Hyundai se nuwe klein kruisvoertuig.

Hyundai se splinternuwe kruisvoertuig, die Kona, is nou in Suid-Afrika beskikbaar en met hierdie nuwe model wil dié maatskappy poog om sy markaandeel in Suid-Afrika nog verder te vergroot. ‘n “Kruis-voertuig” verwys na voertuie wat ‘n kruis is tussen ‘n nuts-voertuig en ‘n luikrug. Basies die beste van twee wêrelde. ‘n Goie voorbeeld van ‘n kruisvoertuig is die Nissan Juke.

Volgens mnr. Stanley Anderson, die verkoopsdirekteur van Hyundai Automotive SA, is die Kona ‘n belangrike myplaal vir Hyundai. Die gehalte van die binne-en buite-afwerking getuig van die feit dat Hyundai een van die voorste motorvervaardigers in die wêreld geword het.

Die Kona is beskikbaar in twee modelle, naamlik die 1,0 T-GDI Executive met ‘n handratkas en die 2,0 NU Executive met ‘n outomatiese ratkas. Albei modelle het ‘n opvallende buite-voorkoms wat Hyundai se nuwe ontwerprigting vir sportnutsvoertuie uitbeeld. Daar is ‘n dubbele koplig-ontwerp met LED-dagryligte is ‘n uitstaande kenmerk terwyl die sierrooster met ‘n kenmerkende ontwerp spog. Albei modelle het 17 duim-allooiwiele as standaardtoerusting. Daar is vyf kleure om van te kies, en dit sluit skakerings van rooi, geel, silwer en wit in.

Die binneruim van die Kona weerspieël die motor se karakter en daar is kleurgekodeerde panele buite om die luguitlate, die rathefboom, die aansitknoppie en die stikwerk op die sitplekke en die stuurwiel. Op vier van hierdie kleure is dié afwerking rooi, maar dit is lemmetjiegroen vir geel motors. Die raakskerm van sewe duim bevat ‘n klankstelsel met ses luidsprekers, Bluetooth, satellietnavigasie en Android Auto of Apple Car Play-verbinding. Die veelfunksiestuurwiel bevat kontroles vir die ritrekenaar, die spoedbeheer, die klankstelsel en die telefoon. Die ritrekenaar gee inligting soos onmiddellike en gemiddelde brandstofverbruik, asook die afstand wat nog in die brandstof wat in die tenk is, afgelê kan word. Daarby is ‘n banddrukmonitor standaardtoerusting. Die buitespieëls kan met die druk van ‘n knoppie ingevou word.

Hyundai se Kappa-enjin met drie silinders, ‘n turboaanjaer en ‘n verplasingsinhoud van een liter maak ook sy plaaslike debuut in die Kona. Hierdie enjin, wat aan ‘n sesgang-handratkas gekoppel is, lewer 88 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 172 Nm teen 1 500 en 4 000 opm. Die topsnelheid van hierdie model is 181 km/u en sy gemiddelde brandstofverbruik is 6,8 liter per 100 km. Die ander keuse is ‘n tweeliter-enjin met vier silinders, maar sonder ‘n turboaanjaer. Hierdie model is net met ‘n outomatiese ratkas met ses gange beskikbaar en sy topsnelheid en gemiddelde brandstofverbruik is onderskeidelik 194 km/u en 7,2 liter per 100 km. Die 2,0 NU Executive het drie bestuursopsies om van te kies, naamlik Comfort, Eco en Sport. Albei modelle is voorwielaangedrewe.

Met die Euro NCAP-toetsprogram het die Kona vyf sterre gekry, en dit maak hom een van die veiligste motors in sy marksegment. Onder die aktiewe veiligheidskenmerke waarmee hy toegerus is, is ABS-remme met, elektroniese stabiliteitsbeheer, afdraandehulp, ‘n blindekol-monitor en ‘n waarskuwing as daar verkeer agter die voertuig is. Die Kona beskik ook oor lugsakke vir die bestuurder en die passasier, maar ook kant- en gordynlugsakke.

Die Kona word gerugsteun deur ‘n waarborg van altesaam sewe jaar of 200 000 km, padbystand van vyf jaar of 150 000 km en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km.

Die pryse van die twee modelle is soos volg:
1,0 T-GDI Executive (handrat): R 379 900
2,0 NU Executive (outomaties): R 399 900

%d bloggers like this: