Hyundai se Venue is hier

0 Comments

 

Hyundai het sy reeks sportnutsvoertuie pas uitgebrei met die bekendstelling van die Venue.

Die Venue ding mee in die kompakte SNV mark met deelnemers soos die Volkswagen T-Cross, Suzuki Jimny en Vitara en die Ford Ecosport.

Die Venue-reeks bestaan uit drie modelle, naamlik die Motion, die Fluid en die Glide; almal toegerus met ‘n eenliter-enjin met drie silinders en ‘n turbo-aanjaer wat ‘n kraglewering van 88 kW teen 6 000 opm bied en ‘n wringkrag van 172 Nm tussen 1 500 en 4 000 opm lewer. Die Motion en Fluid is beskikbaar met ‘n handratkas met ses gange of ‘n sewegang DCT-dubbelkoppelaarratkas. Die Glide is net met die DCT-ratkas beskikbaar.

Die vooraansig van die Venue is die jongste weergawe van Hyundai se huidige ontwerp-rigting wat ook op voertuie soos die Kona en die Santa Fe te sien is. Daar is ligdiode-dagryligte aan die bokant van die sierrooster en die hoofkokligsamestelling is verder ondertoe geplaas.  Die Motion en Fluid het halogeenkopligte terwyl die Glide van ligdiode-tegnologie gebruik maak.  Aan die agterkant is daar ligdiode-agterligte, met lense met ‘n kristal-effek vir die Glide.

Al die modelle word met veiligheidskenmerke soos stabiliteitsbeheer en wegtrekhulp toegerus; die Motion het twee lugsakke terwyl die Fluid en Glide gordynlugsakke byvoeg. ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding en noodremhulp is standaardtoerusting vir die hele reeks.

Die Motion is die intreevlakmodel en word toegerus met lugversorging, ‘n klankstelsel met Bluetooth-verbinding, elektriese vensters, 15-duim staalwiele met volle wieldoppe, materiaalsitplekke, ‘n veelfunksie-stuurwiel en ‘n agterste ruitverwarmer sonder ‘n veer. Die middelste spesifikasievlak is die Fluid, wat die volgende kenmerke byvoeg: outomatiese kopligte, ‘n meer gevorderde klankstelsel met Android Auto en Apple Car Play, ‘n verkoelbare paneelkissie, buitespieëls wat elektries invou, ‘n stuurwiel en rathefboomknop wat met leer oorgetrek is, 16-duim allooiwiele, dakspore. ‘n trukamera en parkeersensors, ritgingwysers in die buitespieëls en leer-en-materiaalsitplekke.

rhdr

Die topmodel van die reeks is die Glide, met bykomende kenmerke soos ‘n agtersitplek wat in ‘n 60/40-verhouding verdeel is, voorste misligte, ‘n agterste armleuning met bekerhouers, ligdiode-kopligte , outomatiese lugversorging en sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie. Die Glide is ook net met ‘n wit bakwerk en ‘n swart dak beskikbaar.

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n waarborg van altesaam sewe jaar of 200 000 km en ‘n diensplan van drie jaar of 45 000 km insluit, lyk soos volg:

Venue 1,0 Motion: R 274 900

Venue 1,0 Motion CDT: R 304 900

Venue 1,0 Fluid: R 309 900

Venue 1,0 Fluid DCT:  R 339 900

Venue 1,0 Glide DCT: R 369 900

Categories:
%d bloggers like this: