Hyundai se nuwe Creta is hier

0 Comments

Die Hyundai Creta was nog altyd een van die gewildste modelle in sy klas en sedert 2017 is net meer as 14 800 eenhede verkoop. Die tweede geslag Creta met ‘n besonderse nuwe stilering is in Desember 2020 bekendgestel.

Die nuwe Creta is 20 cm langer en 10 cm breër as voorheen en sy asafstand is 20cm langer as dié van sy voorganger. Sy grond-vryhoogte bly egter onveranderd op 190 mm. 

Aan die  voorkant van die nuwe Creta word Hyundai se nuwe ontwerprigting vir sy sportnutsvoertuie weerspieël  Daar is klein ligdiode-dagryligte terwyl die kopligte in die Executive-modelle ook oor ligdode-tegnologie beskik.  Outomatiese werking vir die kopligte is standaardtoerusting vir die hele reeks, en die Executive word ook met voorste misligte toegerus.  Die sierrooster van die Premium word in swart en silwer afgewerk en dié van die Executive in swart en chroom. Die hele reeks spog met allooiwiele as standaard toerusting; die Prerium spog met 206/60 R 16-bande en die Executive-modelle met 215/60 R 17-bande. Al die modelle word met ‘n banddrukmonitor toegerus en ‘n volgrootte noodwiel is standaardtoerusting.   Die buitespieëls bevat ingeboude rigtingwysers en  kan ingevou word; met die hand in die geval van die Premium en met die druk van ‘n knoppie in die geval van die Executive. Die agterligte van die Executive spog ook met ligdiode-tegnologie. 

Al die modelle word toegerus met ‘n agtduim-raakskerm met Bluetooth-verbinding, ‘n tru-kamera, ses luidsprekers,  ‘n USB-kragpunt en stembeheer.  Die Executive spog met ‘n koordlose selfoonlaaier en ‘n elektro-chromatiese truspieël binne.  Die Premium se sitplekke word afgewerk in swart en grys doekstof, terwyl die 1,5 Executive petrol-en dieselmodelle met swart en grys leer toegerus word. Die 1,4 T-GDI Executive se sitplekke word in swart leer met oranje stikwerk afgewerk.  Die hele reeks word met handbeheerde lugversorging toegerus en daar is verstelbare luguitlate vir die agterste insittendes. Daar is ‘n 3,5 duim TFT-vloeikristal-uitleespaneel tussen die spoedmeter en die toereteller wat die inligting van die ritrekenaar soos gemiddelde brandstofverbruik, die afstand wat nog met die oorblywende brandstof in die tenk afgelê kan word, die temperatuur buite en die ratposisie vir die Executive-modelle aandui. 

Altesaam drie enjin- en vier ratkasopsies is vir die nuwe Creta beskikbar. Die Premium en Executive is beskikbaar met ‘n 16-klep 1,5 liter-petrol enjin, wat 85 kW teen 6 300 opm opwek en ‘n wringkrag van 144 Nm teen 4 500 opm lewer. Die ratkaste van die twee modelle verskil egter. Die Premium is net met ‘n sesgang-handratkas beskikbaar en die Executive met ‘n Intelligent Variable Transmission-ratkas, wat niks anders as ‘n palwissel-ratkas is nie. 

Die turbo-diesel enjin van die 1,5 CRDI, wat ‘n outomatiese sesgang-ratkas as standaardtoerusting kry, het ‘n kraglewering van 85 kW teen 4 000 opm en ‘n wringkrag van 250 Nm tussen 1 500 en 2 750 opm.

Die groot nuus is egter dat ‘n turbo-aangejaagde petrolenjin vir die eerste keer in die Creta gebruik word. Die 1, 4 T-GDI spog met die turbo-aangejaagde petrolenjin met regstreekse inspuiting en ‘n sewegang-dubbel-koppelaar-ratkas is standaard toerusting. Hierdie enjin lewer 103 kW teen 6 000 opm en het ‘n wringkrag van 242 Nm tussen 1 500 en 3 200 opm. 

Twee lugsakke is standaardtoerusting vir die Premium terwyl die Executive met ses lugsakke toegerus word, terwyl al die modelle met wegtrekhulp, agterste parkeersensors, volg-my-en-lei-my-kopligte en elektroniese stabiliteitsbeheer  spog. Daar is ook ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke. Die deure sluit outomaties sodra die voertuig wegtrek en sodra die sleutel verwyder word, word al die deur outomaties oopgesluit. 

Daar is sewe kleure beskikbaar, naamlik wit, blou, rooi, oranje, grys, silwer en swart, terwyl die Executive ook in wit of oranje met ‘n swart dak beskikbaar is. Laasgenoemde is standaardtoerusting vir die 1,4 T-GDI Executive.

Die pryse van die nuwe Creta-reeks, wat Hyundai se sewe jaar of 150 000 km waarborg en ‘n diensplan van vier jaar of 60 000 km insluit, lyk só:

1,5 Premium handrat: R 374 900

1,5 Executive IVT: R 429 900

1,5 Executive IVT 2 Tone: R 434 900

1,5 Executive CRDI Outomaties: R 469 900

1,5 Executive CRDI Outomaties 2 Tone: R 474 900

1,4 T-GDI  Executive DCT 2 Tone: R 484 900