Sedert sy aanvanklike bekendstelling in 2009 is daar reeds meer as 87 000 eenhede van die Hyundai i20 verkoop, en nou is ‘n opgeknapte weergawe van die nuwe geslag, wat reeds ‘n paar jaar op die mark is, in Suid-Afrika bekendgestel.

Die nuwe reeks bestaan uit ses modelle; die Sport is aan die mark onttrek en ‘n nuwe vlagskip, bekend as die Active is bo-aan die reeks bygevoeg. Daar is twee 1,2 liter-modelle beskikbaar, naamlik die Motion en die Fluid en vier 1,4 liter-modelle, naamlik die Fluid-handrat, die Motion en Fluid-outomaties en die Active, wat net met ‘n handratkas beskikbaar is.

oznor

Die moderne en elegante stilering van die huidige geslag i20 het ‘n paar veranderinge gekry; die Fluid en Motion-modelle kry ‘n nuwe weergawe van Hyundai se kenmerkende sierrooster, terwyl die Active ‘n unieke rooster kry.  Die hele reeks  kry ook ‘n nuwe voorstamper.  Aan die agterkant is daar ‘n nuwe stamper en nuwe agterligsamestellings en die agterste nommerplaat is by die agterklap geïntegreer. Die Motion-modelle word toegerus met staalwiele met wieldoppe terwyl allooiwiele van 16 duim standaardtoerusting vir die Fluid en Active is. Die Motion en Fluid-modelle se stampers is dieselfde kleur as die bakwerk .  Die Active kan van die res van die reeks onderskei word deur middel van ‘n silwer strook aan die onderkant van die stamper, ‘n unieke sierrooster, dakrelings en verbeterde grondvryhoogte. Daar is ses kleure om van te kies; dit sluit skakerings van wit, rooi, oranje, blou en silwer in.

Die Hyundai i20 Active.

Aan die binnekant is daar ‘n nuwe paneelbord en die Active kan van die res van die reeks onderskei word deur rooi of blou afwerking afhangende van die kleur van die motor. Die Active se sitplekke bevat ook kleurvolle insetsels wat sy karakter verder beklemtoon. Die hele reeks spog met ‘n inligting-en-vermaakstelsel met Bluetooth-verbinding, vier luidsprekers en ‘n raakskerm van sewe duim. Daar is ook ‘n USB-kragpunt wat insittendes in staat stel om hul selfone of tablette te laai, terwyl ‘n AUX-kragpunt ook voorsien word. Vir ‘n bykomende R 2500 kan ‘n SD-geheuekaart gekoop word wat toegang tot satellietnavigasie moontlik maak. Die hele reeks het ‘n veelfunksiestuurwiel as standaardtoerusting; dit bied kontroles vir die bestuurder se selfoon asook die ritrekenaar wat inligting oor brandstofverbruik, die afstand wat nog met die brandstof in die motor se tenk afgelê kan word en twee ritrekenaars gee.

Die nuwe i20 behou die twee kragbronne wat in sy voorganger beskikbaar was.  Die Motion- en die Fluid-modelle is beskikbaar met ‘n 1,2 liter-enjin wat 61 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 115 Nm teen 4 00 opm opwek..  Die 1,4 liter-enjin, wat vir die outomatiese weergawe van die Motion asook die Fluid en Active-modelle beskikbaar is, lewer onderskeidelik  74 kW teen 6 000 opm en 133 Nm teen 3 500 opm. Die topsnelhede wissel tussen 165 km/h vir die 1,2-handratmodelle tot 182 km/h vir die 1,4-handratmodelle. Die outomatiese modelle behou die viergangratkas waarmee sy voorganger beskikbaar was.

Die hele reeks het syfremme voor en agter met  ABS met elektroniese remverspreiding as standaardtoerusting asook twee lugsakke en driepunt-rukstopsitplekgordels vir die voorste insittendes, asook die buitenste twee agterste insittendes met ‘n skootgordel in die middel van die agterste sitplek.  Die 1,4 Fluid en Active het ook LED-dagryligte en voorste misligte.

Die pryse van die nuwe i20-reeks lyk soos volg:
1,2 Motion:  R 229 900
1,2 Fluid: R 241 900
1,4 Motion Outomaties: R 254 900
1,4 Fluid: R 266 900
1,4 Fluid Outomaties: R 284 900
1,4 Active: R 279 900
Die pryse sluit ‘n diensplan van twee jaar of 30 000 km, of drie jaar of 60 000km vir die 1,2- en 1,4-modelle onderskeidelik in, asook Hyundai se toonaangewende waarborg van altesaam sewe jaar of 200 000km in.

 

 

%d bloggers like this: