Jaguar F-Type vir 2020 vernuwe

0 Comments

Die Jaguar F-Type gaan in 2020 ‘n aantal belangrike detail-veranderinge ondergaan en soos in die verlede sal vier-, ses- en agt-silinder enjins beskikbaar wees.

Die F-Type-reeks sal bestaan uit die R-Dynamic-koepee en afslaankap met die keuse van ‘n turbo-aangejaagde twee-liter enjin met vier silinders wat 221 kW lewer, of ‘n drie-liter V6 wat 280 kW lewer, die R-koepee en afslaankap met ‘n vyfliter V8-enjin wat 423 kW lewer en ‘n beperkte First Edition-koepee en afslaankap met die V6-enjin.  Hierdie kragbronne word aan ‘n Quickshift-ratkas met agt gange en ratspane agter die stuurwiel vir vinnige ratwisseling sonder ‘n koppelaar, gekoppel. Die R-modelle het vierwiel-aandrywing as standaard toerusting.

Die nuwe F-Type sal binne toegerus word met tegnologie wat daarop gemik is om die lewe so maklik as moontlik vir die bestuurder te maak, onder meer ‘n TFT-instrumente-paneel van 12,3 duim wat volgens behoefte verander kan word, ‘n Touch Pro-inligting-en-vermaakstelsel met die vermoë omm programmatuur by te werk sonder dat ‘n handelaar besoek hoef te word, asook Android Auto en Apple Car Play. 

Die bekroonde stilering van die F-Type het net geringe veranderinge ondergaan; daar is nou besonder dun kopligte met ligdiode-tegnologie, J-vormige dagryligte en rigtingwysers wat met die omkrul-enjinkap geïntegreer is.  Die sierrooster is effens groter en die voorstamper is herontwerp. Daar is ook nuwe agterligte wat geïnspireer is deur dié wat vir die elektriese i-Pace gebruik word. 

Vir die eerste jaar sal ‘n First Edition beskikbaar wees. Hierdie model, met die V6-enjin, sal beskik oor ‘n buitestileringspakket in Dorchester-grys, en twintigduim-allooi-wiele met vyf speke in Gloss Techincal Grey. Die First Edition sal beskikbaar wees in swart, wit of grys.

Die nuwe F-Type sal gedurende 2020 in Suid-Afrika bekendgestel word, en die pryse van die nuwe modelle sal later bekend gemaak word.

 

Categories:
%d bloggers like this: