Breaking News

Kia gee Sonet meer skop

Sedert sy aanvanklike bekendstelling in Suid-Afrika net meer as ‘n jaar gelede is ongeveer 3 500 eenhede van Kia se Sonet verkoop, en nou is twee kragtiger modelle by die reeks gevoeg.

Die probleme wat die maatskappy met voorraad gehad het, het die bekendstelling van ‘n meer uitgebreide reeks aanvanklik gekelder, maar noudat die omstandigede besig is om te normaliseer, is die langverwagte turboaangejaagde modelle eindelik by die reeks gevoeg.

Die nuwe Sonet 1,0 T-GDI, wat in twee spesifikasievlakke beskikbaar sal wees, word aangedryf deur ‘n turbo-aangejaagde eenliterenjin wat 88 kW teen 6 000 opm lewer, asook wringkrag van 172 Nmtussen 1 500 een 4 000 opm. Net een ratkas is beskikbaar, naamlik ‘n dubbelkoppelaar (DCT)-ratkas met sewe gange. 

Daar is twee spesifikasievlakke beskikbaar, naamlik die EX en EX+. Die EX word met die volgende standaard kenmerke toegerus: ‘n agtdium hoë-definisieraakskerm met Bluetooth, Android Auto, Apple Car Play en stembeheer, ‘n stuurwiel en ratkieser wat met leer oorgetrek is, ‘n trukamera een parkeersensors, stabiliteitsbeheer, wegtrekhulp, ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding, twee voorste lugsakke, 16-duim allooiwiele en outomatiese kopligte.

Die EX+ word die nuwe vlagskip van die Sonet-reeks en voeg die volgende kenmerke by: kant-een-gordynlugsakke, ligdiode-agterligte, ‘n 4,2 duim TFT Supervision-instrumentepaneel, kunsleersitplekke met rooi stikwerk, invoubare buitespieëls, ‘n elektrochromatiese truspieël binne, spoedbeheer, outomatiese klimaatbeheer en ‘n keuse tussen verskillende bestuursmodusse.

Die pryse van die Sonet-reeks, wat ‘n waarborg en padbystand van vyf jaar ongeg die motor se kilometerlesing en ‘n diensplan van vier jaar of 60 000 km insluit, lyk só:

Sonet 1.5 LX R296,995
Sonet 1.5 LX CVT R317,995
Sonet 1.5  EX R316,995
Sonet 1.5 EX CVT R337,995
Sonet 1.0 T-GDI EX 7DCT R359,995
Sonet 1.0 T-GDI EX+ 7DCT R389,995


              

 

                

 

 

 

 

%d bloggers like this: