Breaking News

Hyundai brei sy Atos-reeks uit

Sedert sy bekendstelling teen die einde van 2019 het die nuwe geslag Hyundai Atos groot byval onder kopers van intreevlakmotors gevind, en nou is die reeks uitgebrei met die toevoeging van die AMT.

Die Atos AMT word aangedryf deur dieselfde 1,1 liter vier-silinder enjin as die handratmodel; hierdie enjin lewer 50 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 99 Nm teen 2 800 opm. Die ratkas van die AMT is baie dieselfde as dié van die handrat, maar die verskil is dat ratte outomaties gewissel word. 

Volgens Hyundai se bemarkings-bestuurder Stanley Anderson is die Atos AMT onderwerp aan ‘n padtoets van ‘n roete van 1 100km, wat aan die kus en op die Hoëveld uitgevoer is. Dit het ook vergelykings met die Atos se belangrikste mededingers ingesluit. Eers nadat hierdie toetse voltooi is, is die besluit geneem om die AMT-ratkas hier bekend te stel. Die vervaardiger glo dat die toevoeging van die AMT verder tot die sukses van die Atos op die Suid-Afrikaanse mark sal bydra.

Die spesifikasievlak van die AMT stem heeltemal ooreen met dié van die handratmodel. Dit beteken dat  kleurgekodeerde stampers en deurhandvatsels asook 14 duim-staalwiele met volle wieldoppe standaard toerusting is. Aan die binnekant is daar ‘n seweduim-raakskerm met Bluetooth-, Android Auto- en Apple Car Play-verbinding, asook USB- en 12 volt-kragpunte,  ‘n veelfunksie-stuurwiel, ‘n ritrekenaar, lugversorging, elektriese vensters en ‘n sentrale sluitstelsel.

Die veiligheidskenmerke waarmee die Atos-reeks toegerus word, sluit twee lugsakke, ABS-remme met noodremhulp en ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke in. 

Die pryse van die twee Atos-modelle, wat ‘n waarborg van altesaam sewe jaar of 200 000 km en ‘n diensplan van een jaar of 15 000 km insluit, is R 175 500 vir die handratmodel en R 189 900 vir die AMT.

%d bloggers like this: