Die Isuzu bakkie KB-reeks is nou al amper 30 jaar een van Suid-Afrika se gunstelingbakkies. Daar is egter nou ‘n bakkie-oorlog aan die gang waar die Toyota Hilux op die oomblik koning kraai. Die Ford Ranger is besig om ook sy eie sterk volgeling-basis op te bou en die VW  Amarok begin ook vashouplek te kry.

Net omdat die Isuzu bakkie-verkope deesdae nie naby dié van die Hilux en Ranger s’n is nie, beteken dit nie dat die Isuzu bakkies tegnologies agter geraak het nie. Isuzu’s word geassosieer met ‘n gemaklike rit en hulle diesel-enjins is bekend vir hulle brandstof-ekonomie.

Met ‘n Hilux en Ranger moet jy liewers nie sonder vrag op ‘n skudderige pad ry nie, want hierdie bakkies is besonders hard geveer en jy gaan styf en seer wees na ‘n lang rit. Dit is egter nie die geval met die Isuzu-bakkies nie. Met of sonder vrag is daar altyd net eenvoudige lekkerry ter sprake en daarom sal die keurige bakkieverbruiker altyd ‘n Isuzu ernstig oorweeg.

Die huidige reeks KB-bakkies wat in 2013 bekendgestel is, is nou onlangs weer verder opgegradeer om met jongste tegnologie-tendense by te bly en een van die verbeterings is juis om die ry-gemak nóg verder te verhoog. Die Isuzu Hi-Rider 4X2 modelle is met verbeterde voor- en agterste skokbrekers toegerus, terwyl die 4×4 modelle se skokbrekers aangepas is om harde skokke nóg beter te hanteer. Die resultaat is ‘n sagter rit met minder padvibrasie en ‘n stiller kajuit.

Deel van die verbeterings op die Isuzu-reeks is ook dat die luukse LX-modelle nou met nuwe kopligte met geïntegreerde LED-dagrylampe buite en binne met ‘n 6,5” hoë-definisie TFT-raakskerm wat die klank-, inligting- en kommunikasiestelsels beheer, as standard toegerus is. Daar is ook satelietnavigasie, foon-koppeling en jy kan selfs die Internet daarmee verbind.

Die LX-dubbelkajuitmodelle het ook nou trukamera en die 4×4-modelle het onder meer ‘n trekstang, dakreëlings en kragverstelbare leersitplekke as standaadtoerusting verkry. Die LX dubbelkajuitmodelle kry verder ook sleutellose toegang met ‘n knoppie op die afstandbeheerder, waarmee die enjin van buite die voertuig aangeskakel kan word.

Die Isuzu’s se voorkante is nou subtiel maar slim gestilleer om ‘n slanker dog meer agressiewe voorkoms te toon. Nuut-ontwerpte sierrooster, enjinkap en misligte tref visueel,  maar dit is die nuwe hoofligte wat myns insiens grootliks bydra tot ‘n varser voorkant. LED-dagryligte is ingebou in die lighulse van die modelle met die luukser “LX” afwerking.

Binnekant is veranderings minimaal. Die instrumentehuls is herontwerp en bied nou beter funksionaliteit. Vir beide die handrat en outomatiese modelle (wanneer “manual-modus” op die outokas gekies is) word daar nou aangedui in watter rat jy ry en wannneer jy moet oorskakel.

Die 3-liter 4×4 LX Dubbelkajuit se voorste sitplekke kan elektries  verstel word. Daar is ook die genot van ‘n verbeterde klankstelsel.

Dit vertoon ook die beelde van die tru-kamera as jy na trurat oorskakel en die stelsel kan boonop DVD’s speel. Al die 4×4 modelle kom standaard met leerbekleedsel wat  opsioneel ekstra by die ander modelle beskikbaar is.

Daar is geen petrolaangedrewe modelle in die nuwe KB-reeks nie, maar die drie dieselenjins wat voorheen beskikbaar was, word weer aangewend. Die twee werkesels in die reeks, die gewone KB 250 en die Fleetside-enkelkajuit, is nog steeds beskikbaar met die 2,5 liter dieselenjin, wat ‘n kraglewering van 58 kW teen 3 800 omwentelinge en ‘n wringkrag van 170 Nm teen 1 800 omwentelinge bied, maar hierdie twee modelle is ook nou beskikbaar met die nuwe, kragtiger 2,5 liter dieselenjin wat ‘n kraglewering van 100 kW teen 3 600 omwentelinge en wringkrag van 320 Nm tussen 1 800 en 2 800 omwentelinge lewer.

Die LX-modelle het die 3 liter turbo-ondersteunde  dieselenjin wat 130 kW teen 3 600 omwentelinge en 380 Nm teen tussen 1 800 en 2 800 omwentelinge lewer.

Die meeste Isuzu KB-modelle in die reeks het ‘n handratkas met vyf gange, maar ‘n outomatiese ratkas, ook met vyf gange, is in die LX Extended Cab- en dubbelkajuitmodelle beskikbaar.

Die gemiddelde brandstofverbruik in die gekombineerde siklus vir die vierwielaangedrewe LX-modelle is 7,9 liter per 100 km, en 7,7 liter per 100 km vir die 4×2-modelle.

Om te wys dat die nuwe verbeterde KB-reeks hulle man steeds as volwaardige bakkies kan staan, het General Motors SA, die verspreiders van Isuzu-bakkies in Suid-Afrika, ‘n groepie joernaliste Namibië toe geneem om met die 4×4-modelle sandduine, rowwe paaie en selfs ‘n hewige onbeplande sandstorm aan te vat en te oorwin.

Die verbeterde Isuzu-reeks se 3 liter diesel 4×4-modelle het beїndruk met hoe gemaklik dit die uitdagings van dik sand en hoë duine hanteer het. Selfs teen hoër as normale spoed op grondpaaie was daar ‘n merkbare verbetering in ritgehalte en paddinamiek. 

Isuzu mag miskien nie meer onder die top bakkie-verkopers wees nie, maar soos rare wyn, stel dit nie teleur nie.

 Die nuwe KB-reeks word deur ‘n omvattende ondersteuningsdiens, bekend as Isuzu Complete Care, gerugsteun.  Dit behels padbystand, ‘n waarborg van vyf jaar of 120 000 km, ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km en ‘n waarborg van vyf jaar teen roes, ongeag die kilometer-afstand. Diensintervalle is 15 000 km of een keer per jaar.

 Die pryse van die nuwe modelle wissel van R 235 000 vir die intreevlak- KB 250 enkelkajuit tot R 563 000 vir die KB 300 LX 4×4 dubbelkajuit met ‘n outomatiese ratkas.