof omdat hulle hoofsaaklik in beperkte omgewings werk.

Die binnekant van die Wide Cab spog met heelwat nuwe kenmerke. Die hele reeks het ‘n radio, lugversorging en elektriese vensters as standaardtoerusting. Die instrumentepaneel is ook nuut, en benewens die gewone wyserplate is daar ‘n digitale uitleespaneel vir onder meer die brandstofmeter en die afstandmeter. Spoedbeheer is ook standaardtoerusting en die bestuurdersitplek het ‘n lugveringstelsel vir verhoogde gerief. Daarby is die stuurkolom hoogteverstelbaar. Die trappies wat binne-in die deure ingebou is, behalwe op die  6×4-modelle wat dit buite die deure het, maak dit makliker om in en uit die kajuit te klim.

Die buite stilering van die 6×4-modelle verskil van dié van die res van die reeks in die sin dat hulle ‘n plastiekstamper, eerder as ‘n stamper met dieselfde kleur as die bakwerk, het. Die 2829- en 2836-modelle word ook standaard toegerus met ‘n kajuit wat met elektriese werking kantel, en daar is ‘n gonser wat die gebruiker laat weet wanneer dit gereed is.

Die Wide Cab is ook heelwat veiliger as die vorige modelle. ‘n Bestuurderslugsak is standaardtoerusting. Daarby het die handratmodelle wegtrekhulp teen steil hellings en die hele reeks is toegerus met sluitweerremme. Op die 2829-modelle met die opsionele lugvering  kan die veerstelsel deur middel van ‘n afstandbeheer hoër en laer verstel word om die op- en aflaai van goedere te vergemaklik. Die kopligte is heelwat verbeter sodat die bestuurder nou 80 meter ver kan sien wanneer dit aangeskakel is, eerder as die 67 meter van voorheen.

Dit is ook makliker as voorheen om enige tipe bak op die onderstel van die Hino 500 Wide Cab te monteer. Die belangrikste nuwe kenmerk is dat dit glad nie nodig is om gate te boor om enige bak te monteer nie. Dit beteken dat bougehalte hoegenaamd nie ingeboet word nie. Die nuwe onderstel is nouer agter en breër voor, en dit beteken dat groter bande vir die 500 Wide Cab gemonteer kan word. Die spoorwydte is ook wyer, wat beteken dat dit makliker is om vrag te versprei, maar die draaisirkel is kleiner as voorheen.

Die 500 Wide Cab-reeks is reeds in produksie, maar volgens Hino Suid-Afrika sal hulle eers teen November op die mark kom.