Breaking News

Hyundai se bus het nou méér plek

Hyundai se gewilde H1-minibus is pas uitgebrei met die toevoeging van een nuwe model en die terugkeer van ‘n model wat vroeër aan die mark onttrek is.

Die nuweling is ‘n twaalf-sitplek weergawe met ‘n vierde ry van drie sitplekke. Die spesifikasievlak van die nuwe model is presies dieselfde as dié van die nege-sitplek model, wat op die mark bly. Daar is ‘n nouer middel-sitplek wat toegang na die vierde ry sitplekke, wat platgevou kan word indien nege sitplekke en bagasie-ruimte nodig is, makliker te maak. Hierdie model is by die reeks gevoeg nadat die maatskappy besef het dat daar ‘n vraag na ‘n luukse bus met meer as nege sitplekke is.

Soos die nege-sitplek model spog die nuweling met ‘n aantal geriefs- en veiligheids-kenmerke soos ‘n inligting-en-vermaak stelsel met ‘n groot skerm, ‘n veel-funksie stuurwiel met Bluetooth-verbinding, spoed beheer met kontroles op die stuurwiel, ‘n trukamera met ‘n vertoon paneel in die truspieël, outomatiese klimaat-beheer, voorste- en kant-lugsakke, elektroniese stabiliteits beheer en projektor-kopligte.

Die model wat sy terug-keer maak, is die H1 Multivan. Hierdie model is op die paneelwa gebaseer, maar beskik oor ses sitplekke en is geskik vir diegene wat mense moet vervoer maar steeds ‘n groot laairuimte nodig het. Die Multivan is egter net op spesiale bestelling beskikbaar.

Soos voorheen is die H1-reeks beskikbaar met een van twee enjins; ‘n 2,4 liter petrol-enjin wat 126 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 224 Nm teen 4 200 lewer. Hierdie model is net met die Executive-spesifikasie-vlak beskikbaar. Die Executive is nie met kant-lugsakke of stabiliteits-beheer  beskikbaar nie en het ‘n gewone lugversorger eerder as klimaat-beheer. Die res van die reeks, die twee Elite-bussies, die paneelwa en die Multivan, word toegerus met die 2,5 liter turbo-diesel-enjin met ‘n vyfgang-outomatiese ratkas. Hierdie enjin lewer 125 kW teen 3 600 opm en wringkrag van 441 Nm teen tussen 2 000 en 2 250 opm.

Die pryse van die H1-reeks, wat ‘n waarborg van altesaam sewe jaar of 200 000 km, ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km en padbystand van vyf jaar of 150 000 km insluit, lyk soos volg:

H1 2,5 turbodiesel paneelwa Outomaties: R 476  900
H1 2,5 turbodiesel Multivan Outomaties: R 553 900
H1 2,4 petrol Executive 9-sitplek Bus Handrat: R 527 900
H1 2,5 turbodiesel Elite Bus 9-sitplek Outomaties: R 654 900
H1 2,5 turbodiesel Elite Bus 12-sitplek Outomaties: R 664 900

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: