Jaguar F-Pace SVR

0 Comments

Tydens die Simola Hillclimb wat in Mei 2019 in Knysna gehou is, het Jaguar Land Rover die vlagskip van die Jaguar F-Pace-reeks bekendgestel.

Mert die toevoeging van die SVR het die F-Pace die eerste motor sedert die Ford Capri in die vroeë 1970’s geword wat in Suid-Afrika met vier-, ses- en agt-silinder enjins beskikbaar is.  Die SVR se druk-aangejaagde vyfliter-V8-enjin lewer 405 kW teen 6 500 opm en 680 Nm teen 3 000 opm. 

Die SVR se uitlaat-stelsel is geïnspireer deur dié van die F-Type sportmotor; die gevorderde Vairable Valva Active-stelsel is 6,6 kg ligter as ‘n gewone stelsel en sorg vir verhoogde uitlaat-vloei. Die outomatiese agtgang-ratkasis spesiaal vir die SVR aangepas en  die opgenkapte veerstelsel verbeter sy padhou-vermoë aansienlik en maak hom ‘n uiters geskikte motor vir ‘n geesdriftige. Die voorste en agterste veerstelsel is onderskeidelik 30% en 10% stywer en bevat ‘n teenkantel-staaf wat bakrol met 5% verminder.

Die 21-duim allooi-wiele, asook die 22-duim wiele wat teen ekstra koste beskikbaar is, is spesifiek vifr die SVR ontwikkel; die agterwiele is 25 mm breër as die voorwiele; dit verbeter die SVR se hantering. Die opsionele 22-duim wiele is voor en agter onderskeidelik 2,4 en 1,7 kg ligter en ontwerp om lugvloei na die voorste en agterste skyfremme, wat onderskeidelik 395 en 396 mm groot is, te verbeter. 

Daar is groter luguitlate in die voorstamper en luguitlate agter die voorste modderskerms wat onder meer verkoeling, asook stabiliteit teen hoë snelhede, verbeter.  Die SVR se unieke enjinkap bevat dubbele luguitlate om enjin-verkoeling verder te verbeter. Daarby is die modder-skerms vergroot en skermstroke onder aan die bakwerk om die SVR ‘n meer gespierde voorkoms te gee. Aan die agterkant is daar ‘n unieke drukvlerk en die agterstamper bevat vier uitlaatpype. 

Die SVR trek voordeel uit Jaguar Land Rover se jarelange ervaring met vierwiel-aandrywing en beskik oor ‘n aandryf-stelsel met verskillende bestuurs-modusse wat verseker dat hy alle weersom-standighede en bestuurs-toestande kan baasraak. Die stabiliteits-beheer is byvoorbeeld aangepas om die SVR se bykomende werkverrigting te hanteer; enjinkrag en remvermoë na afsonderlike wiele word só beheer dat die bestuurder sy of haar gekose lyn kan handhaaf wanneer daar om ‘n draai bestuur word. Die elektroniese kragstuur-stelsel bevat onder meer ‘n “Dynamic”-modus wat die stuurstelsel effens swaarder maak en reaksie verbeter.

Aan die binnekant is daar ‘n sport-stuurwiel met die SVR-kenteken en ratspane warmee ratte met die hand en sonder ‘n koppelaar gewissel kan word. Die SVR boet niks van sy stalmaats se praktiese eienskappe in nie; daar is steeds 650 liter bagasieruimte met al die sitplekke regop. Die 4G Wi Fi-verbinding gee internet-toegang vir altesaam agt toestelle, terwyl die Touch Pro-raakskerm van tien duim en die hoëdefinisie-instrumentepaneel van twaalf duim ook vir die SVR gebruik word.

Voornemende kopers het ‘n keuse van sewe bakkleure terwyl daar vier kleure vir die binneruim beskikbaar is.

Die F-Pace SVR se prys is R 1 530 728; dit sluit ‘n volle onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000km in.

Categories:
%d bloggers like this: