Breaking News

Hyundai stel vierde Tucson bekend

Sedert die Hyundai Tucson vir die eerste keer in 2005 bekendgestel is, het dit ‘n gunsteling onder plaaslike motorkopers geword.

Die vierde geslag van dié gewilde Koreaanse sportnuts-voertuig is pas in Suid-Afrika bekendgestel. Dit is die derde geslag wat die Tucson-naam dra aangesien die tweede geslag onder die ix35-naam in Suid-Afrika bemark is.

Die nuwe Tucson spog met die jongste vertolking van Hyundai se hedendaagse ontwrrprigting vir sportnuts-voertuie, maar die vooraansig  bevat kopligte wat só goed by die sierrooster geïntegreer is dat ‘n mens dit werklik net sien as dit aangeskakel is. Daar is twee agterligsamestellings; die hoë remligte is aan weerskante van die nommerplaat gemonteer en die flikkerligte in die agterstamper. 

Twee enjins is vir die nuwe Tucson-reeks beskikbaar. Dieselfde twee-liter enjin met vier silinders word vir die meeste modelle gebruik; dit word aan ‘n outomatiese ratkas met ses gange gekoppel en lewer 115 kW teen 6 200 opm en wringkrag van 192 Nm teen 4 500 opm. Daar is ook ‘n tweeliter-turbodiesel enjin met ‘n outomatiese agtgangratkas beskikbaar; hierdie enjin lewer 137 kW teen 4 000 opm en wringkrag van 416 Nm teen 2000 tot 2 750 opm.

Altesaam vier modelle met drie spesifikasievlakke is beskikbaar. Die Premium is die intreemodel en is net met die petrolenjin beskikbaar. Sy standaard kenmerke sluit die volgende in: 17 duim allooiwiele, stampers wat in die bakkleur, swart en silwer afgewerk is, materiaal-sitplekbekleedsel, halogeenkopligte met ligdiode-dagryligte, handbeheerde lugversorging, ‘n klankstelsel met ‘n agtduim-raakskerm, Bluetooth, Android Auto en Apple Car Play, stembeheer, ‘n Supervision-instrumentepaneel met ‘n 4,2 duim-skerm, elektriese buitespieëls wat met die hand ingevou kan word en parkeersensors voor en agter. Die Executive is die middelste spesifikasievlak, weer eens is hy net met die petrolenjin beskikbaar. Sy bykomende kenmerke sluit die volgende in: kunsleerafwerking vir die stuurwiel, ratkieserknop en sitplekke, buitespieëls wat met die druk van ‘n knoppie ingebou kan word, 18-duim allooiwiele, stampers wat in die bakkleur, swart en donker chroom afgewerk is, outomatiese klimaatbeheer met afsonderlike kontroles vir die bestuurder en voorste passasier en donker getinte vensters. Die Elite is die topmodel van die reeks en die enigste een wat met die petrol- en dieselenjin beskikbaar is, en voeg die volgende kenmerke by: 19 duim-allooiwiele, elektries verstelbare en geventileerde voorsitplekke, sleutellose toegang met  ‘n aansitknoppie, ‘n verhitbare stuurwiel  en ‘n 10,25 duim TFT-skerm vir die instrumentepaneel. Die bestuurder kan ook uit vier verskillende bestuursmodusse kies, naamlik Normal, Sport, Eco en Smart; laasgenoemde neem die bestuurder se mees onlangse bestuurspatrone in aanmering en pas die tussenposes van ratwisseling daarby aan. Die uitleespaneel van die instrumetepaneel word na aanleiding van die gekose bestuursmodus aangepas. 

Die volgende veiligheidskenmerke is standaard toerusting vir die hele reeks: ABS-remme met noodremhulp en elektroniese remkragverspreiding, parkeersensors voor en agter saam met ‘n trukamera, wegtrek- en afrdaandehulp, stabiliteitsbeheer, sleepswaaibeheer, kopligte met outomatiese hoëstraalwerking en voorste-, kant- en-gordynlugsakke. Die Executive voeg ook ‘n blindekolmonitor by en die Elite word toegerus met ‘n banddrukmonitor, voorbotswaarskuwing, baandwaalwaarskuwing, ‘n waarskuwing wat moegheid by die bestuurder bespeur, agterste dwarsverkeermonitor en stelsels wat botsings vermy as daar ‘n voertuig in die blinde kol of ‘n hindernis agter die voertuig bespeur word. 

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n waarborg van altesaam sewe jaar of 200 000 km en ‘n diensplan van ses jaar of 90 000 km insluit, lyk só:

Tucson 2,0 Premium: R 519 900

Tucson 2,0 Executive: R 569 900

Tucson 2,0 Elite: R 634 900

Tusron R 20 Elite Diesel: R 699 900

%d bloggers like this: