Breaking News

Die Palisade: Hyundai se vlagskip-sportnuts

Hyundai het pas sy Suid-Afrikaanse reeks sportnuts-voertuie in Suid-Afrika uitgebrei met die bekendstelling van die super-grootte Palisade, die nuwe vlagskip in die reeks en die eerste Hyundai wat in die omgewing van ‘n miljoen Rand sal kos. Die Hyundai Palisade speel nou saam met die groot sportnutsvoertuie soos die Prado’s en Defenders. 

Die Palisade volg Hyundai se hedendaagse ontwerprigting met ‘n groot chroom-sierrooster met die Hyundai-embleem in die middel en verdeelde kopligte met ligdiode-tegnologie, asook dagryligte. Die profiel word oorheers deur 20-duim allooiwiele, met ‘n volgrootte allooinoodwiel, asook ‘n karakterlyn wat van voor tot agter loop en die kop-en agterligte met mekaar verbind. Die vertikale ontwerp van die agterligte sluit aan by dié van die kopligte en die Palisade-naam word oor die breedte van die agterklap aangebring.  Altesaam vyf bakkleure is beskikbaar, naamlik wit, donkerblou, donkergrys, silwer en swart.

Die Santa Fe se 2,2 liter turbo-diesel enjin word vir die Palisade gebruik, hierdie enjin word aan ‘n outomatiese agtgangratkas gekoppel en lewer 142 kW en wringrag van 440 Nm. Die ratkas word beheer deur ‘n drukknop-stelsel wat ‘n tradisionele ratkieser vervang, terwyl ratte ook met ratspane agter die stuurwiel gewissel kan word. Wanneer die voertuig afgeskakel word, word die ratkas outomaties in die “Park”-posisie  geskakel en die bestuurder se deur word oopgemaak. Die H-Trac-vierwiel-aandrywingstelsel is standaard toerusting, en versprei die wringkrag na die voor-of agterwiele na gelang van padtoestande of die bestuursmodus wat gekies word, maar dit sluit nie ‘n laestrekratkas in nie. Die verskillende bestuursmodusse sluit onder meer Sport, wat meer wringkrag na die agterwiele toe stuur vir meer sportiewe hantering, asook Sand, Mud en Snow in, laasgenoemde drie natuurlik hoofsaaklik vir veldrytoestande. Daar is ook ‘n sluitbare ewenaar vir wanneer toestande in die veld moeilik raak. 

Daar is ‘n keuse van sewe of agt sitplekke met swart kunsleerbekleedsel, maar daar is geen verskil in prys nie. Die model met sewe sitplekke beskik oor twee sitplekke voor, twee in die middel en drie agter. Die voorste twee rye sitplekke is verhitbaar en geventileer. Die model met agt sitplekke beskik oor ‘n banksitplek pleks van die twee afsonderlike sitplekke en net die voorste sitplekke is verhitbaar. Die tweede en derde rye sitplekke kan op verskillende maniere gerangskik word, afhangende van hoeveel plek daar vir bagasie of passasiers nodig is. 

 

Die voorsitplekke word elektries verstel en beskik oor ‘n geheuefunksie vir twee bestuurders. In die middel van die kajuit is ‘n spieël wat die voorste insittendes in staat stel om te kyk wat in die agterste twee rye sitplekke gebeur en die agterdeure word toegerus met gordyne wat toegetrek kan word wanneer daar insittendes is wat wil slaap. Daar kan toegang tot die derde ry sitplekke verkry word deur ‘n knoppie op enige van die rugleunings van die tweede ry sitpekke te druk; die sitplek sal vorentoe skuif en die rugleuning kantel om passasiers in staat te stel om agter in te klim. Daar is ‘n koordlose selfoonlaaier en altesaam sewe USB-kragpunte op verskeie plekke voor en agter in die kajuit waarmee insittendes hul slimfone of ander toestelle kan laai. Soos wat ‘n mens van ‘n voertuig in hierdie klas kan verwag, is Apple Car Play en Android Auto-versoenbaarheid standaard toerusting, en twee slimfone kan tegelyk met Bluetooth gekoppel word.

Orals is slim nuts-items beskikbaar, soos hierdie usb-poort aan die kant van die sitplek.

Daar is ook ‘n dubbele sondak waarvan een of albei dele oopgemaak kan word. Daar is ‘n dubbele middelkonsole en die onderste deel , wat maklik toeganklik is vir albei voorste insittendes, bevat twee van die USB-krapunte. Daar is ook ‘n funksie wat die voorste insittendes in staat stel om na hul gekose musiek of radiostasie te luister sonder dat die agterste insittendes dit hoor, wat veral nuttig is wanneer daar van die agterste insittendes is wat wil slaap. 

Die bestuurder het al die nodige instrumente en applikasies vir ‘n gemaklike en veilige rit.

Benewens die gewone veiligheids-kenmerke soos ABS-remme en ses lugsakke, word die Palisade ook toegerus met sleepswaaibeheer, wegtrekhulp, ‘n blindekolmonitor, ‘n dwarsverkeer-monitor agter en ‘n stelsel wat insittendes waarsku as dit nie veilig is om die motor se deure oop te maak nie, soos wanneer daar ‘n voertuig of ‘n ander hindernis naby die motor is. Daar is ook ‘n monitor wat insittendes, goedere of troeteldiere bespeur wanneer die voertuig gesluit word. 

 

Die prys van die Palisade, ongeag of dit die sewe- of agtsitplek model is, is R 999 900; dit sluit ‘n waarborg van altesaam sewe jaar of 200 000 km en ‘n diensplan van sewe jaar of 105 000 km in.

%d bloggers like this: