Breaking News

Isuzu D-Max wys spiere met Arctic

Isuzu Motors Suid-Afrika (IMSAF) het pas ‘n nuwe vlag-skip model by sy D-Max-reeks gevoeg. Die Isuzu D-Max Arctic AT 35. 

Die Arctic is gemik op ernstige veldryers, professionele mense wat ‘n voertuig vir onhergergsame paaie nodig het, asook stadsbewoners wat die aandag op hulle wil vestig. Dié model is nou by Isuzu-handelaars beskikbaar, maar net op spesiale bestelling.

“Die Arctic is ontwikkel vir mense wat moeilike take in moeilike omgewings moet verrig; daarby beskik hy oor Isuzu se reputasie vir taai en betroubare bakkies,” sê Dominic Rimmer, IMSAF se beampte vir tegniese dienste.

Die Isuzu-fabriek in Port Elizabeth is die enigste een ter wêreld wat op die oomblik wat die goed-keuring gekry het om ‘n Arctic Truck-produksie model te vervaardig. Volgens Partik von Sidow, die uitvoerende hoof van Arctic Trucks International is die Isuzu D-Max uiters bekwaam en daarom is Arctic Trucks trots om deel van hierdie projek te wees. Die hele projek is van die begin af in samewerking met Isuzu ontwikkel, want volgend Von Sidow moet dit nie as ‘n namark-oplossing beskou word nie. Die Arctic AT 35 begin sy lewe in die Struandale-fabriek waar dit saam met die gewone D-Max met behulp van robot sweis-masjiene en hand-gereedskap aanmekaar-gesit word. Wanneer die kajuit en laai area in wit ongeverfde metaal voltooi word, word dit na ‘n ombouing-sentrum binne die fabriek geneem. Hier is die plek waar die eintlike werk begin: ‘n aantal vakmanne en tegnici wat met die hand uitgesoek word, begin met die proses om ‘n Arctic AT 35 van ‘n D-Max te maak. 

Volgens Johan Vermeulen, IMSAF se beampte vir vervaardiging en voorsiening, stel hierdie proses die vervaardiger in staat om streng gehalte beheer toe te pas en seker te maak dat die strukturele integriteit en roesbestandheid van die oorspronklike voertuig behoue bly. Die ombouing word uitgevoer deur ‘n aantal hoogs ervare Isuzu-vakmanne wat hul vermoëns gebruik om uitgeboude modder-skerms wat die groter wiele en bande kan huisves, asook die opgeknapte veerstelsel te vervaardig. Daarby maak ‘n ingenieur van Isuzu seker dat daar aan die vervaardiger se vereistes voldoen word. Die drie vakmanne het altesaam sestig jaar se ondervinding, en onder hul verantwoordelikheid dat al die vervaardigings-toerusting in stand gehou word. Die sny- en sweiswerk word uitgevoer voordat die voertuig terug na die produksielyn gestuur word vir die tydperk wat hy in die verfafdeling deurbring. Hier is waar die voertuig geverf en teen roes behandel word. Dit beteken dat die Arctic AT 35 dieselfde waarborg teen korrosie as die gewone D-Max, naamlik vyf jaar, ongeag die voertuig se kilometer lesing, kry. Die proses duur twee dae, nie net ‘n paar uur soos in die gewone D-Max se geval nie.

Wanneer die voertuig klaar geverf is, word dit deel van die algemene produksie-lyn totdat hy die finale stadium ondergaan; tydens hierdie proses word die uitgeboude modder-skerms vir die BF Goodrich-bande van 35 duim aangebring. Net twee tegnici voer dit oor ‘n tydperk van drie dae uit voordat die finale inspeksie vir gehalte-beheer gedoen word en die voertuig dan gereed is vir aflewering.

Die Fox Performance-veerstelsel en dempers sorg vir beter veldryvermoë.

Die Arctic 35 AT is gebaseer op die D-Max 3,0 LX 4×4 dubbel-kajuit met ‘n outomatiese ratkas, maar danksy die Fox Performance-veerstelsel en dempers het die Arctic uitstekende veldryvermoë. Die hoogte van die Arctic is van die D-Max 3,0 se 1 860 tot 1 980 mm verhoog, en sy grondvry-hoogte is 268mm, in vergelyking met die gewone model se 220 mm.  Die herontwerpte modder-skerms huisves 17-duim allooiwiele met 35-duim bande terwyl swaardiens-Arctic Trucks-modderflappe standaars toerusting is. Hoewel ‘n noodwiel van 245/70R 16 standaard toerusting is, het die voertuig ook ‘n ResQ-stel om ‘n pap band te herstel. Dit alles maak dat hy enige terrein makliker kan baas-raak. 

Die Isuzu Arctic (Links) en die D-Max 3,0 LX 4×4 dubbel-kajuit waarop die Arctic gebaseer is. Die Arctic het duidelik ‘n meer aggressiewer stans.

Die binneruim is presies dieselfde as dié van die D-Max 3,0 LX-modelle terwyl sy turbo-diesel enjin van drie liter ook dieselfde as dié van die gewone model is. Dieselfde geld die rat-verhoudings, hoewel die afstandmeter gekalibreer moet word om voorsiening te maak vir die groter bande.

Die prys van die Arctic 35 AT is R 785 000, BTW ingesluit. Daar sal net vyftig eenhede per jaar vervaardig word.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: