Breaking News

Hyundai knap Santa Fe op

Dit is vanjaar 21 jaar sedert die Hyundai Santa Fe vir die eerste keer bekendgestel is, en die vierde geslag is reeds sedert 2018 op die mark.

Hyundai het egter pas ‘n opgeknapte weergawe van die huidige geslag Santa Fe in Suid-Afrika bekendgestel. Die groot verskil aan die buitekant van die nuwe model is ‘n groot, breë sierrooster met die kopligte aan werskante wat só by die ontwerp geïntegreer is dat ‘n mens dit byna nie kan sien as dit nie aangeskakel is nie. Bokant die kopligte is nuwe T-vormige dagryligte. Aan die kant is daar nuwe agttien- of negentienduim-allooiwiele, afhangende van die model en die agteraansig beskik nou oor ‘n dun rooi strook tussen die agterligte. 

Hoewel die Santa Fe steeds deur ‘n turbo-aangejaagde 2,2 liter-dieselenjin aangedryf word, is dit ‘n nuwe enjin met ‘n effens Kleiner verplasingsinhoud maar ‘n bietjie meer krag en wringkrag. Die nuwe enjin lewer 148 kW teen 3 800 opm en wringkrag van 441 Nm teen tussen 1 750 en 2 750 opm.  Die nuwe enjin beskik oor dubbele nokasse wat deur ‘n band eerder as ‘n ketting aangedryf word, en brandstof-doeltreffendheid asook geraas, vibrasie en grofheid verminder. Die gloei-proppe word van keramiek vervaardig, wat maak dat dit gouer warm word wanneer die enjin teen ‘n koue temperatuur aangesit word en die aluminium-silinderblok verminder die enjin se massa. Daar is ‘n keuse tussen twee-en vierwiel-aandrywing, afhangende van die model, maar ‘n DCT-ratkas met agt gange word vir die eerste keer in ‘n Hyundai-sportnuts-voertuig vir albei modelle gebruik. Hierdie ratkas, wat een koppelaar vir gelyke ratte en een vir ongelyke ratte gebruik,  wissel ratte volgens die motor se enjin-snelheid.

Die Santa Fe-reeks bestaan uit twee modelle, naamlik die voorwiel-aangedrewe Executive en die vierwiel-aangedrewe Elite. Die Executive is die intreemodel van die reeks en word toegerus met onder meer die volgende kenmerke: allooiwiele van agttien duim met ‘n volgrootte noodwiel, voorste-, kant- en gordyn-lugsakke, vier verskillende bestuurs-modusse, invoubare buitespieëls, Bluetooth-verbinding met stemherkenning, outomatiese lugversorging, ‘n blindekol-monitor, parkeersensors agter met ‘n trukamera, ‘n koordlose selfoonlaaier, ‘n elektries beheerde agterklap, leerbekleedsel, ‘n elektries verstelbare bestuurdersitplek, ‘n dwarsverkeer-waarskuwing agter, baandwaal-waarskuwing  en ‘n elektroniese parkeerrem. Daar is ook ‘n waarskwing wat ‘n mens keer om ‘n deur oop te maak as daar aankomende verkeer is. Die motor kan van ‘n afstand af aangeskakel word en wanneer dit gedoen word, word die klimaat-beheerstelsel se temperatuur op 22 grade verstel. 

Die Elite is die vlagskip van die reeks en benewens vierwiel-aandrywing bied hy die volgende bykomende kenmerke: ‘n monitor wat passasiers in die motor bespeur wanneer dit gesluit word, verhitbare en geventileerde voorsitplekke met elektriese verstelling aan albei kante, ligdiode-agterligte, ‘n 12,3 duim vloeikristal-instrumentepaneel, gordyne vir die agterdeure, allooiwiele van negentien duim en ‘n panoramiese sondak en verskillende veldry-modusse vir onder meer sand, sneeu en modder. Die sand-modus kan vir grondpaaie gebruik word, en die sneeu-modus vir gladde paaie. 

Daar is altesaam ses kleure vir die Santa Fe beskikbaar, naamlik wit, swart, silwer, bruin, blou en grys. 

Die pryse van die Santa Fe-reeks, wat ‘n waarborg van altesaam sewe jaar of 200 000 km en ‘n diensplan van ses jaar of 90 000 insluit, is R 769 500 vir die Executive en R 869 500 vir die Elite.

%d bloggers like this: