Hyundai se nuwe Grand I 10 is hier

0 Comments

Sedert 2007 is meer as 1,15 miljoen eenhede van Hyundai se i10 van Indië af na marke soos die Midde-Ooste, Asië en Suid-Amerika uitgevoer, terwyl dit ook ‘n gewilde intree-vlak motor in Suid-Afrika geword het.

Byna 50 000 eenhede van die tweede geslag, wat as die Grand i10 bekendgestaan het, is in Suid-Afrika verkoop sedert sy bekendstelling in 2014. Hoewel dit die derde gewildste motor in die A-segment op die Suid-Afrikaanse mark was, het die tyd aangebreek dat die derde geslag bekendgestel word. Die nuwe Grand i10 is 40 mm langer, 20 mm breër en 10 mm laer as sy voorganger, terwyl sy asafstand 25 mm langer is. Die nuwe model se bagasiebak hou 260 liter, vier liter meer as voorheen. 

Soos voorheen is daar ‘n keuse van twee enjins en twee ratkaste. Die een-liter enjin met drie siliders wat vir die Motion en die Fluid beskikbaar is, lewer 49 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 94 kW teen 3 500 opm. Die 1,2 liter wat uitsluitlik met die Fluid-afwerking beskikbaar is, lewe 61 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 114 Nm teen 4 000 opm. Albei enjins bied ‘n keuse tussen ‘n  vyfgang-handratkas of ‘n outomatiese ratkas met vier gange.

Die Motion, wat met die een-liter enjin en die keuse van ‘n hand- of outomatiese ratkas beskikbaar is,  het onder meer die volgende kenmerke as standaard toerusting: twee lugsakke, ABS-remme met elektroniese remkrag-verspreiding, ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke, volg-my-en-lei-my-kopligte, sentrale sluiting met afstandbeheer, ‘n agterste ruit-verwarmer en veër, staalwiele met volle wieldoppe en 165/70R 14-bande, ‘n veelfunksie-stuurwiel, ‘n inligting-en-vermaakstelsel met ‘n 6,2 duim raakskerm en Bluetooth-verbinding, ‘n USB-kragpunt, Apple Car Play en Android Auto, ‘n swart sierrooster en swart elektries verstelbare buitespieëls. 

Daar is drie Fluid-modelle; ‘n een-liter handrat en ‘n 1,2 handrat of outomaties. Die Fluid-modelle spog met die volgende bykomende kenmerke: ligdioge-dagryligte, kunsleer-bekleedsel met rooi stikwerk, ‘n kunsleer-rathefboomknop , ‘n digitale spoedmeter, parkeersensors agter, voorste misligte, kleurgekodeerde elektriese buitespieëls wat verhit kan word en ingeboude rigting-wysers bevat en 14 duim allooiwiele met 165/70 R 14-bande. Die wiele vir die 1,2 Fluid word in twee kleure afgewerk. Die agterste ruitveër van die Motion ontbreek op die Fluid. 

Die nuwe Grand i10 is beskikbaar in wit, grys, silwer, rooi en swart. Die Fluid is opsioneel met ‘n swart dak saam met die wit of rooi afwerking beskikbaar.

Die pryse van die Grand i10-reeks, wat ‘n waarborg van sewe jaar of 200 000 km, padbystand van vyf jaar of 150 000 km en ‘n diensplan van een jaar of 15 000 km insluit, lyk só:

1,0 Motion handrat: R 191 900

1,0 Motion Outomaties: R 216 900

1,0 Fluid handrat: R 216 900

1,2 Fluid handrat: R 230 900

1,2 Fluid Outomaties: R 256 900

Categories:
%d bloggers like this: