Toe die Honda CR-V omtrent twintig jaar gelede vir die eerste keer in Suid-Afrika bekendgestel is, was dit die eerste kompakte sportnutsvoertuig op die plaaslike mark.

 

Sedertdien is nog drie geslagte van die CR-V bekendgestel en dit het die gewildste sportnutsvoertuig ter wêreld geword. Die vyfde geslag CR-V word vandeesmaand in Suid-Afrika bekendgestel.

 

Die nuwe CR-V is heeltemal herontwerp en volgens die vervaardigers is hy heelwat ruimer as voorheen, met verhoogde been- en bagasieruimte, asook ‘n opvallende nuwe buiteontwerp. Dit is die mees gevorderde en gesofistikeerde sportnutsovertuig wat Honda tot dusver bekendgestel het.

 

Hoewel die nuwe CR-V ooglopend anders as sy voorganger lyk, is dit steeds onmiskenbaar ‘n Honda. Daar is stileringskenmerke wat herinner aan dié van die nuwe Civic, maar dit is nog steeds ‘n sportnutsvoertuig. Aan die voorkant is daar ‘n chroom-sierrooster met dun kolpigte aan weerskante. Die enjinkap vou oor die bakwerk tot byna teen die voorste modderskerms. Onder die sierrooster is daar ‘n swart luguitlaat wat deur die kleurgekodeerde voorste stamper verdeel word. Die topmodelle in die reeks word met LED- kop-en misligte toegerus.Van die kant af is die aërodinamiese voorkoms van die nuwe CR-V opvallend danksy ‘n gladde daklyn met geïntegreerde dakrelings. Aan die agterkant is daar nuwe LED-agterligfte met ‘n chroom-strook tussenin. Dit is gemonteer aan die bokant van ‘n agterklap wat tot by stamperhoogte strek. Die agterste chroomplaat huisves twee verchroomde uitlaatpype in die turboaangejaagde modelle.Daar is kontraterende swart skermstroke aan die onderkant van die bakwerk.

 

Die kajuit van die nuwe model is groter en ruimer as dié van sy voorganger danksy ‘n  langer asafstand en groter spoorwydte. Die gevolg is ‘n kajuit wat aansienlik  groter is as voorheen. Die agtersitplek is 60/40 verdeel en wanneer dit platgeslaan word, is daar ‘n plat vloer wat die vervoer van groot items vergemaklik.  Die afwerking van die binnekant is ook aansienlik verbeter met die gebruik van materiaal van hoogstaande gehalte. Een van die hoogtepunte van die nuwe biunneruim is ‘n digitale TFT-instrumentepaneel wat die konvensionele een van sy voorganger vervang. Dit bestaan onder meer uit ‘n grafiek-agtige toereteller en ‘n digitale spoedmeter. Die inligting-en-vermaakstelsel in die middelste konsole het ‘n skerm van vyf of sewe duim afhangende van die model. In die middelste mkonsole is daar ook kontroles vir die klimaatbeheerstelsel en die rathefboom vir die palwisselratkas wat standaardtoerusting vir die hele reeks is. Daar is plek onder die middelste armleuning vir los goedjies en twee bekerhouers voor dié armleuning.

 

Die meeste modelle het elektriese verstelling en verhitting vir die voorsitplekke, en volgens die vervaardigers is beenruimte agter die beste in sy klas. Met die agtersitplekke regop is daar bagasieruimte van 522 liter, wat na 1 084 liter verhoog word wanneer dit platgevou is.

 

Daar is twee enjins vir die nuwe CR-V beskikbaar. Die twee intreemodelle word toegerus met ‘n verbeterde weergawe van dieselfde tweeliterenjin met vier silinders as wat die vorige reeks gehad het. Hierdie enijin het nie ‘n turboaanjaer nie, maar is toegerus met wisselende tydklepreëling. Die kraglewering van hierdie enjin is 113 kw teen 6 500 opm en sy wringkrag is 189 Nm teen 4 300 opm. Hierdie enjin kom met ‘n palwisselratkas tandaardtoerusting. Die modelle m et hierdie enjin is voorwielaangedrewe.

 

Die groot nuus is egter die enjin waarmee die Executive en Exclusive toegerus is. Honda het verlede jaar ‘n nuwe turboaangejaagde 1,5 liter-enjin vir die nuwe Civic bekendgestel, en nou is dit ook op hierdie twee CR-V-modelle beskikbaar. Hierdie enjin, wat ook die palwisselratkas as standaardtoerusting het, lewer  Anders as in die trweelitermodelle is dié met die turboaangejaagde enjin vierwielaangedrewe. Die krag word egter net na die agterwiele gevoer wanneer padtoestande dit vereis. .Dit bied die brandstofdoeltreffendheid van voorwielaandrywing tesame met die vastrapvermoë wat nodig is om moeilike padtoestande baas te raak.  Hierdie enjin lewer 140 kw teen 5 600 opm en wringkrag van 240 Nm teen tussen 2 000 en 5 000 opm.

 

Die CR-V-reeks bestaan uit vier modelle. Die intreemodel is die 2,0 Comfort. Hierdie model se topsnelheid is 192 km/h en sy gemiddelde brandstofverbruik is 7,3 liter per 100 km. Hierdie model word toegerus met allooiwiele van 17 duim, LED-dagryligte, misligte, ‘n inligting-en-vermaakstelsel met ‘n skerm van vyf duim en USB- en AUX-sokke, Bluetooth-verbinding en vier luidsprekers. Die buitespieëls is elektries verstelbaar en ‘n elektriese parkeerrrem is standaardtoerusting. Die veelfunksiestuurwiel gee toegang tot die klankstelsel, spoedbeheer en die bestuurder se slimfoon, sonder om ‘n mense hande te verwyder. Onder die veiligheidskenmerke waarmee hierdie model toegerus is, is noodflikkers wat outomaties geaktiveer word as daar hard gerem word, asook outomatiese kopligte. Daar is  voorste-, kant-en gordynlugsakke en ISOFIX-hegpunte op die agtersitplekke, asook wegtrekhulp en stabiliteitsbeheer. Die hele reeks word ook toegerus met ‘n stelsel wat die bestuurder waarsku as hy of sy besig is om moeg te word of nie volle aandag op die pad gee nie.Hierdie data word deur die kragstuur verwerk en waarskuwings word op verskeie maniere gegee, eers deur ‘n waarskuwing op die instrumentepaneel en later deur middel van ‘n hoorbare alarm.

 

Die Elegance is die ander model met die tweeliterenjin, maar daar is ‘n paar bykomende kenmerke wat hom van die Comfort onderskei. Die Elegance word toegerus met leerbekleedsel en die skerm van die inligting-en-vermaakstelsel is sewe duim groot. Dié stelsel is versoenbaar met Apple Car Play en werk met stembeheer. Die klankstelsel het agt luidsprekers; daar is ook ‘n bykomende USB-sok vir voorste insittendes terwyl agterste insittendes ook een kry.  Die voorsitplekke is elektries verstelbaar; daar is agt verstellings met ‘n geheue vir die bestuurder en vier verstellings vir die voorste passasier. Die voorsitplekke kan ook verhit word. Daar is parkeersensors voor en agter terwyl die buitespieëls verhit kan word. Die palwisselratkas werk met die rathjefboom of spane agter die stuurwiel. Die ruitveërs word outomaties geaktiveer wanneer nodig.

 

Die Executive is een van twee modelle wat met ‘n turboaanjaer en vierwielaandrywing toegerus word. Die topsnelheid van hierdie model is 200 km/h, sy gemiddelde brandstofverbruik is 7,0 liter per 100km en uitlaatgasse word teen 167 g/km uitgeskei.

 

Aan die buitekant is daar 18-duim allooiwiele wat hom van die twewelitermodelle onderskei, tewyl volle LED-kopligte, eerder as net LED-dagryligte, standaardtoerusting is. Daar is ook aktiewe geraasbeheer wat dit vir insittendes moontlik maak om die klankstelsel ten volle te waardeer. Die Executive het ook ‘n panoramiese sondak, ‘n aansitknoppie pleks van ‘n gewone sleutel en sleutellose toegang.

 

Die Exclusive is die vlagskip van die reeks en die enigste buitenste kenmerk wat hom van die goedkoper modelle onderskei, is LED-misligte. Een van die uitstaande kenmerke van die Exclusive is egter satellietnavigasie. Met ‘n kleuruitleespaneel en aanwysings by elke draai. Die Exclusive se agterklap word met hraghulp oop- en toegemaak en daar is ‘n banddrukmonitor wat die bestuurder dadelik waarsku as een van die motor se bande druk verloor. Daarby is die Exclusive die enigste model wat Honda se omvattende stelsels om die bestuurder by te staan, as standaardtoerusting het. Onder die kenmerke wat deel hiervan uitmaak, is stelsels wat jou waarsku as jy per abuis uit jou baan beweeg of as jy in ‘n botsing van voor betroke kan raak, asook aanpasbare spoedbeheer wat die volgafstand tussen die bestuurder en die voorste motor handhaaf. Daar is ook ‘n waarskuwing as ‘n motor in die bestuuder se blinde kol beweeg.

 

Die CR-V is in ses kleure beskikbaar, onder meer skakerings van wit, silwer, rooi, blou en grys.

 

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n waarbotg van vyf jaar of 200 000km en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000km insluit, is soos volg:

 

CR-V 2,0 Comfort- R 422 900
CR-V 2,0 Elegance- R 477 900

CR-V 1,5 T Executive- R 584 900

CR-V 1,5 T Exclusive- R 626 900

 

Die tweelitermodelle moet elke 15 000km gediens word en die turboaangejaagde modelle elke 10 000km.