Saamgestel deur Neels Rabe.

F1: Belgiese Grand Prix – rondte 13 (26 Augustus 2018)

Beide Mercedes en Ferrari het verbeterde enjins gereed gehad vir naweek se aksie.  Dit was vroeg reeds duidelik dat Ferrari die oorhand het. Hulle maak gebruik van ‘n kleiner agter-vin om meer spoed op die pylvakke te behaal. Dit benadeel hulle egter nie in die stadiger gedeeltes nie, en Mercedes het rede tot kommer. Kwalifisering vind egter in nat omstandighede plaas, en Lewis Hamilton gebruik dit tot sy voordeel om die voorste wegspringposisie in te neem.

Baie spanne, insluitende Red Bull en Kimi Raikkonen se span, aanvaar dat as gevolg van die nat weer daar slegs een geleentheid gaan wees om ‘n goeie tyd op te stel. Daarom word die minimum hoeveelheid branstof in die motors gegooi. Ongelukkig verbeter die baanomstandighede teen die einde van die sessie. Dit vang baie onkant, en veroorsaak dat die “nuwe” Racing Point Force India span die tweede wegspringry vir hulleself toeëien  – ‘n merkwaardige prestasie vir ‘n span wat bankrot verklaar is, van eienaars verwissel het, en as nuwe span met geen vervaardigerspunte die seisoen van voor begin in België.

Dit maak die lewe vir Vettel en Hamilton natuurlik baie makliker in die wedren. Met Perez en Ocon tweede en derde na die wegtrek, gee dit hulle die geleentheid om weg te kom van hul spanmaats asook die twee Red Bull motors. Die enigste werklike aksie in die wedren gebeur in die eerste draai na die wegtrek. Nico Hülkenberg in sy Renault rem heeltemal te laat. Hy stamp arme Fernando Alonso se McLaren bo-oor Leclerc se Sauber. Die band-merke op Leclerc se “halo” (die nuwe beskermende struktuur oor die kajuit) bevestig die ekstra beskerming wat dit bied. Voordat die veiligheidsmotor ontplooi kan word, skiet Vettel verby Hamilton. Daarmee is die voorste twee posisies uitgesorteer. Die Ferrari se kragvoordeel beteken dat Lewis Hamilton geen antwoord het vir Vettel se spoed nie. Max Verstappen slaag daarin om die Force India motors verby te steek om die laaste podium posisie te beklink. Omdat Valtteri Bottas se motor ‘n nuwe enjin moes kry, spring hy agter weg, maar veg sy pad oop tot ‘n baie verdienstelike vierde plek. In die kampioenskap kruip Vettel kruip weer nader aan Hamilton, en die res van die seisoen beloof om baie interessant te wees.

1  Sebastian Vettel  –  Scuderia Ferrari

2  Lewis Hamilton  –  Mercedes AMG Petronas Motorsport

3  Max Verstappen  –  Aston Martin Red Bull Racing

4  Valtteri Bottas  –  Mercedes AMG Petronas Motorsport

5  Sergio Perez –  Racing Point Force India

2018 F1 Kampioenskap na afloop van 26 Augustus 2018

1  Lewis Hamilton (Mercedes AMG Petronas Motorsport)  –  231

2  Sebastian Vettel (Scuderia Ferrari)  –  214

3  Kimi Raikkonen (Scuderia Ferrari)  –  146

4  Valtteri Bottas (Mercedes AMG Petronas Motorsport)  –  144
5  Daniel Ricciard Max Verstappen  (Aston Martin Red Bull Racing)  –  120

MotoGP: Britse Grand Prix – rondte 12 (26 Augustus 2018)

Jorge Lorenzo se Britse naweek begin waar hy in Oostenryk opgehou het – in die voorste posisie. Die afgelope paar jaar sukkel Lorenzo in nat omstandighede, maar hy bewys dis iets van die verlede deur die voorste wegspringposisie te behaal op sy Ducati. Spanmaat Andrea Dovizioso behaal die tweede vinnigste tyd. Nadat hy voor weggespring het in sy tuis Grand Prix en toe geval het, was Johann Zarco nie weer dieselfde nie. Op Silverstone begin hy na die ou Zarco lyk deur die derde vinnigste tyd in kwalifisering op te stel.

Ongelukkig is die res van die naweek ‘n ramp vir die organiseerders en toeskouers. Die baan se oppervlakte is oorgedoen sedert 2017. Dit blyk egter dat die nuwe teer se dreineringsvermoë nie op standaard is nie. Staande water op die baan maak dit uiters gevaarlik. Teen laat Sondagmiddag word die hele byeenkoms afgestel met geen wedrenne wat kon plaasvind nie.

Die volgende wedren is die Misano GP op 9 September 2018.

%d bloggers like this: