Breaking News

JAC X200 gewild onder sakelui

JAC Motors is tans besig om hom in Suid-Afrika as vervaardiger van ligte en middeslag-handelsvoertuie te vestig, en die X 200 het reeds aanklank by klein sake-ondernemings gevind.

Die X 200 is ‘n 1,5 ton ligte vragmotor wat beskikbaar is met ‘n onderstel en kajuit, ‘n valkantbak, ‘n wipbak  of ‘n dubbelkajuit. Laasgenoemde model kan ses insittendes vervoer, en is bekendgestel omdat dit onwettig is om mense agter op ‘n bakkie of vragmotor se laairum in stedelike omstandighede te vervoer. Die hele reeks word aangedryf deur ‘n 2,8 liter turbo-diesel enjin wat 80 kW teen 3 600 opm en wringkrag van 240 Nm teen tussen 1 800 en 2 800 opm lewer. Hierdie enjin, wat aan ‘n vyfgang-handratkas gekoppel word, is onder die voorsitplekke geleë.

Veral ondernemings soos maatskappye wat verversing-soerusting verhuur, koerierdienste, loodgieters, elektrisiëns, tuindienste, maatskappye wat vragmotors verhuur en baie ander klein ondernemings is deel van die teikenmark. Volgens Karl-Heinz Göbel, die uitvoerende hoof van JAC Motors Suid-Afrika, is die X 200 ‘n bekostigbare voertuig wat sy mededingers op die gebied van gerief, verkverrigting, dravermoë en waarde vir geld uitstof. Die X 200 bied ‘n voorstuurbeheer-ontwerp  met ‘n plat laairuim en kompakte afmetings. Die valkante maak dit maklik om vragte op en af te laai. Verder word die X 200 toegerus met ‘n leerraam-onderstel soos dié van die  maatskappy se groter N-reeks vragmotors. Die X 200  se laairuim is 2,8 meter lank en kan 1,3 ton en 1,5 ton in die geval van die dubbel- en enkel-kajuit modelle onderskeidelik dra. 

Die X 200 se voorstuurbeheer maak ‘n verhoogde bestuursposisie moontlik; dit beteken ook dat die bestuurder se uitsig na alle kante toe beter is en die bestuurder kan ook makliker parkeer by plekke waar vragte op- en afgelaai word. Die binnekant word toegerus met lugversorging, materiaalsitplekke, ‘n radio/CD/MP3-klankstelsel met twee luidsprekers in die deure en ‘n middelste sitplekrugleuning wat platgevou kan word om bêreplek vir los goedere te skep. Die X 200 word toegerus met 15 duim staalwiele met volle wieldoppe en 195/70 R 15 C tienlaagbande.

Verskeie bykomstighede , soos ‘n bosbreker, ‘n trekstang en verskillende tipes kappies is deur die groeiende handelaars-netwerk beskikbaar. 

Só lyk die pryse van die X 200-reeks, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 100 000 km insluit:

X 200 onderstel en kajuit: R 284 900
X 200 met valkante: R 294 900
X 200 met wipbak: R 324 900
X 200 dubbelkajuit: R 304 900

%d bloggers like this: