Honda Motor Suid-Afrika het pas die jongste weergawe van sy Civic-sedan bekendgestel.

Soos voorheen sal die reeks uit vier modelle bestaan, naamlik die 1,8 Comfort en Elegance en die 1,5 T Sport en Executive. Al vier modelle het ‘n palwissel (CVT)-ratkas as standaardtoerusting.

Die vooraansig van die nuwe reeks kry ‘n nuut ontwerpte sierrooster, ‘n driedimensionele stamper en ander nuwe kenmerke wat die Civic se kombinasie van sportiewe en verfynde ontwerp beklemtoon. Aan die agterkant is daar chroomafwerking wat die wye en lae voorkoms van die Civic beklemtoon. Daar is ook chroomafwerking vir die voorkant van die 1,8 Comfort en die misligomhulsels van die 1,8 Elegance en die 1,5 T Executive. Die profile bly dieselfde maar die wiele is nuut ontwerp. Die 1,8 Comfort spog met sestienduim-dubbelspeekallooiwiele en die 1,8 Elegance en 1,5 T Executive word toegerus met sewentienduimwiele met grys speke.  Die Sport se karakter word beklemtoon deur swart sewentienduimwiele met donker afwerking.

Die binneruim van die nuwe Civic spog met material van hoogstaande gehalte en ‘n ergonomies doeltreffende middelkonsole en gebruikersvriendelike kontroles. Die konsole bevat onder meer die elektronies beheerde parkeerrem. Die hoë spesifikasievlakke van die vier Civic-modelle word na die nuwe modelle oorgedra. Een van die gewildste kenmerke van die Civic is die hoë resolusieskerm van sewe duim, wat die middelpunt van die digitale klankstelsel vorm. Dit is versoenbaar met verskeie slimfoonfunksies en al die modelle behalwe die Comfort is gereed vir Android Auto en Apple Car Play.  Die stelsel kan beheer word deur kontroles op die veelfunksiestuurwiel. Die raakskerm-knoppies is vervang deur harde knoppies wat makliker is om te gebruik en daar is ‘n volumebeheerknop vir die radio. Die Sport en Executive sluit outomaties wanneer die bestuurder wegloop van die motor af.

Vinnige Feng Shui. Die Honda Civic Sport se binneruim.

Die Executive word met die volgende veiligheidskenmerke toegerus: aanpasbare spoedbeheer, ‘n remstelsel wat die erns van botsings verminder, baandwaalwaarskuwing, baanhouhulp,  voorbotswaarskuwing en ‘n blindekolmonitor en -kamera.

Die twee enjins bly onveranderd. Die Comfort en Elegance se 1,8 liter-enjin sonder ‘n turboaanjaer het ‘n kraglewering van  104 kW teen 6 500 opm en ‘n wringkrag van 174 Nm teen 4 300 opm. Die Sport en Executive se turbo-aangejaagde 1,5 liter-enjin lewer 127 kW teen 5 500 opm en het ‘n  wringkrag van 220 Nm  tussen 1 700 en 5 500 opm. Albei enjins word ook toegerus met Honda se ECON-modus, wat die beste brandstof-doeltreffende betuurstyl prober naboots. Daar is ook ‘n Eco Assist-funksie’ ‘n meter wat van kleur verander namate die voertuig se brandstofverbuik toeneem of afneem.

Die hele reeks word toegerus met ABS-remme met elektroniese remverspreiding en wegtrekhulp, asook stabiliteitsbeheer. Daarby is voorste-, kant- en gordynlugsakke standaardtoerusting vir al die modelle terwyl die Elegance, Sport en Executive ook met ‘n trukamera en agterste parkeersensors toegerus word.

Die reeks kleure sluit skakerings van blou, silwer, grys en rooi in. Daar is egter ‘n nuwe skakering van wit, naamlik Platinum White Pearl wat die vorige Orchid White Pearl vervang.

Die Civic word gerugsteun deur ‘n waarborg van vyf jaar of 200 000 km, ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km en AA-padbystand van drie jaar. Dienstussenposes is elke 10 000 km vir die 1,5 T-modelle en elke 15 000 km vir die 1,8-modelle.

 

Die pryse van die nuwe Civic-reeks lyk as volg:

1,8 Comfort CVT: R 364 500

1,8 Elegance CVT: R 408 500

 

1,5 T Sport: R 474 700

1,5 T Executive: R 507 600

%d bloggers like this: