Die jongste weergawe van die nuwe geslag Jeep Grand Cherokee is by die pas afgelope Detroit-motorskou in die Verenigde State van Amerika bekendgestel en benewens nuwe stileringskenmerke is ‘n bykomende enjinkeuse ook beskikbaar.

Die nuwe enjin is ‘n turbo-aangejaagde viersilinderenjin van twee liter wat die bestaande enjins van 2,4 en 3,2 liter sal aanvul. Hoewel presiese syfers nog nie bekendgemaak is, nie, word daar reeds gesê dat dié enjin, wat met stop-en-rytegnologietoegerus is, tegnologies uiters gevorderd sal wees. Die bestaande outomatiese ratkas met nege gange, wat reeds saam met die ander enjins gebruik word, sal ook vir hierdie enjin beskikbar wees.

Die aanvanklike weergawe van die nuwe Cherokee het onder heelwat kritiek deurgeloop omdat sy buitestilering nie by almal byval gevind het nie. Die nuwe model het heelwat herontwerpte bakpanele onder meer ‘n nuwe enjinkap, nuwe kopligte wat LED-dagryligte insluit, asook nuwe misligte. Die nuwe binnekant bevat panele in satynchroom of klavierswart en nuwe Uconnect-inligting-en-vermaakstelsels is versoenbaar met Android Auto en Apple Car Play.

Die Cherokee bied  drie vierwielaandrywingstelsels, naamlik Jeep Active I, Jeep Active Drive II en Jeep Active Drive Lock, wat daarop gemik is om ongeëwenaarde veldryvermoë onder alle weerstoestande te bied. Daar is ook die keuse van voorwielaandrywing vir maksimum brandstofdoeltreffendheid.

Die nuwe Cherokee sal later in 2018 hier bekendgestel word.

%d bloggers like this: