JMC se Carrying ideaal vir klein ondernemings

0 Comments

In die verlede was vragmotors groot, swaar en moeilik om te bestuur.

JMC het egter nou vorendag gekom met ‘n intreevlak-vragmotor wat met ‘n gewone kode 8-rybewys bestuur kan word en wat deur enigiemand baasgeraak kan word.

Die JMC Carrying SWB 1,6 ton Dropside beskik oor valkante en ‘n plat laaibak sonder wielboë wat ruimte in beslag neem, en kan as ‘n alternatief vir ‘n bakkie beskou word. Daar is twee spesifikasie-vlakke, naamlik die standaard model en die Lux; die verskil is dat laas genoemde lug-versorging en elektriese vensters as standaard-toerusting het. Daar is ook ‘n paneelwa- of wipbak vir dié model beskikbaar. Die Carrying-reeks bestaan ook uit ook modelle met ‘n lang asafstand , naamlik ‘n enkel- en dubbelkajuit en ‘n model met ‘n paneelwabak wat ‘n loonvrag van 2,8 ton kan dra, maar ‘n kode 10-rybewys is nodig om hulle te bestuur.

Die hele Carrying-reeks word aangedryf deur ‘n turbo diesel-enjin met vier silinders en ‘n kapasiteit van 2,8 liter. Hierdie enjin, wat aan ‘n vyfgang-handratkas gekoppel word, lewer 84 kW teen 3 600 opm en wringkrag van 235 Nm teen 2 300 opm.

Die Carrying SWB se laaiarea is 3,3 meter lank en kan onder meer ‘n volgrootte lessenaar, ‘n koningingrootte bed en groot muureenhede tegelyk dra terwyl valkante dit makliker maak om alles op- en af te laai.

Die JMC Carrying SWB 1,6 ton Dropside se prys, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 150 000km, padbystand van vier jaar en ‘n diensplan van drie jaar of 90 000km insluit, is R 233 880.

Categories:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: