Deur Gerrie Smit

Die Hyundai Tucson is een van die gewildste nutsvoertuie in Suid-Afrika. Sedert dit in 2005 in Suid-Afrika geloods is, het dit ‘n naam vir betroubaarheid, maar veral dat dit tipies nutsvoertuig padvas op ‘n grondpad kan sit. Met die jare is daar self ‘n paar vierwiel-aangedrewe modelle toegevoeg, wat sorg vir diegene wat rowwe en gladde paaie ook met hulle nutsvoertuig wil aandurf.

Alhoewel die Hyundai Tucson tussen 2009 en 2006 as die ix-35 bekend gestaan het, het die nuwe benaming nie sy verkoopsyfers aangetas nie.

Daar was altesaam 22 716 Tucsons tussen 2005 en 2009 verkoop, terwyl 33 692 ix 35’s van 2009 tot 2016 van die hand gesit is. Met die bekendstelling van ‘n nuwe geslag van hierdie model in 2016 het Hyundai besluit om die Tucson-naam te herleef.

Die nuwe reeks bestaan uit sewe modelle waarvan vyf petrol-enjins het en twee dieselenjins. Die petrolaangedrewe Tucson-modelle is die 2,0 Nu Premium, wat ‘n keuse tussen ‘n hand- of outomatiese ratkas bied, die 2,0 Nu Elite-outomaties, die turbo-aangejaagde 1,6 T GDI Executive-handrat en die 1,6 T GDI Elite met ‘n DCT-ratkas. Daar is ook twee modelle met dieselenjins, naamlik die 1,7 Executive Diesel en die R 2,0 Elite Diesel. Op die oomblik is net die petrol-aangedrewe Elite model met permanente vierwielaandrywing toegerus.

Die twee liter petrolenjin in die intreemodelle lewer 115 kw teen 6000 omwentelinge en 196 Nm teen 4000 omwentelinge. Volgens Hyundai is hierdie enjin se gemiddelde brandstofverbruik omtrent 9,0 liter per 100 km. Die turbo-aangejaagde 1,6 liter enjin wat in die topmodelle gebruik word, lewer 130 kw teen 5500 omwentelinge en 265 Nm teen 4500 omwentelinge. Die Elite-modelle kry ook ‘n sewe-gangratkas met ‘n dubbele koppelaar as standaardtoerusting. Die gemiddelde amptelike brandstofverbruik van die modelle met hierdie enjin is tussen 8,3 en 8.5 liter per 100 kilometer.

Die 1,7 CRDI Executive se 1,7 liter enjin lewer 85 kw teen 4 000 omwentelinge en het ‘n wringkrag van 280 Nm tussen 1 250 en 2 500 omwentelinge. Die R 2,0 Elite Diesel het ‘n kraglewering van 131 kw teen 4 000 omwentelinge en ‘n stewige wringkrag van 400 Nm tussen 1 750 en 2 750 omwentelinge.

Die R 2,0 Elite Diesel is besonder goed toegerus en kry verskeie standaardkermerke in vergelyking met sy goedkoper stalmaats. Dit sluit onder meer ‘n panoramiese sondak, ‘n monitor wat jou waarsku as ‘n motor in jou blinde kol is, ‘n waarskuwing as ‘n voetganger agter die voertuig is, ‘n panoramiese sondak, die vermoë om die motor sonder ‘n sleutel aan te sit, ‘n keuse van verskillende bestuursmodusse en 18-duim-allooiwiele in.

Die nuwe Tucson-reeks is al klaar benoem as een van die 10 finaliste vir 2017 se Motor-van-die-Jaar-toekenning wat in Maart aangekondig sal word en nie sonder rede nie. Die petrol-modelle is besonders lig op brandstof en veral die vierwielaangedrewe Elite 1,7 T model klou aan enige pad soos ‘n ware sportmotor.

Al die Tucson-modelle is ruim en besonders gemaklik en gee binne die indruk van ‘n veel groter voertuig.

Die diesels op hulle beurt loop stil en versnel verbasend vining.

Die Tucson-reeks kom met Hyundai se aantreklike waarborg, wat vir sewe jaar of 200 000km geldig is, asook ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km. Dit alleen is ‘n goeie rede om in plaas van ‘n groter en duurder nutsvoertuig eerder die Tucson te oorweeg.

Die pryse van die Hyundai Tucson-reeks:

Die 1,7 CRDI Executive kos R439 900 en kom met 17 duim wiele uit.

Tucson 2.0 Nu Premium (handrat)                 R369 900

Tucson 2.0 Nu Premium (outomaties)             R389 900

Tucson 2.0 Nu Elite (outomaties)                   R454 900

Tucson 1.6 TGDi Executive (handrat)            R439 900

Tucson 1.6 TGDi Elite DCT AWD                   R519 900

Tucson 1.7 Executive Diesel (handrat)         R439 900

Tucson 2.0 Elite Diesel (outomaties)                R519 900

 

Navorsing deur Daantjie Badenhorst