Breaking News

Honda knap C-RV vir 2022 op

Toe die Honda C-RV in die laat 1990’s vir die eerste keer bekendgestel is, was dit een van die heel eerste kompakte sportnutsvoertuie op die internasionale mark.

Die jongste geslag is in 2017 bekendgestel en is pas vir die 2022-modeljaar opgeknap. Daar is steeds twee enjins en altesaam vier modelle beskikbaar, maar anders as voorheen is voorwielaandrywing standaard toerusting vir die hele reeks.

Die belangrikste nuwe kenmerk aan die buitekant is herontwepte stampers voor en agter. Daar is steeds ‘n sierrooster met ‘n breë strook, en kopligte met dagryligte aan weerskante. Die stamper word deur dubbele luguitlate in twee verdeel. Daar is ook ‘n metaalskermplaat aan vir voorkant wat die C-RV se status as sportnutsvoertuig beklemtoon. Aan die agterkant word die ligdiode-agterligte met ‘n breë chroomstrook aan mekaar verbind en die turboaangejaagde modelle spog met sportiewe dubbele uitlaatpype wat in die agterste skermplaat geleë is. Kontrasterende skermstroke aan die onderkant van die bakwerk en swart wielboë beklemtoon die C-RV se geharde voorkoms. 

Aan die binnekant bly die TFT-instrumentepaneel met ‘n grafiese toereteller en digitale spoedmeter behoue. Daar is ‘n skerm van vyf of sewe duim, afhangende van die model; dit bied gebruikersvriendelike toegang tot die inligting-en-vermaakstelsel. Die agtersitplek beskik steeds oor ‘n armleuning wat platgevou kan word en word in ‘n 60: 40 verhouding verdeel.  Die C-RV se bagasieruim hou 522 liter met die agtersitplekke regop en 1 084 liter wanneer dit platgevou word. 

Daar is weer twee enjins, elk met ‘n CVT-ratkas, beskikbaar. Die twee goedkoper modelle word aangedryf deur die bekende twee-liter enjin wat 113 kW teen 6 500 opm en wringkrag van 189 Nm teen 4 300 opm lewer. Die ander twee modelle word aangedryf deur ‘n turboaangejaagde 1,5 liter-enjin wat 140 kW teen 5 600 opm en wringkrag van 240 Nm teen tussen 2 000 en 5 000 opm lewer. 

Twee modelle word met die twee-liter enjin toegerus. Die eerste hiervan is die Comfort, wat toegerus word met die volgende kenmerke: allooiwiele met 235/65 R 17-bande, skermplate in aluminium-afwerking voor en agter, materiaalbekleedsel, metaal-aksentpunte vir die paneelbord, ‘n vyfduim-raakskerm in volkleur, ‘n USB- en AUX-kragpunt asook twee 12 volt-kragpunte, dubbelsone-klimaatbeheer met luguitlate voor en agter, agterste parkeersensors, ‘n elektriese parkeerrem, outomatiese kopligte, ‘n trukamera en noodflikkers wat outomaties aktiveer word as daar hard gerem word.

Die Elegance is die ander model met die twee-liter enjin en voeg die volgende kenmerke by: ‘n seweduim-raakskerm met Apple Car Play, twee bykomende USB-kragpunte vir agterste insittendes asook HDMI-koppeling, elektries verstelbare en verhitbare voorsitplekke, leerbekleedsel, verhitbare buitespieëls, parkeersensors, outomatiese ruitveërs, ‘n leerstuurwiel en ratspane agter die stuurwiel.

Die Executive word deur die turbo-enjin aangedryf en spog met bykomende kenmerke soos allooiwiele met 235/60 R 18-bande, ligdiode-kopligte, ‘n aansitknoppie en sleutellose toegang. Die Exclusive is die vlagskip van die reeks, maar anders as voorheen is hy nie meer vierwielaangedrewe nie. Sy kenmerke sluit die volgende in: nuwe allooiwiele met 235/55R 19-bande, satellietnavigasie, ‘n panoramiese sondak en ‘n hoogteverstelbare elektriese agterklap.

Die hele reeks word toegerus met veiligheidskenmerke soos ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding, stabiliteitsbeheer, wegtrekhulp, voorste-, kant- en-gordynlugsakke en ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke. Die Exclusive voeg egter ‘n aantal veiligheidskenmerke by, soos aanpasbare spoedbeheer, outomatiese handhawing van volgafstand agter ‘n stadige motor, ‘n remstelsel wat die krag van ‘n botsing verminder, voorbotswaarskuwing, baandwaalwaarskuwing en baanhouhulp, kopligte met outomatiese hoërstaalwerking en ‘n banddrukmonitor. 

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 200 000 km en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km met tussenposes van elke 15 000 km vir die twee-liter modelle en elke 10 00 vir die turbo-modelle insluit, lyk só:

C-RV 2,0 Comfort: R 556 100
C-RV 2,0 Elegance: R 617 900

C-RV 1.5 T Executive: R 699 900
C-RV 1,5 T Exclusive: R 796 300

%d bloggers like this: