Honda vier twintig jaar met nuwe Ballade

0 Comments

Toe Honda in 1982 tot die Suid-Afrikaanse mark toegetree het, was die Ballade die eerste model wat bekendgestel is.

Vyf geslagte van die Ballade is in Mercedes-Benz se fabriek in Oos-Londen vervaardig, en dié Duitse vervaardiger se handelaars-netwerk het die reeks bemark en versprei. Honda het in 2000 het van Mercedes-Benz afgestig en Honda Motor Suider-Afrika is gebore.

Die Ballade het in 2011 na Suid-Afrika teruggekeer, en nou is die derde geslag sedertdien hier bekendgestel. Die reeks bestaan uit drie modelle, naamlik die Comfort, die Elegance en ‘n nuwe vlagskip, bekend as die RS.

Die nuwe Ballade is 110 mm langer, 55 breër en 10 mm laer as sy voorganger. Die gevolg is ‘n laer swaartepunt; dit maak die nuwe model meer padvas, boesem meer vertroue om draaie in en sorg vir verhoogde bestuursgenot.  Honda se jongste ontwerprigting, wat ook op die Civic en die Amaze voorkom, is duidelik sigbaar. Daar is ‘n soliede strook oor die hele voorkant; dit bevat projektor-tipe halogeenkopligte vir die Comfort en Elegance, terwyl die RS met ligdiode-kopligte en misligte toegerus word. Die hele reeks spog met ligdiode-dagryligte en kenmerkende ligdiode-agterligte wat om die agterste hoeke omkrul en die motor se aërodinamiese ontwerp beklemtoon. Die Comfort en Elegance word toegerus met 15-duim allooiwiele met ‘n ruimte-besparende noodwiel, terwyl die RS met 16-duim allooiwiele en ‘n volgrootte noodwiel toegerus word. Die RS word verder onderskei deur middel van ‘n agterste drukvlerk, sportstrampers voor en agter, ‘n sierrooster met ‘n gaasontwerp, chroom-deurhandvatsels , buitespieëls wat ingevou kan word, ‘n sondak   en unieke omhulsels vir die misligte. 

Die binneruim van die nuwe model is ontwerp om so bestuurders-georiënteed as moontlik te wees. Die slanke A-pilare en hergeposisioneerde buitespieëls sorg vir uitstekende sig reg rondom en skakel blinde kolle uit.  Die herontwerpte sitplekke word in die Comfort en Elegance met doekstof oorgetrek terwyl leersitplekke standaard toerusting vir die RS is. Daar is ‘n nuwe hoëresolusie-raakskerm van agt duim vir die Elegance en RS , en die Bluetooth-verbinding en veelfunksie-stuurwiel word in heirdie twee modelle  aangevul deur Apple Car Play en Android Auto-verbinding. Die hele reeks het boonop outomatiese lugversorging, spoedbeheer, elektriese vensters en buitespieëls en outomatiese kopligte as standaard toerusting. Die RS spog verder met ‘n trukamera, sleutellose toegang wat die motor outomaties sluit as die bestuurder wegloop en  ‘n splinternuwe TFT-vertoonpaneel van sewe duim wat die tradisionele analoog-instrumentepaneel vervang en deur middel van kontroles op die stuurwiel beheer word.

Daar is net een enjin-en-ratkas-kombinasie beskibaar. Al die modelle word toegerus met ‘n nuwe vier-silinder enjin van 1,5 liter met dubbele bonokasse en i-VTEC-tegnologie wat uitlaatgasse verminder en doeltreffendheid verhoog sonder om werkverrigting in te boet. Hierdie enjin lewer 89 kW teen 6 600 opm en wringkrag van 145 Nm teen 4 500 opm.  Die Ballade word toegerus met ‘n hersiene weergawe van Honda se palwissel-transmissie wat met G-Design-ratwisselbeheer spog.  Dit skep die gevoel van ‘n konvensionele outomatiese ratkas deur die integrasie van kunsmatige ratte wanneer daar versnel word, maar behou die doeltreffendheid van ‘n palwissel-transmissie. Die Elegance en RS word ook met ratspane toegerus. 

Die belangrikste veiligheidskenmerke is standaard toerusting vir die hele reeks, onder meer ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding, voorste-, kant-en gordynlugsakke, ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke, wegtrekhulp  en voorspanners vir die sitplekgordels. Die Elegance en RS word toegerus met parkeersensors agter en ‘n trukamera is standaardtoerusting vir die RS. 

Vier kleure is vir die nuwe Ballade beskikbaar, naamlik wit, rooi, silwer en grys.

Die pryse van die nuwe Ballade-reeks, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 200 000 km en ‘n diensplan van vier jaar of 60 000 km asook AA-padbystand vir drie jaar insluit, lyk soos volg:

Ballade 1.5 Comfort CVT R336 500

Ballade 1.5 Elegance CVT R366 900

Ballade 1.5 RS CVT R396 900

Categories:
%d bloggers like this: