Toe die Hyundai Tucson in 2018 ‘n aantal detailveranderinge ondergaan het, was die Sport, wat as beperkte model met die vorige beskikbaar was, nie deel van die opgeknapte reeks nie.

Noudat die nuwe modelle op die pad is, het Hyundai besluit om die “Sport”-weergawe weer op die mark te bring, hierdie keer met ‘n keuse van ‘n petrol-of dieselenjin.  Volgens mnr. Stanley Anderson, die verkoopsdirekteur van Hyundai Automotive Suid-Afrika het die oorspronklike Tucson Sport groot byval by die publiek gevind. Die nuwe Sport word weer met swart wiele en ‘n sportiewe bakstel toegerus soos die vorige Sport-model.

Die petrolmodel word aangedryf deur ‘n turbo-aangejaagde 1,6 liter enjin wat ‘n kraglewering van 150 kW teen 5 500 opm oplewer en ‘n wringkrag van 300 Nm teen 4 500 opm opwek en aan ‘n dubbelkoppelaar-ratkas  (DCT) met sewe gange en ‘n handratfunksie gekoppel word. Die turbo-aangejaagde tweeliter-dieselenjin lewer ook 150 kW, maar dit skop reeds teen teen 4 000 opm in en dit het ‘n wringkrag van 460 Nm tussen 1 750 en 2 750 opm. Die diesel Sport word gekoppel aan ‘n outomatiese ratkas met agt gange, weer eens met ‘n handratfunksie.

Hyundai Suid-Afrika het beide Tucson Sport modelle na die loodsing gebring en kon media-verteenwoordigers albei modelle op die proef stel. Die loodsing-roete was beide op die oop pad en gekontroleerde renbaan-toestande. Alhoewel albei sportnutse op dieselfde onderstel geskoei is, is die verskil in verrigting en padgedrag baie opvallend. Die 1.6 turbo skop, nes die 2.0-liter diesel, ‘n fris 150 kW en ‘n genoegsame 300 Nm uit. Veral opvallend omtrent hierdie model was hoe oorgretig die bande is om rubber neer te lê. Die kleinste oorywerigheid dryf die voorste wiele om te tol en kan jy verseker wees van ‘n geskreeu wat bystanders by ‘n robot sal laat omdraai.

Tog, die petrol model se padgedrag is noemenswaardig goed gebalanseerd en is dit makliker om met hierdie model die beste uit die Sport te kry. Die turbo petrol het ook ‘n lekker diep grom wat by die vier uitlaatpype ontsnap wanneer jy van ratte verwissel.

Die 2.0-liter is die nuwe wolf in Hyundai se Tucson-skaapkraal en sal dit waarskynlik baie se voorkeurkeuse wees. Die 460 Nm wat hiérdie wa uitskop is reeds teen 1750 omwentelinge beskikbaar en hierdie kombinasie sorg vir genoegsame krag in elke rat. Dis makliker om met hierdie model hoër snelhede te bereik en is daar nooit werklik rede om die enjin hard te druk nie, maar die spoed wat dit ontlok kan jou onkant betrap as jy nie versigtig is nie. Hyundai het die Killarney renbaan in Kaapstad nader gehark om die twee nuwelinge werklik op die proef te stel en was dit hier waar die diesel model ietwat kort geval het.

Tussen die twee modelle is die petrol die maklikste én gemaklikste om te bestuur danksy die enjin se lae gewig. In dieselfde esse om die baan het die diesel heelwat stuurtraagheid getoon teenoor die petrol model wat jy mooi kon plaas waar jy wou. Reggenoeg, die 2.0-liter enjin is groter en swaarder as die 1.6-liter, maar nie eens al daardie wringkrag kon sake verbeter nie. Maar dis op ‘n renbaan en afgesien van diesel se ekstra gewig behoort die moeitelose werksverrigting van die enjin in baie se skik te tel.

Aangesien hierdie die modelle die woord ‘Sport’ in hul naam bevat en Hyundai dit dan as sportiewe modelle bemark, sou mens net wou hê dat die ses-spoed outomatiese ratkas – in beide modelle – met spane agter die stuurwiel toegerus moes wees. Dit sou ratoorskakeling vergemaklik en ook bydra tot daardie sportiewe houding.

Die Sport-modelle kry die hoogste moontlike spesifikasievlak met elektries verstelbare voorsitplekke, dubbele klimaatbeheer, luguitlate vir die agterste insittendes, parkerhulpkameras tesame met ‘n trukamera wat ‘n uitleespaneel op die raakskerm bevat en ‘n panoramiese sondak. Die binnekant van die Sport is baie soortgelyk aan dié van die res van die reeks, met ‘n seweduim-raakskerm vir die inligting-en-vermaakstelsel wat Android Auto en Apple Car Play insluit.

Die boonste deel van die Tucson se paneelbord bevat sagte material van hoogstaande gehalte met dubbele stikwerk om die gevoel van gehalte te verhoog. Die fokuspunt is die raakskerm wat só ontwerp is dat  dit bestuurders in staat stel om op die pad te konsentreer. Dit bevat ook satellietnavigasie wanneer die Android Auto of Apple Car Play-funksies gebruik word.

Daar is nou nege Tucson-modelle met drie enjinkeuses; ‘n tweeliter-petrolenjin sonder ‘n turbo-aanjaer, ‘n tweeliter-turbodieselenjin en ‘n turbopetrolenjin van 1,6 liter. Daar is drie spesifikasievlakke en alle modelle is voorwiel-aangedrewe.

Die Premium is die intreevlak-model, en word toegerus met spoedbeheer, die seweduim-raakskerm, dagryligte, voorste-, kant-en gordynlugsakke, en ‘n keuse van ‘n hand-of outomatiese ratkas, elk met ses gange.

Die middelste spesifikasievlak is die Executive. Hierdie model voeg onder meer die volgende kenmerke by: elektroniese stabiliteitsbeheer, leerbekleedsel, ‘n blindekol-monitor, sensors wat verkeer agter die voertuig bespeur, ‘n elektries verstelbare bestuurdersitplek en volle outomatiese lugversorging met klimaatbeheer. Die Executive is nou ook beskikbaar as ‘n tweeliter-petrolmodel sonder ‘n turboaanjaer en ‘n outomatiese sesgangratkas. Die ander Executive-model is die R 2,0 turbodiesel met ‘n nuwe outomatiese ratkas met agt gange.

Die Elite is die hoogste spesifikasievlak. Hierdie model spog met ‘n panoramiese dak, elektries verstelbare voorsitplekke, asook sleutellose toegang en ‘n aansitknoppie.  Daar is ook ‘n bykomende USB-kragpunt agter in die kajuit. Die Sport is op hierdie model gebaseer, met die toevoeging van swart wiele, ‘n sportiewe bakstel, drukvlerke voor en agter en twee uitlaatpype. Die Elite en Sport is beskikbaar met die 1,6 liter-turbopetrol- of tweeliter-turbodieselenjin.

Die pryse van die Tucson Sport-modelle , wat ‘n waarborg van altesaam sewe jaar of 200 000 km en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km insluit, is R654 900 vir die diesel 1,6 T-GDI en en R664 900 vir petrol R 2,0-model.

Dienstussenposes is elke 15 000 km, maar daar is ‘n verpligte aanvanklike diens op 5 000 km vir die 1,6 T-GDI-modelle.

%d bloggers like this: