Honda se W-RV is hier

0 Comments

Die  verkope van  klein oorkruis-sportnutsvoertuie het in 2019 op n jaa-tot-jaarbasis met 39% toegeneen; dit is die marksegment wat op die oomblik die vinnigste groei.

Die jongste vervaardiger wat ‘n mededinger in hierdie segment bekendgestel het, is Honda, wie se W-RV  deur twee ander modelle in die reeks, die Jazz en die B-RV geïnspireer is. Hierdie twee modelreekse is baie gewild onder plaaslike kopers en Honda glo dat die W-RV ‘n gunsteling in hierdie groeiende marksegment sal wees. Volgens die maatskappy  beskik die nuweling oor al die bewese Honda-karakter eienskappe soos gehalte, duursaamheid en betroubaarheid, maar hy sal aanklank vind by nuwe kopers in die segment vir kompakte sportnutsvoertuie.

Die W-RV neem sy plek langs die B-RV en onder die H-RV in en word Honda se mees bekostigbare sportnutsvoertuig met vyf sitplekke. Dit kan vir niks anders as ‘n Honda aangesien word nie, maar bied ‘n sportiewe voorkoms met die verhoogde grondvryhoogte en geharde stileringskenmerke van ‘n sportnutsvoertuig. Aan die voorkant is daar kopligte met ligdiode-dagryligte aan weerskante van die breë chroomstrook met die Honda-kenteken wat deel van Honda se jongste ontwerprigting is. Die Elegance, die topmodel van die reeks, word toegerus met projektor-kop-en misligte pleks van die halogeenligte van die Comfort. Die kort en breë enjinkap word netjies by die helling van die voorruit geïntegreer en die groot glasoppervlakte , wat kwartvensters viir die voordeure insluit, sorg vir goeie uitsig na alle kante. Die agteraansig word oorheers deur C-vormige ligdiode-agterligte en ‘n agterklap wat tot heel onder oopmaak. Daar is chroomafwerking bokant die nommerplaat en ‘n skermplaat word by die agterstamper geïntegreer. Albei modelle word met dakspore en allooiwiele van 16 duim met 195/60R 16-bande en ‘n volgrootte noodwiel toegerus. Die buitespieëls van die Elegance kan met die druk van ‘n knoppie ingevou word, en bevat ingeboude rigtingwysers, terwyl dié van die Comfort op die voorste modderskerms voorkom. Die Elegance se deurhandvatsels word in chroom, eerder as die kleur van die bakwerk, afgewerk.

Aan die binnekant spog die W-RV met dieselfde veelsydige Magic Seat-stelsel wat ook in die Jazz en die H-RV voorkom. Dit maak die vervoer van regop items maklik, soos twee bergfietse, nadat die voorwiele verwyder is. Die voorste passasiersitplek en agtersitplekke kan platgevou word om lere en ander besonder lang items te vervoer.  Die instrumentepaneel kom uit die Jazz en beskou oor blou beligting en drie groot wyserplate wat al die nodige inligting gee. Outomatiese lugversorging  en elektriese vensters voor en agter is standaard toerusting vir al drie modelle.  Hoewel Bluetooth-verbinding en ‘n veelfunksie-stuurwiel op albei modelle voorkom, voer die Elegance dit verder met ‘n agtduim-raakskerm met ‘n trukamera asook Android Auto- en Apple Car Play-verbinding, asook ‘n opgegradeerde klankstelsel met ses luidsprekers. Onder die ander kenmerke waarmee die Elegance toegerus is, is sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie en spoedbeheer. Daarby word die Elegance se stuurwiel met leer oorgetrek en daar is ‘n armleuning tussen die voorste twee sitplekke.

Albei modelle word aangedryf deur ‘n 1,2 liter-enjin met Honda se i-VTec-wisselende kleptydreëling, wat sorg vir uitsonderlike werkverrigting en brandstof-verbruik. Die enjin, wat net met ‘n vyfgang-handratkas beskikbaar is, lewer 66 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 110 kW teen 4 800 opm. 

Soos wat ‘n mens van ‘n Honda kan verwag, is ‘n oorvloed veiligheidskenmerke standaard toerusting. Daar is altesaam ses lugsakke, ABS-remme met noodremhulp en elektroniese remkragverspreiding, ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke en vorospanners vir die sitplekgordels. Agterste parkeersensors is standaard toerusting en die Elegance se deure sluit outomaties wanneer ‘n mens wegloop van die voertuig af. 

Vier kleure is beskikbaar, naamlik wit, rooi, silwer en grys.

Die pryse van die twee W-RV-modelle, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 200 000 km en ‘n diensplan van vier jaar of 60 000 insluit, is R 289 900 en R 319 900 vir die Comfort en Elegance onderskeidelik.

Categories:
%d bloggers like this: