Suid-Afrika is nou maar eenmaal ‘n land wat bekend is vir sy diversiteit. Dit sluit nou dinge in soos kos, musiek, wyne, brandewyn, biltong en droë wors! En ons land is ook bekend vir sy mense wat so lekker kan dans. Alhoewel danssoorte soos kwaito, sokkie, en langarm die hoofopskrifte haal, is daar ‘n ander tipe dans wat onlangs die aandag begin trek het: die rieldans. Nou kyk, die rieldans is ‘n geskop van skoene in die sand, gedans (stap?) in ‘n sirkel; als in tradisionele klere. Dis als fêncy in eie reg en die rieldans het nou al só gegroei dat Suid-Afrikaners al op internasionale verhoë gaan dans het. En dít verdien ‘n pluimpie.

Maar die riel herinner ook baie sterk aan die Isuzu KB – meer presies na die nuweling, die X-Rider. Dis nog ‘n bakkie in elke sin van die woord. Dit lyk rof, robuust, ietwat onafgerond, dog met ‘n tikkie spiertier in die ontwerp. Dis nog tradisioneel bakkie. Maar die X-Rider is opgetof met kenmerke wat dit laat uitstaan; rooi kenmerke. Oral oor die bakkie se lyf is daar X-Rider kentekens geplaas. Selfs die Isuzu kenteken voor op die neus is bloedrooi. En binnekant – teen die deure, die kopstutte, die voorste paneel – is daar oral tekens dat dié die X-Rider is. Dis net soos die rieldansers ook is. Jy kan hulle uitken aan hul kleredrag.

Mens sou dink dat omdat hierdie ‘n spesiale model is dat Isuzu dit dalk van ‘n bietjie meer krag sou voorsien, maar inteendeel. Die Japanese vervaardiger het besluit om eerder die bakkie met dieselfde 2.5-liter diesel enjin toe te rus wat in ander KB250s gevind word. Hierdie enjin ontwikkel steeds 100kW en 320Nm, en verrigting is ook onveranderd. Daar is nie enige noemenswaardige verskil in hoe die bakkie die krag hanteer nie en is daar geen verskil van ander KBs wat van hierdie enjin gebruik maak nie. Maar, net omdat daar nie méér krag is om van te praat nie, beteken nié dat die X-Rider sleg is om te ry nie. O nee! Die hele KB reeks is bekend vir hul vermoë om robuust te wees, maar terselfdertyd ‘n goeie rit te kan bied. En die X-Rider stel nie teleur nie. Dit maak steeds gebruik van tradisionele vere op die agteras, maar dit ry gemakliker as baie ander bakkies wat van dieselfde tipe onderstel gebruik maak. Ja, daar is ‘n bietjie hop wanneer die laaibak nie gelaai is nie, maar dit maak nie die X-Rider ‘n onaangename metgesel vir die pad nie.

Maar hierdie KB X-Rider kom veral tot sy reg wanneer mens hom op ‘n stukkie grondpad neem. Soos dit ‘n bakkie betaam, kan die X-Rider met ‘n gemak oor die padoppervlaktes hardloop en in die proses ‘n goeie dosis sand opskop. Die stuur voel gewigtig en effe swaar teen laer snelhede, maar op hoër snelhede is dit ‘n plesier om te beleef. Dis dan asof die KB sing en dans van lekkerkry en jou net elke keer vra vir nog, nog, nog!

Neffens agter die stuurwiel is ‘n knoppie wat mens kan druk om die traksiebeheer te deaktiveer. Hou hierdie knoppie vir net nog ‘n paar ekstra sekondes langer in en mens kan die stabiliteitsbeheer óók afskakel. En dan is die pêrre los! Die KB X-Rider skop sand en stof op soos tien en is daar ‘n oordosis pret en glimlagte wat met die gespeel gepaardgaan. Baie bakkies in ons mark laat jou nie toe om alle elektroniese veiligsheidstelsels af te skakel nie, maar die KB doen. Dit laat jou toe om die bakkie te gebruik om weer jouself van ‘n bietjie genot in die lewe te verskaf. En wie sal dan nou nee sê vir ‘n oomblik se waansinnige pret en plesier?!

As mens die X-Rider met die rieldansers moet vergelyk, kom mens gou agter dat daar ‘n band tussen die twee is. Sien, die rieldansers skop en dans op ‘n eenvoudige wyse en hulle bekoor gehore. Die X-Rider doen dit ook. Dit is ‘n eenvoudige bakkie wat sy ding doen sonder enige fieterjasies wat moet masker wie en wat die bakkie eintlik is nie. Hierdie bakkie kén van dans en hy kén van vastrap!

Prys: R388 400.