Breaking News

JAC se T8 kry nuwe enjin

Die JAC T8, wat in 2019 internasionaal bekendgestel is, is die mees gevorderde bakkie in dié Chinese vervaardiger se geskiedenis van 58 jaar en het dié vervaardiger in staat gestel om al hoe meer op die internasionale mark mee te ding.

Nou is die T8 nog verder verbeter met die bekendstelling van die 2,0 L CTI, wat op die ontspanningsmark gemik is. Hierdie model sal net as ‘n dubbelkajuit beskikbaar wees en die keuse van ‘n 4×2 of 4×4 bied.  Die T8 was tot dusver die topverkoper in JAC se Suid-Afrikaanse reeks en volgens Karl-Heinz Göbel, die uitvoerende hoof van JAC Motors Suid-Afrika sal die nuwe enjin maak dat die T8 se markaandeel al hoe meer sal groei.

Die nuwe dieselenin met ‘n turboaanjaer en ‘n tussenverkoeler lewer 104 kW teen 3 600 opm en wrinkgrag van 320 Nm teen tussen 1 600 en 2 600 opm. Hierdie enjin word aan ‘n sesgang-handratkas gekoppel. Volgens die vervaardiger is die gemiddelde brandstof-verbruik 8,7 liter per 100 km, wat ‘n reikafstand van 900 km met die 76 liter brandstoftenk moontlik maak.

Die vooraansig van die T8 bestaan uit ‘n groot seshoekige sierrooster met xenon-kopligte en lidgide-dagryligte, asook ‘n groot JAC-kenteken.  Daar is ook voorste misligte wat by die voorstamper geïntegreer is.  Aan die kant is daar swart wielboë, kanttrappies asook ‘n rolstaaf. Die ontwerp van die 18-duim allooiwiele , wat 265/60R 18-bande bevat, is deur ‘n blom geïnspireer. Aan die agterkant is daar kenmerkende dubbele C-ligdiode-agterligte. 

Aangesien veiligheid uiters belangrik vir JAC is, is verskeie veiligheidskenmerke standaard toerusting, soos twee lugsakke, ABS-remme, vastrapbeheer, stabiliteitsbeheer, ‘n banddrukmonitor en wegtrekhulp. 

Aan die binnekant is daar ‘n veelfunksiestuurwiel, ‘n verstelbare stuurkolom, spoedbeheer, lugversorging, leerbekleedsel en elektriese vensters. Die negeduim-raakskerm bevat Bluetooth, Android Auto en Apple Car Play-verbinding, asook ‘n trukamera. Daar is ook ‘n USB-kragpunt en ‘n 12 volt-kragpunt in ‘n kompartement in die middelkonsole wat toegemaak kan word.

Die T8 beskik oor ‘n onafhanklike voorste veerstelsel met dubbele wensbene  en kronkelvere wat hantering en rygerief verbeter. Dit kan ook bakrol teenwerk, veral wanneer die voertuig gelaai is, of in moeilike veldrytoestande. Die T8 se draaisirkel is 6,2 meter, wat dit makliker maak om die voertuig in die stad en die veld te bestuur, en sy sleepkapasiteit is twee ton.

Die 4×4 beskik oor ‘n Borg Warner-oordraratkas en die bestuurder kan teen snelhede van tot 80 km/h tussen 4×2 en 4×4 beweeg. Dit sluit 4×4 hoë- en laestrekfunksies in; die laestrekfunksie word vir moeilike veldrytoestande gebruik. Die 4×4 beskik ook oor ‘n elektronies beheerde  ewenaarslot.

JAC het in 2017 tot die Suid-Afrikaanse mark toegetree en sedertdien het die handelaarsnetwerk tot by sestig gegroei, nie net in Suid-Afrika nie maar ook in buurlande.

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 150 000 km en ‘n diensplan van vyf jaar of 60 000 km insluit, is R 412 400 vir die 4×2 en R 462 400 vir die 4×4.

%d bloggers like this: