Jongste voertuigverkope: Te min handelsvoertuie vir vraag

0 Comments

… maar kyk uit vir spesiale aanbiedinge.

Die verkope van nuwe handelsvoertuie is die afgelope tyd nadelig geraak deur ernstige tekorte aan voorraad, met veral belangrike modelle wat uiters skaars geword het.

Die gevolg is dat verkope met altesaam 22,6% afgeneem het. Volgens mnr Mark Dommisse, die voorsitter van die Nasionale Motorhandelaarsvereniging (NADA), oorskry die vraag die aanbod en hoewel dit nie die ideale situasie is nie, is dit beter as wat dit andersom sou wees.

Mnr. Mark Dommisse, die voorsitter van die Nasionale Motorhandelaarsvereniging (NADA).

Dommisse het egter opgemerk dat aan die positiewe kant is daar, met die naderende vakansieseisoen, besonder goeie spesiale aanbiedinge by handelaars beskikbaar. Noudat rentekoerse so laag is, moet voornemende kopers van die geleentheid gebruik maak om voertuie te koop, indien hulle dit kan bekostig.

Volgens hom is daar ‘n toenemende vraag na gebruikte motors, maar om genoeg voorraad van goeie gehalte te kry, is ‘n probleem.  Dit is vererger deur ‘n beperkte aantal voertuie wat van motorhuurmaatskappye af kom, aangesien hulle hul vlote verminder het soos wat die vraag na huurvoertuie afgeneem het. Die gevolg is dat dié maatskappye hul vlote verklein het.

Die Nasionale Vereniging van Motorvervaardigers van Suid-Afrika (NAAMSA) het intussen bekendgemaak dat altesaam 38 752 nuwe voertuie in Oktober vanjaar verkoop is; ‘n afname van 25,4%  teenoor 51 968 eenhede in dieselfde maand verlede jaar. Die prentjie vir die eerste tien maande vanjaar lyk nog donkerder, met altesaam 196 664 eenhede wat in hierdie tyd verkoop is. Dit is ‘n afname van 32,5 vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar.

Categories:
%d bloggers like this: