Honda BR-V vir 2020

0 Comments

Honda Motor Suider-Afrika het pas ‘n aantal detailveranderinge vir sy BR-V-sportnutsvoertuig aangekondig.

Die subtiele veranderinge is, volgens die vervaardiger, daarop gemik om sy voorkoms en veelsydigheid te verbeter terwyl bestuursgenot en gerief aandag gekry het met die toevoeging van nuwe kenmerke en geraasvermindering.

Volgens Dinesh Govender, die algemene bestuurder van Honda se motorafdeling, is die BR-V een van Honda se belangrikste modelle in Suid-Afrika en die enigste sportnutsvoertuig met sewe sitplekke in sy klas. Hy glo dit is een rede hoekom die BR-V, saam met die Amaze-sedan, een van Honda se plaaslike topverkopers is.

Die hele BR-V reeks spog met ‘n grondvryhoogte van 210 mm, wat hom geskik vir minder goeie padtoestande maak,

Aan die binnekant is daar drie rye sitplekke, waarvan die tweede en derde ry onderskeidelik in ‘n 60/40- en ‘n 50/50-verhouding verdeel word. Die middelste ry se rugleunings kan teruglê en die die kleiner deel kan vorentoe gevou word om toegang tot die derde ry te kry. Die agterste ry kan platgevou word om bagasieruimte te vergroot. Die BR-V-reeks word teen diefstal beskerm deur middel van ‘n immobiliseerder, sentrale sluiting met afstandbeheer en deure wat outomaties sluit sodra die voertuig wegtrek.  Elektriese vensters reg rondom en lugversorging is standaardtoerusting en die klankstelsel beskik oor Bluetooth-verbinding terwyl ‘n USB-kragpunt ook ingesluit is.

Die BR-V is beskikbaar met drie spesifikasievlakke. Die “Trend” is die intreemodel wat net met ‘n handratkas toegerus word. Hierdie model beskik oor kleurgekodeerde stampers en buitespieëls, kontrasterende modderskerms en swart B- en C-pilare, asook swart skermstroke onder aan die bakwerk. Die vernaamste nuwe kenmerk, wat trouens standaardtoerusting vir die hele reeks is, is herontwerpte kopligte met ligdiode-dagryligte aan die onderkant.

Die Trend word toegerus met staalwiele met volle wieldoppe en 196/65 R 16-bande.

Die effens duurder en middelste model is die “Comfort” wat ‘n keuse bied tussen ‘n hand- of palwissel (CVT)-ratkas.  Die Comfort word veral onderskei deur allooiwiele van 16 duim, terwyl agterste parkeersensors ‘n nuwe kenmerk vir hierdie model is.  Ander kenmerke wat hom van die Trend onderskei, is outomatiese lugversorging met bykomende dakgemonteerde luguitlate  tussen die voorste en middelste ry wat lug na die agterste insittendes versprei, asook hoogteverstelling en ‘n armleuning vir die bestuurdersitplek. Die elektriese venster vir die bestuurder kan met een druk van die knoppie heeltemal oop- of toegemaak word en ‘n fabrieksgemonteerde alarm is standaardtoerusting.

Aan die bopunt van die reeks is die “Elegance”, wat ook  albei ratkaste as keuse bied.  Dié model spog met ‘n volkleur-raakskerm van sewe duim met ‘n tru-kamera wat die parkeersensors aanvul. Die Elegance word van die res van die reeks onderskei deur middel van chroom-afwerking op die stampers, deurhandvatsels en skermstroke onder aan die deure asook voorste misligte.

Honda se Smart Entry-stelsel, met sleutellose toegang en ‘n aansitknoppie, is standaardtoerusting vir die Elegance.

Die pryse van die Honda BR-V-reeks, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 200 000 km, saam met ‘n verlengde diensplan van vier jaar of 60 000 km vir die Comfort en Elegance (dit is teen ekstra koste vir die Trend beskikbaar), tesame met AA-padbystand vir drie jaar insluit, lyk só:

BR-V Trend (Handrat): R 258 800

BR-V Comfort handrat: R 291 500
BR-V Comfort CVT: R 310 300

BR-V Elegance handrat: R 314 400
BR-V Elegance CVT: R 333 000

Categories:
%d bloggers like this: