Breaking News

Hyundai stel futuristiese Staria bekend

Hyundai het pas sy gewilde H1bussie-reeks vervang met ‘n nuwe model wat radikaal anders as sy voorganger is en daarop gemik is om in ‘n hoër liga mee te ding.

Die Staria is vir eers net in ‘n minibus-reeks beskikbaar, maar ‘n paneelwa en ‘n kruising tussen ‘n minibus en ‘n paneelwa met vyf sitplekke, soos die H1 Multivan, sal aanstaande jaar by die reeks gevoeg word. Die hele reeks sal mettertyd met verskeie keuses van twee tot elf sitplekke beskikbaar wees.

Die buitestilering van die Staria is futuristies van aard,en die vooraansig beskik oor horisontale dagryligte, ‘n laag gemonteerde sierrooster en ligdiode-kopligte aan weerskante daarvan. Dieselfde kleur word vir die voorste dele gebruik om die voertuig se moderne stilering te beklemtoon. Die lae middellyn en panoramiese vensters verbeter uitsig na alle kante. Agter is daar vertikale stertligte en ‘n breë agterruit terwyl die lae agterstamper die in-en uitlaai van goedere vergemaklik.

 

Hoewel die binnekant die futuristiese voorkoms voortsit, is die Staria steeds ‘n praktiese en veelsydige mensekarweier. Die paneelkissie voor die voorste passasier is byvoorbeeld verder vorentoe geskuif om beenruimte te verbeter. Die voorste insittendes het toegang tot ‘n middelkonsole met bekerhouers en USB-kragpunte en daar is twee of drie sitplekke  voor, afhangende van die model. Die rugleuning van die middelste sitplek kan platgevou word en beat bekerhouers, asook plek vir los goedere. Die digitale instrumentepaneel bo-op die paneelbord belemmer glad nie die bestuurder se uitsig vorentoe nie.

Die hele Staria-reeks word aangedryf deur dieselfde 2,2 liter turbo-dieselenjin wat ook in die Santa Fe en die Palisade gebruik word. Hierdie enjin, wat aan ‘n outomatiese ratkas met agt gange gekoppel word, lewer 130 kW teen 3 800 opm en wringkrag van 430 Nm teen tussen 1 500 tot 2 500 opm. Hoewel die minibusmodelle toegerus word met ‘n veelskakel-veerstelsel om rygerief te verbeter, is ‘n starre agteras met bladvere standaardtoerusting vir die paneelwa. Die boonste twee modelle spog met dieselfde drukknop-ratkieser waarmee die Santa Fe en die Palisade toegerus word.

Sekere veiligheidskenmerke is standaardtoerusting vir die hele reeks, soos ses lugsakke en  driepunt-sitplekgordels en kopstutte  vir al die insittendes, ‘n dwarsverkeermonitor,  stabiliteitsbeheer .‘n blindekolmonitor en ‘n sensor wat die teenwoordigheid van passasiers of troeteldiere agter in die voertuig bespeur wanneer dit gesluit word. 

Drie spesifikasievlakke sal vir eers beskikbaar wees:

  • Die intreemodel is die Executive, en word toegerus met onder meer outomatiese klimaatbeheer, ‘n veelfunksie-stuurwiel, parkeersensors saam met ‘n trukamera, elektries verstelbare en invoubare tru-spieëls, spoedbeheer, ‘n koordlose selfoonlaaier, Android Auto en Apple Car Play  en 17 duim-allooiwiele. Verskeie toestelle kan ook deur middel van Bluetooth gekoppel word. Die Executive is met nege of elf sitplekke beskikbaar. Die negesitplekmodel bied drie sitplekke in drie rye elk en die elfsitplekmodel bied drie sitplekke in die eerste, tweede en vierde ry en twee sitplekke in die derde ry.
  • Die Elite voeg die volgende kenmerke by: verhitting en ventilasie vir die voorste sitplekke, ‘n aansitknoppie,  ‘n banddrukmonitor, agterruitgordyne, ISOFIX-hegpunte vir die tweede ry sitplekke, kraghulp vir die glydeure aan die kant en vir die agterklap, agttienduim-allooiwiele, en nege sitplekke in drie rye van drie. Baanhouhulp  en voorbotswaarskuwing is standaardtoerusting tesame met ‘n stelsel wat jou verhinder om ‘n deur oop te maak as die toestande nie heeltemal veilig is nie. Daar is ook bykomende bêreplek vir los goedere bokant die konsole wat in die dak gemonteer is.
  • Die Luxury is die vlagskip van die reeks en spog met verskeie unieke kenmerke, nie net wat sy stilering betref nie, maar ook sy toerusting. Aan die buitekant is daar ‘n unieke ontwerp vir die kopligte, asook getinte koperchroomafwerking vir die Hyundai-kenteken, kopligomhulsels, voor- en agterstampers, buitespieëls en deurhandvatsels. Daar is vier rye sitplekke; drie rye met twee sitplekke elk en een met drie rye. Die sitplekke in die tweede ry kan omgedraai word sodat daardie insittendes en dié in die derde ry na mekaar kan kyk. Dit sal byvoorbeeld nuttig wees vir vergaderings binne die kajuit.  Daar is ook verhitting en ventilasie vir die tweede ry sitplekke. Verder spog die Luxury met ‘n Bosé-klankstelsel met twaalf luidsprekers. Die Luxury beskik verder oor ‘n 360 grade-kamera en ‘n blindekolmonitor wat op ‘n vindingryke manier werk. Wanneer daar links of regs gedraai word, word die spoedmeter of die toereteller, na gelang van die rigting waarin daar gedraai word, tydelik vervang met die uitleespaneel van die kamera wat die randsteen vertoon. Dit skakel ongelukke uit. Dit is ook moontlik om verskeie hoeke en beelde te sien; dit verskyn op ‘n kieslys op die raakskerm. Atmosfeerbeligting met ‘n keuse van tien kleure en ‘n dubbele sondak is standaardtoerusting vir die Luxury. 

Daar is altesaam vyf bakkleure beskikbaar, naamlik wit, grys, silwer, donkerblou en swart. Die Executive is net met swart kunsleerbekleedsel beskikbaar, maar daar is ook ‘n keuse van grys bekleedsel vir die Luxury beskikbaar.

Die pryse van die verskillende modelle lyk só:

  • Staria R 2,2 Executive 9 sitplek: R 789 900
  • Staria R 2,2 Executive 11 sitplek: R 799 900
  • Staria R 2,2 Elite 9 sitplek: R 959 900
  • Staria R 2,2 Luxury 9 sitplek: R 1 099 900

Die hele reeks word gerugsteun deur Hyundai se waarborg van altesaam sewe jaar of 200 000 km. Die diensplan vir die Executive en die Elite is geldig vir ses jaar of 90 000 km en dié van die Luxury vir sewe jaar of 105 000 km.

%d bloggers like this: