Breaking News

JAC verstewig in Suid-Afrika

 

JAC motors het in 2017 tot die Suid-Afrikaanse mark toegetree en ten spyte van die afname in motorverkope agv die belemmerings van COVID 19, het sy markaandeel van 2,8% in 2019 na 21,9% in 2020 gegroei.

Volgens mnr. Karl-Heinz Göbel, die uitvoerende hoof van JAC Motors Suid-Afrika, was die vestiging en uitbreiding van JAC in Suid-Afrika uiters bevredigend, en die resultate tot dusver het sy verwagtinge ver oortref.  JAC het pas sy N 55 EV-elektriese vragmotor internasionaal bekendgestel en hierdie nuweling word toegerus met die jongste elektriese tegnologie, wat dit, volgens die vervaardiger, ideaal vir logistieke ondernemings maak.

JAC het sy plaaslike debuut in Julie 2017 gemaak; daar was destyds net tien handelaars wat gemiddeld 15 eenhede per maand verkoop het, maar sedertdien het dit na 52 handelaars gegroei, met 15 wat op die maatskappy se medium- en swaar handelsvoertuie konsentreer. Göbel sê die uitbreiding van die handelaarsnetwerk en die verbetering van naverkoopdiens is vir die maatskappy ‘n prioriteit  en alle JAC-voertuie word daarom deur ‘n waarborg van vyf jaar of 150 000 km gerugsteun.  Die uitbreiding van die handelaarsnetwerk en die reeks het gemaak dat verkope die afgelope drie en ‘n half jaar drievoudig vermeerder het.

Net voordat die COVID 19-inperkings in werking getree het, het JAC sy T8-dubbelkajuitbakkie as vlagskip van sy reeks bekendgestel. Die T8, wat in 4×2- en 4×4-modelle beskikbaar is, word aangedryf deur ‘n turbodieselenjin van 1,9 liter met ‘n sesgang-handratkas wat 100 kW en 320 Nm lewer en ding mee in die prysklas van tussen R 380 000 en R 435 000.  Die T8 is ‘n produk van JAC Motors se internasionale ontwerpsentra in Italië en Japan en spog met moderne stilering en ‘n goeie spesifikasievlak. Göbel beskou die T8 as ‘n uitsonderlike mededinger in die segment vir ontspanningsvoertuie. Die T6 Comfort-dubbelkajuit se prys is R 324 900, en word ook deur dieselfde turbodieselenjin aangedryf. Die T6 Lux  se 2,8 liter turbodieselenjin lewer 88 kW teen 3 600 opm en het ‘n wringkrag van 250 Nm  tussen 1 800 en 2 000 opm, en sy prys is R 349 900.

JAC se reeks vragmotors begin met die X 200, met ‘n loonvrag van meer as ‘n ton en ‘n keuse van ‘n enkelkajuit vir klein sakeondernemings of boere, of ‘n dubbelkajuit wat personeel veilig na en van werksomgewings soos boupersele kan vervoer. Vir diegene wat dit nodig het, is ‘n wipbak ook beskikbaar.  Albei modelle word aangedryf deur ‘n 2,8 liter turbo-dieselenjin wat 88 kW teen 3 600 opm en ‘n wringkrag van 250 Nm tussen 1 800 en 2 000 opm lewer.

Die JAC N56-3360 medium vragmotor.

Die N-reeks vragmotors is beskikbaar in verskillende modelle wat tussen drie en ses ton kan dra. Die drieton-model se enjin is dieselfde as dié van die X 200, maar die seston-model word met ‘n 3,8 liter Cummins-turbodieselenjin toegerus. Hierdie enjin lewer 115 kW teen 2 600 opm en wringkrag van 500 Nm teen tussen 1 200 en 1 900 opm.  Die prys van hierdie model, sonder ‘n laaibak, is net minder as R 500 000. Die drieton-model word deur dieselfde vyfjaarwaarborg asook ‘n diensplan van drie jaar gerugsteun, en die seston-model deur ‘n waarborg van twee jaar ongeag die voertuig se kilometerafstand.

Volgens Göbel is die maatskappy goed toegerus om in die behoeftes te voorsien van diegene wat voertuie vir werks- of ontspanningsdoeleindes nodig het en hy is daartoe verbind om die beste naverkoopdiens moontlik aan sy klante te bied. Hy sê verder dat die reaksie van die media op JAC se produkte tot dusver uiters gunstig was.

 

 

%d bloggers like this: