Sedert sy aanvanklike bekendstelling in 2015 het Honda se kruiskar, die HR-V, wat ‘n vermenging van ‘n koepee, ‘n veeldoelvoertuig en ‘n sportnutsvoertuig is, baie gewild onder Suid-Afrikaanse motorkopers geword.

Die jongste weergawe van dié model is pas in Suid-Afrika bekendgestel, maar dit behou die karakter-eienskappe wat hom so gewild gemaak het. Een daarvan is die Magic Seat-stelsel wat vir uitsonderlike ruimtebenutting sorg. Dié stelsel bevat onder meer ‘n kussing vir die agtersitplek wat teen die rugleuning opgeslaan kan word en die vervoer van groot en lang items vergemaklik. Die agtersitplek kan ook op die konvensionele manier platgevou word, wat die kapasitieit van die bagasieruim van 393 liter tot 1 002 liter vergroot.  Soos voorheen is veiligheidskenmerke soos ses lugsakke, stabiliteitsbeheer, wegtrek-hulp en noodrem-hulp standaardtoerusting vir die hele reeks.

Daar is twee HR-V modelle beskikbaar, naamlik die 1,5 Comfort en die 1,8 Elegance. Albei modelle het ‘n palwissel-ratkas met ratspane agter die stuurwiel as standaardtoerusting. Albei hul enjins is petrolaangedrewe enjins. Die Comfort se 1,5 liter enjin het ‘n kraglewering van 88 kW teen 6 600 opm en wringkrag van 145 Nm teen 4 600 opm. Die Elegance se 1,8 lieter enjin lewer 105 kW teen 6 500 opm en 172 Nm teen 4 300 opm.

Standaardkenmerke vir die hele reeks sluit onder meer elektriese vensters en spieëls, ‘n veelfunksie-ritrekenaar, spoedbeheer, ‘n veelfunksiestuurwiel, ‘n elektries beheerde parkeerrem en ‘n klankstelsel met Bluetooth-verbinding, ‘n navigasiestelsel en ‘n raakskerm van 6,8 duim vir albei modelle pleks van die skerm van vyf duim wat voorheen vir die Comfort gebruik is. Die Elegance spog ook met ‘n tru-kamera, asook leerbekleedsel met konstrasterende stikwerk. Die Comfort en Elegance het allooiwiele van 16 en 17 duim onderskeidelik as standaardtoerusting. Daar is ook ‘n paar nuwe bakkleure beskikbaar, onder meer nuwe skakerings van rooi en blou.

Die pryse van die twee modelle, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 200 00 km en ‘n diensplan van vier jaar of 60 000 km asook padbystand deur die AA van drie jaar insluit, is R 354 900 en R 419 900 vir die Comfort en Elegance onderskeidelik.

%d bloggers like this: