Breaking News

Kia Picanto-reeks opgeknap

Plus ‘n topmodel, die X-Line, bygevoeg.

 

Kia het pas ‘n aantal klein veranderinge ondergaan en ‘n nuwe vlagskip is by die reeks gevoeg.

Die X-Line vervang die Smart, wat voorheen die topmodel van die reeks was, maar is meganies presies dieselfde, met die keuse van ‘n hand- of outomatiese ratkas en dieselfde 1,2 liter-enjin wat ook in ander modelle gebruik word. Die X-Line het egter ‘n aantal kenmerke wat hom van die Smart, maar ook sy mindere stalmaats, te onderskei.

Aan die buitekant is daar daar ‘n nuwe weergawe van Kia se kenmerkende sierrooster met ‘n meer aggressiewe voorkoms en ligdiode-kopligte. Skermstroke soos wat ‘n mens op ‘n oorkruisvoertuig sou verwag, is standaardtoerusting, asook 15-duim allooiwiele en swart wielboë.  Aan die agterkant is ‘n herontwerpte agterstamper met ‘n nagemaakte skermplaat  en volle ligdiode-agterligte. Daar is altesaam tien kleure om van te kies, onder meer Astro-grys, en ‘n sondak is op spesiale bestelling beskikbaar.

Aangesien die X-Line die nuwe vlagskip van die reeks is, verwag ‘n mens ‘n hoë vlak van afwerking en die X-Line stel nie teleur nie. Die meeste geriefsitems waaraan ‘n mens kan dink, is standaardtoerusting in hierdie model.

Die bestuurder se gesigsveld binne die X-Line.

In die middel van die paneelbord is ‘n agtduim-raakskerm , wat onder meer ‘n trukamera insluit en die gebruiker in staat te stel om sy of haar selfoon op Apple Car Play of Android Auto in te stel.

Benewens die bekendstelling van die X-Line het Kia ook veranderinge aan die res van die Picanto-reeks aangekondig. Die intreemodel, die Start, spog nou met ‘n verstelbare stuurkolom, ‘n radio met RDS en MP3-vermoëns, AUX en USB-kragpunte, handbeheerde lugversorging, Bluetooth-verbinding en twee luidsprekers. Staalwiele van 13 duim met volle wieldoppe is standaardtoerusting. Die volgende model is die Street, wat voortaan toegerus sal word met ‘n trukamera, asook Apple Car Play en Android Auto-verbinding. Die Style is die naas-luuksste vlak van afwerking en word toegerus met nuwe allooiwiele, outomatiese kopligte, elektriese buitespieëls wat ingevou kan word, asook ‘n stuurwiel en rathefboom wat met leer oorgetrek is.

Die hele reeks, behalwe die X-Line, is beskikbaar met ‘n eenliterenjin met drie silinders wat 49 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 95 Nm teen 3 750 opm lewer. Die Style en X-Line is ook beskikbaar met die ‘n 1,2 liter-viersilinderenjin wat 61 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 122 Nm teen 4 000 opm lewer. Daar is ‘n keuse tussen ‘n handratkas met vyf gange of ‘n outomatiese ratkas met vier gange.

Die pryse van die nuwe Picanto-reeks, wat ‘n waarborg van vyf jaar ongeag die motor se kilometer-afstand en ‘n diensplan van twee jaar of 30 000 km insluit, lyk só:

1,0 Start handrat: R 187 995
1,0 Start outomaties: R 201 995
1,0 Street handrat: R R 201 995
1,0 Street outomaties: R 215 995

1,0 Runner paneelwa: R 207 995
1,0 Style handrat: R 210 995
1,0 Style outomaties: R 225 995
1,2 Style handrat: R 220 995
1,2 Style outomaties: R 234 995

1,2 X-Line handrat: R 237 995
1,2 X-Line outomaties: R 251 995

%d bloggers like this: