Met sy bekendstelling in 2016 in Suid-Afrika sou die Isuzu X Rider 4×2 in 2016 aanvanklik ‘n beperkte model wees waarvan net 700 eenhede vervaardig sou word, maar dit het so gesog onder Suid-Afrikaanse bakkie-kopers geword dat dit nou ‘n permanente deel van die KB-reeks geword het. Die X Rider het sy eie plek in die mark geskep deur sy besondere stilering en bykomende weelde-kenmerke wat hom van die res van die reeks onderskei

Isuzu Motors Suid-Afrika  (IMSA) het nou ‘n nuwe beperkte model by die reeks gevoeg: Die X Rider Black.

Soos sy naam aandui, is die X Rider Black net beskikbaar in ‘n swart kleur bekend as “Black meet kettle” beskikbaar; dit gee hierdie model ‘n aggressiewe en kenmerkende voorkoms bo en behalwe die uitstaande eienskappe van die gewone X Rider. Daar is ‘n swart voorste stamper met projektorkopligte wat LED-dagryligte bevat, asook voorste misligte. Die allooiwiele van 18 suim bevat die Isuzu naam in rooi ; verdere kenmerke wat die X Rider Black onderskei, is swart B-pilare,  swart kanttrappe en ‘n swart rolstaaf in die laaibak met die X Rider-kenteken. Hierdie kenteken kom ook op die voorste deure en die agterklap voor.

Aan die binnekant is daar swart leerbekleedsel met rooi stikwerk en die X Rider-kenteken wat in die kopstutte geborduur is. Daar is ook rooi stikwerk op die stuurwiel, wat die Isuzu-naam in rooi bevat, asook die kous van die rathefboom. Daar is klavierswart afwerking op die paneelbord en by die luguitlate terwyl die deure ook rooi X-insetsels het.

Soos die res van die X Rider-reeks is die Black toegerus met ABS-remme met elektroniese remverspreiding, vastrapbeheer, twee lugsakke en ISOFIX-hegpunte op die agtersitplekke. Daarby is ‘n klankstelsel met Bluetooth-verbinding, ‘n USB-kragpunt en kontroles op die stuurwiel standaardtoerusting.

Die X Rider Black word toegerus met dieselfde enjin en ratkas as die gewone X Rider-modelle.  Dié turboaangejaagde dieselenjin van 2,5 liter lewer 100 kW teen 3 600 opm en wringkrag van 320 Nm teen tussen  1 800 en 2 200 opm en ‘n vyfgang-handratkas is standaardtoerusting.  Die X Rider Black se gemiddelde brandstofverbruik is 7,7 liter per 100 km.

Die sukses van die X Rider is ‘n bewys dat daar groot aanvraag vir ‘n taai en betroubare bakkie is wat terselfdertyd waarde vir geld bied. Dieselfde beginsel behoort vir vir die X Rider Black te geld.

Die hele Isuzu bakkie-reeks word gerugsteun deur ‘n waarborg van vyf jaar of 120 000 km, padbystand vir dieselfde tydperk, ‘n waarborg teen korrosie vir vyf jaar ongeag die voertuig se kilometerafstand en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000km.  Die padbystand en diensplan kan teen ekstra koste verleng word, en ‘n onderhoudsplan is ook beskikbaar.

Die X Rider-reeks se pryse lyk soos volg:
KB 250 X Rider Dubbelkajuit 4×2: R 407 800
KB 250 X Rider Black Dubbelkajuit 4×2: R 426 300
KB 250 X Rider Dubbelkajuit 4×4: R 454 100

 

%d bloggers like this: