Breaking News

Hyundai voltooi Staria-reeks met paneelwa

Hyundai het die Staria-reeks pas uitgebrei met die bekendstelling van ‘n paneelwa.

Hiermee voltooi Huyundai die reeks, wat ook uit die vyfsitplek Multivan en minibuses met sewe, nege of elf sitplekke bestaan. Die Staria-paneelwa vervang die gewilde H1 en bied meer moderne tegnologie, meer ruimte en luuksheede wat hom selfs ‘n meer gedugte medeedinger in sy marksegment sal maak. Die H1 was verlede jaar die tweede gewildste paneelwa op die plaaslike mark, met ‘n markaandeel van 22%.

Soos die res van die Staria-reeks word die paneelwa aangedryf deur ‘n 2,2 liter turbodieselenjin wat 130 kW teen 3 800 opm en wringkrag van 430 Nm teen tussen 1 500 en 2 500 opm lewer. Hierdie enjin word aan ‘n outomatiese ratkas met agt gange gekoppel.

Anders as die meeste paneelwaens word die Staria met verskeie weelde- en veiligheidskenmerke toegerus.  Benewens die 17-duim allooiwiele beskik die paneelwa oor stampers en buitespieëls dieselfde kleur as die bakwerk.  Veiligheidskenmerke soos stabiliteitsbeheer, kopligte wat vanself verstel, dagryligte en wegtrekhulp is standaard toerusing. Daar is ook elektries verstelbare en verhitbare buitespieëls, ‘n klankstelsel met Bluetooth, spoedbeheer en ‘n veelfunksiestuurwiel. Die rugleuning van die middelste sitplek kan platgevou word indien plek vir los goed beenodig word. Daar is twee skuifdeure aan die kante en aan die agterkant is daar twee deure wat aan die kante geskarnier is. Volgens die vervaardiger is dit maklik om die Staria-paneelwa in ‘n lykswa of ‘n ambulans te verander. 

Die prys van die Staria-paneelwa is R 599 900; dit sluit ‘n waarborg van sewe jaar of 200 000 km en ‘n diensplan van ses jaar of 90 000 km in.

%d bloggers like this: