Hyundai se Palisade in 2021 hier

0 Comments

Hyundai se top in die reeks sportnutsvoertuig, die Palisade, sal in 2021 ook in Suid-Afrika bekend gestel word.

Die Palisade is aanvanklik net vir die Amerikaanse mark bedoel, maar sedertdien is ‘n model met regterhand-stuur ontwikkel en Australië is die eerste regterhand-stuurmark waar die palisade bekendgestel is. Die Palisade sal sy plek bo-aan Hyundai se reeks sportnutsvoertuie inneem, en anders as sommige moontlike mededingers, sal hy nie ‘n leerraamonderstel hê nie, maar onafhanklike vering soortgelyk aan die premium luukse sportnutsvoertuie soos Range Rover.

Daar is twee enjins vir die Australiese mark beskikbaar, maar dis nog te vroeg om te sê of albei hier ook aangebied sal word.. Die 2,2 liter turbo-diesel enjin uit die Santa Fe word vir die AWD-model, met permanente vierwiel-aandwyring, gebruik. Hierdie enjin lewer 147 kW teen 3 800 opm  en het ‘n wringkrag van 440 Nm tussen 1 750 en 2 750 opm. Die voorwiel-aangedrewe modelle word toegerus met ‘n 3,8 liter petrol V6-enjin wat 217 kW  teen 6 000 opm en ‘n wringkrag van  355 Nm teen 5 200 opm lewer. Albei hierdie enjins word aan ‘n outomatiese agt-gangratkas met ratspane agter die stuurwiel  gekoppel. Volgens die vervaardiger is die gemiddelde brandstofverbruik van die diesel- en petrolmodelle onderskeidelik 7,3 en 10,7 liter per 100 km.

Die Palisade se buite ontwerp weerspieël Hyundai se huidige ontwerprigting vir sy sportnutsvoertuie. Die groot sierrooster het kop- en dagryligte met ligdiode-tegnologie in sekere modelle,  wat laag aan weerskante gemonteer is, met hoog gemonteerde rigtingwysers. Die groot C-pilaar is ‘n kenmerk van sy profiel maar die groot kantvensters maak sig na alle rigtings maklik. Die breë agterkant bevat ligdiode-kopligte. 

Aan die binnekant is daar ‘n breë voorpaneel met ‘n 10,25 duim raakskerm vir die inligting-en-vermaakstelsel. Die satelliet-navigasiestelsel gee vir die bestuurder regstreekse verkeersverslae en daar is verskillende soorte kragpunte vir enige toestel wat gelaai moet word. Aan die voorkant is daar twee USB-kragpunte, asook soortgelyke kragpunte dwarsdeur die kajuit. Bluetooth-, Andriod Auto en Apple Car Play-verbinding is standaardtoerusting en die Infinity Premium-klankstelsel wat standaardtoerusting vir die hele reeks is, bevat twaalf luidsprekers. Dit is ook moontlik om twee selfone tegelyk aan Bluetooth te koppel. 

Die hele reeks beskik oor ‘n Supervision-instrumentepaneel met ‘n digitale spoedmeter en ‘n ritrekenaar.  Die Driver Talk-funksie maak dit vir die bestuurder moontlik om met insittendes in die tweede en derde rye sitplekke te praat sonder om sy of haar stem te verhef, en wanneer agterste insittendes slaap, kan die klankstelsel só verstel word dat die luidsprekers in die betrokke rye sitplekke afgeskakel word. Daarby is daar ook ‘n panoramiese spieël voor in die kajuit wat die bestuurder in staat stel om te kyk wat in die agterste twee rye sitplekke gebeur. Daar is sewe- en agtsitplekweergawes beskikbaar. Die verskil is dat die model met sewe sitplekke twee “kaptein-sitplekke” in die tweede ry, terwyl die derde ry in elke model plek vir drie insittendes het.  Daarby is daar ‘n skakelaar wat die tweede ry sitplekke laat platvou en vorentoe skuif om toegang tot die derde ry sitplekke te vergemaklik. 

Die belangrikste veiligheids-kenmerke wat in ‘n luukse voertuig hoort is standaard in die Palisade.  Die ABS-remstelsel beskik oor elektroniese remkrag-verspreiding en noodremhulp, terwyl vastrap- en stabiliteits-beheer ,wegtrek- en afdraandehulp  asook sleep-swaaibeheer standaard toerusting in die hele reeks is. Alle modelle beskik ook oor voorbots-waarskuwing, dwarsverkeer-waarskuwing, ‘n waarskuwing as ‘n kind of troeteldier nog in die voertuig is wanneer dit gesluit word, baan-dwaal-waarskuwing en baan-hou-hulp, ‘n tru-kamera en ‘n banddruk-monitor.  

Die hele reeks beskik oor verskillende bestuurs-modusse, naamlik Comfort, Eco, Sport en Smart, en drie veelterrein-modusse, naamlik vir sneeu, modder en sand. 

Daar is twee spesifikasies-vlakke vir die Australiese mark beskikbaar, naamlik die standaardmodel en die luukse model, bekend as die Highlander. Benewens die omvattende spesifikasie-vlak van die standaard-model word die Highlander met die volgende bykomende kenmerke toegerus: allooiwiele van 20 duim, eerder as 19 duim, ‘n blindekol-monitor,‘n paneel met die belangrikste inligting vir die bestuurder tussen die voorruit en die instrumentepaneel, ‘n kantel- en-skuifsondak, Nappa-leerbekleedsel, asook ‘n 360-grade kamera.

Die besonderhede oor pryse, asook die samestelling van die Suid-Afrikaanse reeks, sal bekendgemaak word wanneer die Palisade hier bekendgestel word.