Breaking News

JAC se N-reeks vragmotors bied ook eleketriese model

Die afgelope tien jaar het die ontwerp en tegniese kenmerke van JAC se N-reeks só ontwikkel dat werkverrigting, loopkoste en betroubaarheid al hoe meer verbeter het. 

Dié  vragmotorreeks sluit drie- en ses-ton modelle in, asook ‘n nuwe elektriese model. Volgens mnr. Karl-Heinz Göbel, die uitvoerende hoof van JAC Motors Suid-Afrika, versker die netwerk van sestig handelaars in Suid-Afrika, Namibië en Swaziland dat onderdele maklik bekombaar is en dat voornemende kopers goeie naverkoopdiens geniet.  Hy beskryf die N-reeks as bekostigbaar, veilig en betroubaar.

Meer as drie miljoen eenhede van die drie-tonmodel is reeds wêreldwyd verkoop. Hierdie model is gewild onder stedelike vervoer-operateurs en die logistieke bedryf. Die kort asafstand maak die drie-tonmodel makliker om te hanteer, wat hom uiters geskik maak vir aanwending vir klein konstruksiepersele en stedelike aflewerings. Die redes vir hierdie model se gewildheid is dat hy maklik is om te hanteer en betroubaarheid, goeie brandstofverbruik en lae loopkostes bied. Hierdie model word aangedryf deur ‘n turbo-aangejaagde 2,8 liter dieselenjin wat 80 kW teen 3 600 opm opwek en ‘n wringkrag van 240 Nm tussen 1 800 en 2 000 opm bied. Dié enjin, wat aan Euro 2-vereistes voldoen, word aan ‘n vyfgang-handratkas gekoppel, terwyl ‘n uitlaatremstelsel   gebruik word om maksimum rem-doeltreffendheid te verseker.

Volgens die vervaardiger is die gemiddelde brandstofverbruik 10 liter per 100 km. 

Die ses-tonmodel word deur ‘n vier silinder Cummins ISF 3,8 liter turbo-dieselenjin aangedryf. Hierdie enjin lewer 115 kW teen 2 600 opm en het ‘n wringkrag van 500 Nm tussen 1 200 en 1900 opm en word aan ‘n sesgang-handratkas gekoppel. Volgens die vervaardiger is sy gemiddelde brandstofverbruik  9,5 liter per 100 km. Soos met die drie-tonmodel is ‘n uitlaatremstelsel standaard toerusting. Hierdie model kan ‘n loonvrag van 5 200 kg dra en is veral gemik op die landbou-, koerier- en konstruksiesektore. 

Die groot nuus is egter die N-reeks EV; ‘n elektriese model wat deur ‘n kragbron met ‘n 96,77 kWh-battery aangedryf word. Met ‘n vol gelaaide battery het die EV ‘n reikafstand van 200 km. Dit duur ‘n uur en ‘n half om die battery tot by 80% van sy kapasiteit te laai en twee ure om dit tot by 100% te laai.  In vergelyking met dieselvragmotors bied die elektriese model ‘n besparing van 50% op energiekostes, terwyl algehele loopkoste 30% goedkoper is. Die elektriese model beskik oor ‘n enkelgang-outomatiese ratkas en ABS-remme is standaard toerusting. Die EV, met ‘n loonvrag van 2,5 ton, is reeds sedert 2019 op die mark, en  volgens mnr. Göbel is dit ‘n uiters veelsydige model wat aan die behoeftes van verskeie sektore kan voldoen.  Hy sê ook dat die lae loopkostes, veiligheid en betroubaarheid van die EV hom die ideale keuse vir hedendaagse logistieke ondernemings maak.

Dit is maklik om feitlik enige bak vir die N-reeks te monteer, veral as gevolg van die swaardiens-leerraamonderstel. Semi-elliptiese veelvuldige bladvere word voor gebruik en semi-elliptiese bladvere agter. 

Die binneruim bied oorgenoeg plek vir die bestuurder en twee passasiers , terwyl lugversorging en ‘n radio met ‘n USB-kragpunt standaardtoerusting is. Die drieton- en EV-modelle word ook toegerus met elektriese vensters en  ‘n hoogteverstelbare stuurkolom. Die EV word verder toegerus met ‘n voorbots-waarskuwing en ‘n klankstelsel met ‘n agtduim-raakskerm, Bluetooth en navigasie. Volgens Göbel moet die vragmotors oor gemaklike en goed toegeruste kajuite beskik.

Die pryse van die verskillende modelle lyk só:
3 ton onderstel en kajuit: R 291 218

3 ton valkat: R 304 261

6 ton onderstel en kajuit: R 452 087

6 ton valkant: R 469 479

Die prys van die EV-model is net op aanvraag beskikbaar.

Die reeks word gerugstreun deur ‘n waarborg van vyf jaar of 150 000 km. Die diensplan van die drietonmodelle is geldig vir vyf jaar of 60 000 km, en dié van die sestonmodelle vir twee jaar ongeag die kilometer-afstand.

%d bloggers like this: