Toe Kia in 1998 tot die Suid-Afrika toegetree het, was die Sportage die eerste model wat hier bekendgestel is.

Die jongste geslag van Kia se gewilde sportnutsvoertuig is net meer as twee jaar lank hier op die mark en die tyd het aangebreek om ‘n opgeknapte model, met ‘n hersaamgestelde reeks en ‘n paar belangrike veranderinge, aan te kondig.

Drie modelle wat in die vorige reeks gebruik is, is nie meer beskikbaar nie, naamlik die 1,7 turbodiesel, die 1,6 turbopetrol en die 2,4 . Dit beteken dat die meeste modelle nou met petrol- of turbodieselenjins van twee liter toegerus word, maar daar is ook ‘n intreemodel ‘n splinternuwe 1,6 liter GDI-petrolenjin. Daarby is die SX AWD en die GT Line-spesifikasievlakke aan die mark onttrek. Die nuwe intreemodel is die 1,6 GDI Ignite. Hoewel die Ignite-naam al geruime tyd vir die intreemodel van die Sportage-reeks gebruik word, is die nuwe model beter toegerus as voorheen. Onder sy standaardkenmerke is handbeheerde lugversorging, volg-my-en-lei-my-kopligte, elektriese buitespieëls met geïntegreerde rigtingwysers, ‘n armleuning in die middelkonsole met bêreplek vir los goedjies, ‘n radio met ses luidsprekers en Bluetooth-verbinding, elektriese vensters voor en agter en parkeersensors. Die Ignite kry egter ook ‘n aantal nuwe kenmerke, soos ‘n leeroorgetrekte veelfunksiestuurwiel, ‘n rathefboomknop wat ook met leer oorgetrek is, nuut ontwerpte allooiwiele met 215/70 R 16-bande, asook LED-dagryligte. Hierdie model is net met ‘n vyfgang-handratkas beskikbaar. Die 1,6 GDI (Gasoline Direct Injection)-enjin lewer 97 kW, asook wringkrag van 161 Nm teen 4 850 opm.

Die Ignite Plus-modelle is beskikbaar met die tweeliter-petrol- of turbodieselenjins. Die petrolenjin lewer 115 kW, asook wringkrag van 196 Nm teen 4 000 opm. Die syfers van die turbodieselenjin is onderskeidelik 131 kW en 400 Nm teen tussen 1 750 en 2 750 opm. Die Ignite Plus se bykomende kenmerke is wegvoubare buitespieëls, voorste misligte, ‘n elektrochromatiese truspieël aan die binnekant en allooiwiele met 225/60R 17-bande. Die petrolmodelle is met ‘n keuse van ‘n hand-of outomatiese ratkas, elk met ses gange, beskikbaar, terwyl ‘n nuwe outomatiese ratkas met agt gange standaardtoerusting vir die dieselmodel is.

Die volgende spesifikasievlak is die EX, wat ook met albei tweeliterenjins beskikbaar is. Die petrolmodel het die outomatiese sesgangratkas as standaardtoerusting terwyl die twee dieselmodelle, waaronder die enigste vierwielaangedrewe model, die outomatiese agtgangratkas gebruik. Die allooiwiele van die EX is dieselfde grootte as dié van die Ignite Plus, maar onder sy bykomende kenmerke is voorste parkeersensors, outomatiese ruitveërs, ‘n elektriese parkeerrem met wegtrekhulp, Bluetooth-verbinding wat stembeheer insluit, outomatiese lugversorging, ‘n seweduim-kleurraakskerm met ‘n trukamera, Apple Car Play en Android Auto, leerbekleedsel en elektries verstelbare voorsitplekke. Die AWD (vierwielaangedrewe) model het 19 -duim allooiwiele met 245/45 R 19-bande.

Die vlagskip van die Sportage-reeks is die EX Plus, wat ook met die petrol- en turbodieselenjins beskikbaar is. Die EX Plus gebruik dieselfde 19-duim allooiwiele as die EX AWD, maar voeg nog ‘n paar kenmerke by, soos ‘n panoramiese sondak, ‘n agtduimskerm met satellietnavigasie, ‘n USB- kragpunt vir die agterste insittendes en ‘n koordlose selfoonlaaier.

Die hele Sportage-reeks beskik oor ‘n volledige reeks veiligheidskenmerke, soos ABS-remme met elektroniese remverspreiding, ses lugsakke, ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke, elektroniese stabiliteitsbeheer, wegtrekhulp en afdraandebeheer.

 

Die Sportage-reeks word gerugsteun deur ‘n waarborg van vyf jaar ongeag die motor se kilometerafstand, padbystand van vyf jaar en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km. Die pryse van die Sportage-reeks lyk soos volg:

1,6 GDI Ignite: R 379 995
2,0 Ignite Plus (6-gang handrat): R 389 995
2,0 Ignite Plus (6-gang outomaties): R 403 995
2,0 CRDI Ignite Plus (8-gang outomaties): R 453 995
2,0 EX (6-gang outomaties): R 459 995
2,0 CRDI EX (8-gang outomaties): R 509 995
2,0 CRDI EX AWD (8-gang outomaties) : R 536 995
2,0 EX Plus (6-gang outomaties): R 499 995
2,0 CRDI EX Plus (8 gang outomaties): R 549 995
Die nuwe Sportage-reeks is nou by Kia-handelaars landwyd beskikbaar.

dav

%d bloggers like this: