Toe die opgeknapte weergawe van Ford se gewilde Eco Sport vroeër vanjaar bekendgestel is, was daar net een intreevlak-model, die Ambiente TDCi.

Daar is egter nou nog ‘n enjinkeuse vir die Ambiente beskikbaargestel met die toevoeging van die 1,5 T- VCT Ambiente, wat net met ‘n vyfgang-handratkas beskikbaar is. Die 1,5 liter drie silinder enjin sonder ‘n turbo-aanjaer het onlangs sy debuut in die Figo gemaak; dit lewer 92 kW teen 6 300 opm en het ‘n wringkrag van 170 Nm teen 4 250 opm. Die res van die reeks bly onveranderd. Selfs die Ambiente is baie goed toegerus, en verskeie veiligheidskenmerke is standaardtoerusting al is dit die goedkoopste model in die Eco Sport-reeks. Dit sluit kenmerke in soos elektroniese stabiliteitsbeheer, ses lugsakke, ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke, volg-my-en-lei-my-kopligte en agterste parkeersensors.

Daar is ook ‘n verskeidenheid weeldekenmerke aan die binnekant van die voertuig. Die Ford Audio- klankstelsel bevat ses luidsprekers en word deur middel van SYNC verbind, wat beteken dat Bluetooth en stembeheer deel daarvan is. Daar is ‘n ritrekenaar in die instrumentepaneel en die Eco- modus help om die maksimum brandstofdoeltreffendheid te behaal. Elektriese vensters kom voor en agter voor, die elektriese buitespieëls kan verhit word en die aanbring van ‘n trekstang word vergemaklik deur ‘n voorbereidingspakket wat standaardtoerusting is.

Volgens Doreen Mashinini, die algemene bemarkingsbestuurder van die Ford-motormaatskappy van Suid-Afrika, is die nuwe model daarop gemik om die Eco Sport binne die bereik van ‘n groter teikenmark te plaas. Volgens haar maak die nuwe enjin die Eco Sport aantrekliker as voorheen omdat hy goeie waarde vir geld bied.

Soos die res van die Eco Sport-reeks word die 1,5 Ti-VCT Ambiente gerugsteun deur ‘n waarborg van vier jaar of 120 000 km, ‘n diensplan van vier jaar of 60 000 km, en padbystand en ‘n waarborg teen korrosie van onderskeidelik drie en vyf jaar, ongeag die motor se kilometerafstand.

 

Die prys van die Eco Sport 1,5 Ti-VCT Ambiente is R 264 500.

%d bloggers like this: