Kia se nuwe Picanto later vanjaar hier

0 Comments

Prima spesifikasies vir gewilde kompakte motor.

Kia het pas ‘n aantal groot veranderinge vir sy Picanto aangekondig, en die nuwe model sal later vanjaar in Suid-Afrika beskikbaar wees.

Nie net sal die nuwe modelreeks met tegnologiese- en veiligheidskenmerke wat gewoonlik net op groter motors voorkom, toegerus word nie, maar ‘n nuwe geoutomatiseerder handratkas (AMT) sal ook opsioneel beskikbaar wees.

Die buitekant bevat nuwe stileringskenmerke, veral vir die X-Line en GT-Line-modelle, wat nie op die oomblik hier beskikbaar is nie, maar vir plaaslike bekendstelling oorweeg word.  Daar is nuut ontwerpte kopligte aan weerskante van die kenmerkende sierrooster, en ‘n nuwe kenmerk is ‘n strook in rooi vir die GT-Line en chroom vir die X-Line aan die onderkant van die rooster. Daar is ook ‘n nuut ontwerpte voorstamper met ‘n groot onderste sierrooster wat misligte vir die GT-Line bevat.  Die GT-Line se ontwerprigting skakel in by dié van Kia se ander sportiewe modelle terwyl die X-Line se ontwerp aan dié van ‘n sportnutsvoertuig herinner. Die X-Line se stamper bevat silwer skermplate met die X-Line kenteken. Vir die oorsese mark is daar tien kleure beskikbaar, asook twee nuwe wielontwerpe; naamlik 14-duim allooiwiele met sestien speke en diamantsnit-wiele van 16 duim in twee kleure.

Aan die binnekant is daar ‘n nuwe skerm van agt duim terwyl die instrumentepaneel ‘n hoëresolusie-uitleespaneel van 4,2 duim bevat.  Dit sal ook moontlik wees om twee toestelle deur middel van Bluetooth te koppel; een vir ‘n handvrye telefoon en media en een net vir media. Appler Car Play en Android Auto is standaardtoerusting.  Daar sal ook ‘n oudiovisuele navigasiestelsel opsioneel beskikbaar wees. Kia se nuwe UVO-toepassing, wat met Android en Apple-selfone werk, sal inligting soos die ligging van die voertuig, besonderhede van parkeerplek, weervoorspellings en plekke van belang gee.  Afhangende van die spesifikasievlak en mark, sal die nuwe Picanto beskikbaar wees met swart materiaal- of sintetiese leerbekleedsel wat die binnekant deftiger laat lyk en voel. Die kajuit het swart, silwer of glansswart afwerking in die deure, die paneelbord en rondom die rathefboom. Daar is ook ‘n paar byderwetse pakkette waaruit voornemende kopers kan kies, anfhangende van die spesifikasievlak en mark. Die Lime Pack bevat ‘n swart binnekant met kontrasterende lemmetjiegroen stikwerk, silwer omhulsels vir die rathefroom en die luguitlate en silwer en lemmetjiegroen panele . Die Orange Pack bevat ‘n swart binnekant met oranje stikwerk en afwerking, terwyl die Red Pack ook rooi kussings op die sitplekke bevat. Laastens is daar ‘n Green Pack, met silwer en groen afwerking op die deure en bekleedsel met ‘n denim-voorkoms.

Drie enjins is vir die nuwe reeks beskikbaar. Benewens 1,0- en 1,2 liter enjins wat onderskeidelik 49 en 62 kW lewer, kan voornemende kopers ook die 1,0 T-GDI, met regstreekse inspuiting en ‘n turbo-aanjaer wat 74 kW lewer, kies. Laasgenoemde enjin beskik oor ‘n meer doeltreffende 350 bar brandstofinspuitingstelsel. Die AMT-ratkas is geskik vir diegene wat die gerief en gebruikersvriendelikheid van ‘n outomatiese ratkas verkies, maar nie die brandstofdoeltreffendheid van ‘n handratkas wil inboet nie. Dit is gebaseer op ‘n handratkas met vyf gange, maar die koppelaar en ratwisseling gebeur outomaties.

Die nuwe Picanto word toegerus met verskeie bestuurshulpmiddels wat hom veiliger as sy voorganger maak. Afhangende van die spesifikasievlak sluit dit kenmerke in  soos voorbotswaarskuwing wat voertgangers en fietsryers bespeur, ‘n blindekolmonitor, baanhouhulp, baanvolghulp en ‘n aandagwaarskuwingstelsel. Laasgenoemde stelsel maak gebruik van ‘n kamera wat vorentoe wys asook sensors wat strepe op die pad bespeur; dit beheer die motor se stuurstelsel deur dit in die middel van sy baan te hou. Daar is ook ‘n dwarsverkeerwaarskuwing agter wat die bestuurder waarsku en die motor tot stilstand bring as daar ‘n ander voertuig of hindernis agter bespeur word terwyl daar agteruit uit ‘n parkeerplek gery word. Die Picanto word verder toegerus met ‘n noodstopsein wat die noodflikkers dadelik aktiveer  en die agterste motor waarsku wanneer die motor vinnig tot stilstand kom. Verder word die motor toegerus met stabiliteitseheer in’n reguit lyn en om draaie, om bestuurders te help om die motor te beheer wanneer daar gerem of om draaie bestuur word. Altesaam sewe lugsakke, onder meer ‘n knielugsak, is beskikbaar en die agtersptilekke is met ISOFIX-hegpunte toegerus.

Dit is nog nie seker watter van hierdie kenmerke vir die Suid-Afrikaanse reeks, wat in die vierde kwartaal van die jaar bekendgestel word, beskikbaar sal wees nie. Die X-Line en GT-Line word vir Suid-Afrika oorweeg, maar verdere besonderhede oor die Suid-Afrikaanse reeks, onder meer die enjins en ratkaste en pryse, sal later bekendgemaak word.

Categories:
%d bloggers like this: